Drie foto’s van Noord-Kaap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jacques Marais het onlangs besluit hy gaan in die Noord-Kaap kuier op soek na dié provinsie se voorste "uitbinkers". Hy het met sterre in sy oë teruggekeer huis toe.

Diep teue vars lug. Grondpaaie wat tot teenaan die horison sulke kwieng-kwang-draaie gooi. Ver­late vlaktes waar stofduiwels in kokerboomwoude dans. En dan natuurlik die vuurwerk wat snags teen die hemelruim afspeel . . .

Dié is 'n spesiale stuk aarde. Daar is dorslanddrama te kus en te keur in dié provinsie wat sowat 37 289 000 km² beslaan én boonop spog met niks minder nie as vyf woestyne.

Namakwaland lê lepel teen die Wes-Kaap en strek wes tot waar die ysige Atlantiese Oseaan wag. Verder noord ontvou die halsstarrige rotsglorie van die Richtersveld teenaan Namibië se suidelike grens, met die Kgalagadi se bloed-oranje duine wat gloei daar waar Suid-Afrika, Namibië en Botswana koppe stamp.

Mik suidwaarts deur die leeugras, knoetserige akasias en golwende rooi duine tot by Augrabies en die Groen Kalahari - waar 'n lushof van wingerde en boorde teen die Oranjerivier floreer­ - tot in die Karoo waar Tankwa se vlaktes sluimer.

Die landskap is minimalisties. En hier bly nie veel mense nie, wat beteken daar is groot dele van die provinsie waar daar min of geen lugbesoedeling is. En dis puik nuus vir sterrekykers!

Wanneer die son sak, verander die wildewragtig woestyne in die mees magiese sterlande, met ontelbare diamante wat teen die fluweelswart van die hemelruim flikker. Dis geen wonder dat mense van heinde en verre hier kom sterre kyk nie.

Bring jou kameras en 'n kampstoel, 'n lekker fles warm koffie (en dalk 'n knert­sie of twee om jou warm te hou), en kom maak jou driepoot staan in die uitgestrekte wildernis. Netflix gaan nooit kan kers vashou by die ervaring wat hier op jou wag nie.

  • Marais is 'n bekroonde fotograaf en avontuurskrywer van die Kaap.

1: Spoegrivier

As jy jou brein uit die "Groot Vyf"-rat kan kry, bied die Na­maqua- Nasionale Park soveel dinge om te doen aan die besoeker. Daar is natuurlik veldblomme en hope unieke vetplantjies. Maar die Spoegriviergrot met sy geskiedenis van die Khoe en San is seker een van die land se belangrikste erfenisbestemmings. Ek het 'n koplig met rooi filters gebruik om die dramatiese rotsformasies van binne te verlig.

Fotodata

  • Kamera: Sony Alpha a7r3
  • Sluiterspoed: 1/800 sek.
  • Lensopening: f6.3
  • ISO: 200
  • Lens: Sony 20 mm

2: Windpomp teen sterre

Windpompe en sterre is soos vinkel en koljander. Hantamland, die Nels se gasteplaas naby Calvinia, is seker een van die streek se grootste juwele. Die huisie staan bo-op 'n plato en veral in die winter bied dit aan fotograwe die mooiste lig en helderste sterre - bring net 'n driepoot en onthou jou handskoene!

Fotodata

  • Kamera: Sony Alpha a7r4
  • Sluiterspoed: 30 sek.
  • Lensopening: f1.8
  • ISO: 400
  • Lens: Sony 20 mm

3: Skepe in die nag

Suid van Hondeklipbaai wag daar 'n rotsagtige stuk kuslyn op avonturiers wat graag in die stilte van die Noord-Kaap wil wegraak. Dié deel van die Atlantiese Oseaan is beroemd - dalk eerder berug - vir al die wrakke wat al hier op die rotse beland het. Dit was 'n komplekse foto hierdie, met groot ligte wat ek tussen die rotse weggesteek het, sowel as 'n paar kameraflitse wat met 'n radiosein geaktiveer is.

Fotodata

  • Kamera: Sony Alpha a7r4
  • Sluiterspoed: 60 sek.
  • Lensopening: f1.8
  • ISO: 250
  • Lens: Sony 17 mm

Padlangs

Mense besoek die streek gewoonlik gedurende blomtyd.

En ja, dis dan mooi, maar as jy busse en busse vol toeriste wil ontglip en in vrede wil ontspan, pak jou tasse en kies koers na die Noord-Kaap in die herfs en winter.

Jy sal nie spyt wees nie!

SPELETJIES VANDAG

CTA