Buitelewe

Die Ry & Sleep-span se geskenkgids

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Foto's verskaf

Brando-mansbeursie

Noot vir noot

Hierdie beursie van egte leer is 'n gawe geskenk vir die man in jou lewe. Hy's dun sodat hy nie té opvallend lyk in Pa se broeksak nie, en hy's uitgevoer met kakiemateriaal.

Die beursie het agt kaartgleuwe en twee vakkies vir banknote, maar daar's geen toeknipvakkie vir muntstukke nie, nes dit mansbeursies betaam. Hy het wel 'n venstergleuf vir jou rybewys- of ID-kaart.

Die beursie is RFID-bestand, wat beteken niemand kan jou kredietkaart se mikroskyfie skandeer terwyl dit in die beursie is nie. Die beursie se afmetings is 11 x 8,5 x 0,9 cm.

Prys R699 by Outdoor Warehouse

Bushnell Powerview 2-10x25-verkyker

Kyk, daar's 'n gompou!

Goeie verkykers is nooit goedkoop nie, en hierdie een deur Bushnell is waarskynlik die beste wat jy vir R999 kan aanskaf. Die vergrotingsfaktor is 10x en die lensdeursnee 25 mm. Die 10x25-kombinasie is geskik vir wildkyk en tog is die verkyker kompak genoeg om in jou bosbakkie se paneelkissie te los.

Die verkyker is 11,4 cm lank en hy weeg slegs 255 g. Die fokuswiel draai akkuraat en die rubberhuls skep die vertroue dat die verkyker nie maklik uit jou hand sal glip en op die grond val nie.

Prys R999 by Cape Union Mart

Casio Illuminator-horlosie

Wolf, Wolf, hoe laat is dit?

Horlosies wat lyk of hulle uit die jare tagtig kom, is hoogmode en hierdie ouskoolse Casio is veral gewild onder tienerseuns. Hy's waterdig tot op 50 m, hy't 'n liggie, 1/100 sekonde-stophorlosie, 24 uur- én 12 uur-tydformaat, afteltydteller, meerfunksie-alarms wat gestel kan word om daagliks, weekliks of maandeliks af te gaan, en hy't 'n kalender.

Casio sê sy tydhou is akkuraat tot 30 sekondes per maand, die CR2016-battery behoort vir 7 jaar te hou onder normale gebruik, en teen 37 g weeg hy betreklik min.

Prys R799 by Outdoor Warehouse

Eetstel deur Tentco

Kerngesin

Hierdie eetstel is vir 'n gesin van vier en bestaan uit ovaalvormige borde, kleinbordjies, papborde, koffiebekers en glase. Al die items is gemaak van ABS-plastiek en dit word verpak in 'n deursigtige plastiekkrat. Die krat se afmetings is 52 x 40 x 23 cm.

Dis 'n gawe geskenk aan 'n jong paartjie wat onlangs met 'n gesin begin het en nou wil kamp. Of dalk wil jy die veteraaneetstel wat jy saam met jou 1970-Jurgens 500B gekry het, bewaar en eerder dié goedkoper een gebruik.

Prys R660 by Tentco

Dofit-aktiwiteitspoorder

Hokkiebokkie

Hier's nóg 'n horlosie, maar dié een is gewilder onder tienermeisies, veral diegene wat graag aan sport deelneem. Die horlosie wys nie net die tyd nie, maar kan met jou dogter se selfoon gesels en haar in kennis stel wanneer haar foon lui of 'n boodskap ontvang terwyl die foon op stil gestel en in 'n skooltas gebêre is.

Hy monitor hartklop, slaappatrone en treë. Sy kan hom ook stel om te onderskei tussen draf- en staptreë, asook vir fietsry. Sy batteryleeftyd is beperk tot sewe dae omdat hy soveel hoërgraad-funksies het, maar jy kry 'n USB-kabel by.

Prys R699 by Outdoor Warehouse

First Ascent-avontuurhoed

Koelkop

Hierdie hoed word gemaak van rekbare materiaal met 'n sonbrandfaktor van 30 en kan deur mans én vroue gedra word. Hy hou nie net jou kop koel in die somer nie, maar ook warm in die winter. Binnelangs is hy uitgevoer met maas en 'n sweetabsorberende binnerand.

Jy kan hom oprol sonder dat sy buiterand vorm verloor, en die verstelbare koord keer dat 'n sterk wind jou hoed skep. Die materiaal word vinnig droog en die hoed is dus geskik vir kajakry, hengel en ander aktiwiteite wat water behels.

Prys R349 by Outdoor Warehouse

Highlander-waterbottel

Skink my uit

Hierdie bottel word van vlekvrye staal gemaak, en volgens die vervaardiger sal hy jou drankie vir tot 24 uur koel hou. Hy het 'n volume van 500 ml en leeg weeg hy 300 g. Sy afmetings is 19 x 7 x 7 cm en die prop het 'n drahandvatsel. Die bottel is beskikbaar in verskillende kleure sodat elkeen weet wie se bottel wie s'n is.

Prys R289 by Camp & Climb

Gemakstoel deur Tentco

Middagslapie

Jy en jou reismaat kan gerus vir mekaar 'n gemakstoel koop, want julle het hard gewerk en verdien hierdie vakansie. Die stoel het 'n ingeboude kopkussing en is verstelbaar sodat jy regop kan sit of terugleun. Hy word gemaak van teslin-materiaal wat oor 'n staalraam gespan is.

Die afmetings is 110 cm lank en 50 cm breed, en Tentco sê hy kan 'n gewig van tot 130 kg dra. Die stoel weeg 7 kg en sy afmetings wanneer hy opgevou is, is 94 x 65 x 4 cm.

Prys R999 by Tentco

Honey Badger-jagmes

Slag uit

Honey Badger is 'n trots Suid-Afrikaanse maatskappy, en dié mes is ontwerp om wild in die veld uit te slag. Die lem is kort genoeg dat jy nie per ongeluk té diep sny nie en die klou op die rug help om 'n karkas voor te berei.

Prys R799 by Outdoor Warehouse

Jeep ster-t-hemp

Ouma se kind

Kinders wil nie klere vir Kersfees by hulle ouers kry nie, maar hulle aanvaar dit wel van hulle ouma en oupa. Jy hoef ook nie 'n Jeep te ry om vir jou kleinkind 'n Jeep-T-hemp te koop nie, want die handelsmerk is sinoniem met vakansies en die buitelewe.

Die T-hemp op die foto is 'n seunsnit en ons stel voor jy koop hom in kakie, want jong bulletjies bly maar altyd gek oor weermagdrag.

Prys R249 by Outdoor Warehouse

Kleresak deur Tentco

Op toer

Tentco is bekend vir sy tente en sakke wat van duursame doekmateriaal gemaak word. Die handelsmerk het 'n pragmatiese benadering tot kampgoed en hy vermy gewoonlik tierlantyntjies. Hierdie sportsak is egter aan die luukse kant en hy's deftig genoeg dat jy met hom kan glanskamp.

Hy't 'n ruim binnekant wat in twee gedeel is, asook twee buitesakke - een aan die voorkant wat toerits en een aan die sykant wat met klinknaels toedruk. Hy't drastroppe en 'n verstelbare skouerband. Die afmetings is 52 x 25 x 29 cm.

Prys R585 by Tentco

Leatherman Style PS-mesmoertang

Klein helper

'n Knipmes is gaaf, maar 'n mesmoertang het baie meer gebruike. Hierdie model is kompak genoeg dat jy hom as sleutelhouer kan gebruik. Hy het agt katoeters, waaronder 'n tang, draadknipper, skêr, platneus- en sterskroewedraaier, naelvyl en botteloopmaker.

Dis 'n pragtige dingetjie en sal enige kind se hart bly maak. Die afmetings wanneer hy toegevou is, is 15 x 20 x 9 mm en hy weeg 44,7 g. Onthou, hy's só klein jy gaan vergeet van hom wanneer jy op 'n vliegtuig wil klim, en dan vat die doeanemense hom by jou!

Prys R970 by Awesome Tools

LedLenser Powercase

Maak 'n bietjie lig hier

Enigiemand wat gereeld met hulle kopflits reis, sal van hierdie nuttige en elegante affêring hou. Die tassie waarin jy die lig bêre, is nie bloot 'n houer nie, maar ook 'n laaier wat koordloos elektrisiteit aan die kopflits lewer. En dis nie al nie: Die tassie is ook 'n kragbank (5 000 mAh) met 'n USB-A-sok wat jou selfoon kan herlaai.

Die tassie met sy koplamp weeg saam 219 g en dit duur sowat 3 uur om die tassie se kragbank van morsdood tot vol te laai.

Prys R925 by Awesome Tools

Plakkie Victoria Bay-plakkies

Ons gaan see toe!

Die Suid-Afrikaanse skoenmaker Veldskoen maak nie net vellies nie, maar ook plakkies, onder die handelsnaam Plakkie. Al hulle plakkies is na Suid-Afrikaanse strande genoem - soos Gonubie, Clifton en Victoriabaai.

Laasgenoemde strand lê tussen George en Wildernis, en is bekend vir groot golwe en branderplankkompetisies. Dis 'n lekker geskenk vir jou dogter wanneer julle see toe mik.

Prys R279 by Outdoor Warehouse

On The Mark-kettie

Kattekwaad

Daar's nie veel wat ons kan sê oor een van die wêreld se oudste wapens nie, behalwe dat jou jeug gebrekkig is as jy nooit met 'n kettie geskiet het nie. Dit leer jou kind om verantwoordelik te wees en slyp boonop oog-handkoördinasie.

Onthou net, dis dieremishandeling as jy jou buurman se hond in die visier het.

Prys R299 by Outdoor Warehouse

Waterbottel deur Tentco

Hidreer, Meneer

Gebruik hom vir staproetes, hengel, kajakry en amper enige fisieke aktiwiteit. Tentco se waterbottel hou 1 l en die ripstopmateriaal hou hom mooi. Jy kan kies tussen blou en groen materiaal sodat jy weet watter een joune is - ingeval jou bottel meer as net water bevat...

Prys R170 by Tentco

Volkano Disney-naglig-en-luidspreker

Sla-a-apies nou...

Klein kindertjies moet nog gewoond raak aan kamp, en jy kan hulle aan die slaap sus met hierdie nagliggie wat ook musiek speel. Jy kan die liggie se kleur verander en ook stel om te pols op die maat van die musiek, hoewel dit dalk nie die beste manier is om 'n kleintjie aan die slaap te sus nie.

Hy kan FM-radio opvang, maar laai jou kind se gunsteling-slaaptydliedjies op 'n mikro-SD-kaart of speel dit deur jou selfoon (met Bluetooth of 'n USB-kabel). Die batteryleeftyd is 7 uur.

Prys R399 by Cape Union Mart

Zartek RX-8-tweerigtingradio's

'n Maatjie vir 'n praatjie?

Hierdie radiostel het 'n billike prysetiket, wat beteken jy kan dit vir kinders gee om mee te speel, maar dis ook tegnies goed genoeg vir jou gesin en julle vriende in die ander bakkie om met mekaar te kommunikeer.

Dit het 'n maksimumpraatafstand van 10 km, maar dis onder ideale toestande en jy kan eerder reken op sowat 3 km - oorgenoeg vir twee voertuie wat saam op vakansie gaan. Elke radio weeg 150 g en is klein en lig genoeg (16 x 4 x 5,5 cm) dat jy hom in jou toeknoophemp se sak kan dra. Hy't 968 kanale en werk met drie AA-batterye.

Prys R799 by Outdoor Warehouse

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM