Buitelewe

Geskenketyd!

Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Top Trumps-kaartspeletjie

Myne is die sterkste

Top Trumps dateer uit die jare sewentig, en dit bly nou maar een van die beste maniere om die tyd te verwyl op pad wildtuin toe. Daar is honderde weergawes, maar dié een, wat handel oor Afrika se diere (foto bo), is uiteraard gepas vir ons vasteland.

Prys R125 by Toys R Us

Huawei-bondel

Luister terwyl jy oefen

Hierdie is 'n duur geskenk, maar jy kan dit gee as 'n Kers-en-verjaardaggeskenk. Ousus gaan jou ewig dankbaar wees (goed, dalk nie vir ewig nie) vir hierdie horlosie, fiksheidsmonitor en musiekspeler. Jy kry op die koop toe bluetooth-oorfone.

Prys R3 300 by Cape Union Mart

Opinel No 8

Franse lem

Meskenners gaan aanvoer die beste mes is iets soos 'n Wüsthof of Kiritsuke, maar niemand gaan jou kritiseer as jy 'n Opinel uithaal nie. Die 8,5 cm lange Turkse Yatagan-lem is gemaak van Sandvik 12C27-staal en die greep is van Franse beukehout.

Prys R230 by Outdoor Warehouse

Stanley-steinbeker

Nou maar tjorts!

Stanley se steinbeker kan Pa se bier glo 7 uur lank koud hou terwyl hy hengel - nie dat Pa so lank aan sy bier drink nie... Die beker word gemaak van 18/8- vlekvrye staal en BPA-vrye plastiek. Hy gaan jou pa vir ewig hou en het boonop 'n lewenslange waarborg.

Prys R700 by Outdoor Warehouse

GSI Santoku 3-messestel

Komplimente aan die sjef!

Hierdie stel bestaan uit 'n 10 cm-groentemes, 15 cm- getande mes en 'n 15 cm-santokumes. Jy kry ook 'n nylonkerfplank, botteltjie seep en 'n waslap. Dit is 'n gawe geskenk vir die kok in julle gesin wat ernstig is oor kosmaak. Die tassie met sy inhoud weeg altesame 726 g.

Prys R770 by Agrimark

Natural Instincts-hangmat

Lekker bederf

Hierdie geskenk gaan slegs werk as jy die volgende doen: Span hom tussen jou boswa en 'n boom, nooi vir Mamma om te ontspan en skink vir haar 'n gin. Maak nou die bykosse, braai die vleis en was die skottelgoed. Koop sommer ook vir haar 'n lekker roman om te lees.

Prys R500 by Outdoor Warehouse

Catan-bordspeletjie

Ruil, bou, vestig

Hierdie speletjie is in 1995 geskep deur die Duitser Klaus Teuber. Dit het sedertdien internasionaal bekend geraak en is naas skaak en Monopoly een van die gewildste bordspeletjies. Tot 4 spelers kan deelneem, en 'n tipiese spel duur 1-2 uur - net reg vir die kampplek.

Prys R1 000 by Toys R Us

National Luna-Ysmaker

Met eish, ja

Dit is 'n duur geskenk hierdie, en die hele gesin sal moet saamspan om hom te koop, maar wat is dan lekkerder as vars ys in die Bosveld? Hy't 'n 2,2 l-watertenk en kan 12 kg ys per dag maak. Omdat dit so 'n duur geskenk is, stel ons voor jy skaf ook 'n Camp Cover-sak aan vir R900.

Prys R3 000 by Outdoor Warehouse

Veldskoen J-Bay

Dagsê, Veldsman

Vellies is deesdae hoogmode, en hierdie paar deur die Durbanse maatskappy Veldskoen meng tradisie met byderwetsheid. Die skoen wat ons hier wys, is die J-Bay en jy ken hom uit aan sy blou sool. Ander kleure wat beskikbaar is, sluit in rooi, pienk, groen en oranje.

Prys R1 000 by Agrimark

Foto's Cyril Klopper en verskaf

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM