Falkson se Family Camper: ’n Huistent soos min!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om met 'n tent te kamp het maar sy uitdagings, veral as 'n klomp mense saam probeer ontspan. En meer as een tent langs mekaar én dan nog 'n gazebo kan in 'n oogwink 'n groot trek veroorsaak wat pakplek in jou voertuig opslurp. Sommige kampplekeienaars gaan boonop dalk 'n wenkbrou lig oor die nedersetting wat jy kom neerplak. Die antwoord is voor die hand liggend: 'n Alles-in-een. Falkson se Family Camper het twee aparte en private kamers met 'n stoepdak wat alles maklik in 'n Golf se bagasiebak pas.

Jou kampgoed staan nie die wêreld vol nie en neem minder plek op as 'n paar losstaande tente. Die Family Camper se afmetings is 6,6 x 3,2 m en hy neem minder as die helfte van die ruimte op op 'n tipiese staanplek van 10 x 10 m. Die Family Camper se grootte is vergelykbaar met dié van 'n middelslag-woonwa - maar 'n meter breër. Kom ons slaan op.

Dak eerste

Dit kos maar 'n halfuur se moeite, maar jy word op vele vlakke vergoed terwyl jy op jou kampplek uitspan.

Volgens die vervaardiger neem dit 35 minute om op te slaan en jy begin by die paalraam. Die pale, met 'n deursnee van 22 mm en wanddikte van 1,2 mm, het 'n geelektroplateerde bolaag en staan mooi stewig. Die pale vir die bene kom in verskeie stukke, maar word met 'n rek verbind sodat jy nie hoef te sukkel om vas te stel watter deel pas by watter een in nie. Verskillende kleurkodes onderskei die dak- en hoekpale en niemand gaan staan en kopkrap nie.

Die dak se seil is volgende, en dan die twee kamers wat jy inpas onder die dak, wat as boseil dien. Die kamers is vas aan mekaar met 'n skeiding tussenin, maar die vloer is geseël. Die dak pas onder die boonste seil in en hang aan die raam - daar's dus 'n ruimte tussen die kamers se dak en die boseil. Elke kamer - én die stoepdak - is 2,2 m en daar's meer as genoeg plek in die kamers vir drie kampbeddens.

Jy sukkel ook nie met hangplek nie danksy 'n hele klomp hakies vir jou kampligte, sleutels en ander los goeters. Die vensters het muskietnet en seilflappe aan die binnekant plus 'n seildeur om alles privaat te maak. Die flappe rol aan die binnekant af as jy van die buitelig en -lug wil inlaat. Die ritssluiters wat dit toehou, is nie blootgestel aan die buitekant nie en hou die reën buite.

Die Family Camper spog met oulike detail soos seilsakkies onder die vensters.
Die Family Camper spog met oulike detail soos seilsakkies onder die vensters.

Onder elkeen van die vensters is daar sakkies om klein en los goed netjies te hou sodat jy nie soggens verward rondsoek na jou selfoon of bril nie. Die deur tussen die twee kamers is 'n vertikale ritssluiter, en aan elke kant is 'n haakplek langsaan vir 'n deuropening. Die hoofdeur in die eerste tent het ook gaas en 'n seildeur.

Die tent is mooi beplan en het oulike detail soos plek vir 'n verlengkoord.
Die tent is mooi beplan en het oulike detail soos plek vir 'n verlengkoord.

Onder by die deure is 'n spesiale opening waardeur 'n verlengkoord kan pas. Die tent word met heldergroen tenttoue geanker.

Ekstras

Jy kan die stoepdak toemaak met twee sypanele (R1 570 elk) wat elk 'n venster het.

Dié praktiese tent spog ook met 'n voordeur wat kan sluit.
Dié praktiese tent spog ook met 'n voordeur wat kan sluit.

As hoofingang pas 'n paneel vir die voorkant met 'n vertikale ritssluiter (R850). As jy beskerming soek tussen die PVC-vloer en die grond, het Falkson 'n geweefde grondseil (R1 800) van 6,5 x 3,6 m wat groot genoeg is vir die hele tent.

Tente vir jare lank

Hierdie is 'n familiebesigheid waarvan die geskiedenis met tente terugstrek tot die Tweede Wêreldoorlog en begin by Leon Falkson. Sy seun Hirschel het in die jare negentig die tradisie voortgesit, totdat twee van Hirschel se seuns aan die begin van die eeu oorgeneem het.

Spesifikasies

Variant Family Camper

Vervaardiger Falkson Outdoor Leisure Products

Slaapplek 6

Grootte 6,6 x 3,2 x 2,2 m

Tentsak 125 x 35 x 35 cm

Raamsak 125 x 20 x 20 cm

Opslaantyd 35 minute

Tentmateriaal 320 gsm-ripstop

Tentvloer 550 gsm-PVC

Raam 22 mm (geëlektroplateer)

Totale gewig 58 kg

Prys R16 850

Verkope By die vertoonlokaal in Pretoria óf koop die Family Camper aanlyn. Gratis aflewering landwyd.

Kontak 087 265 8114; sales@falksontents.co.za; falksontents.co.za

Bel Falkson Outdoor Leisure Products by 087 265 8114 vir handelaarsnavrae.

WEN!

Een gelukkige leser staan die kans om hierdie Family Camper van Falkson Tents ter waarde van amper R17 000 te wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom is om jou naam en volledige kontakbesonderhede te stuur na schalk.jonker@media24.com.

Sluit ook 'n kort paragraaf in oor wat presies dit van die Family Camper is wat jou oog getref het. Net een inskrywing per leser word toegelaat. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2024 en die wenner sal in ons Junie-Julie 2024-uitgawe aangekondig word.

SPELETJIES VANDAG

CTA