Hier is 12 produkte waarmee jy en jou reismaat kan begin wanneer julle 'n kampkombuis wil aanmekaarslaan. Alles op hierdie blaaie is so klein as moontlik om pakplek te bespaar, maar nie só klein dat dit 'n storie raak om te gebruik nie.
LW
Besoek altyd eers 'n verskaffer se webblad om die jongste pryse te kry. Die afmetings van sommige produkte verskil van die vervaardiger se amptelike syfers - ons het ons eie maatband en skaal gebruik om die produkte te meet.

LK's-braaibak
Bakgat Nie alle kampplekke het geboude braaigeriewe nie en dis boonop riskant en ongemaklik om op die grond te braai. Hierdie braaibak van vlekvrye staal staan 44 cm hoog en jy kan omtrent 'n halwe sakkie houtskool in hom uitskud.
Die rooster is groot genoeg vir twee vark- of skaapribbes, of twee 200 g-steaks en 'n rol wors. 'n Gevlekte snoek gaan egter nie op hom pas nie. Hy weeg amper niks nie en staan stewig. Sy bene is ook van so 'n aard dat hy nie in sand sal wegsink nie.
Afmetings 44 x 30 x 47 cm
Prys R795 by Camp & Climb

Fireside-braairooster
Het jy al gedraai? Jy kan direk op die braaibak hierbo braai, maar 'n toeknyprooster werk net soveel beter. Hierdie outjie is van vlekvrye staal en hy kom met sy eie drasakkie.
Die handvatsel kan in- en uittrek sodat jy die rooster binne-in die braaibak hierbo kan vervoer. 'n Rib gaan nie in hom pas nie, maar vier groot hamburgerpatties sal maklik hulle lê kry.
Hy's ook perfek vir 'n groot braaibrood. Die rooster se rande is omgevou sodat jou kos nie sal uitval wanneer jy die rooster omdraai nie.
Afmetings 28 x 28 x 4 cm
Prys R500 by Outdoor Warehouse

LK's-braaivleisbak
Bak plan Soms is die tydsberekening van die braaier en die een wat die bykosse maak, effens uit, en dan het jy 'n bak nodig waarin jy kos warm kan hou. Hierdie klein braaivleisbak het 'n volume van 2 l en is dus groot genoeg vir twee mense se kos.
Twee 200 g-steaks, 'n rol wors en twee gebraaide aartappels pas alles mooi in. Die metaal is sagtestaal wat met emaljeverf bedek is.
Die vervaardiger sê jy kan dié braaivleisbak direk op warm kole plaas - of selfs in 'n oond - sonder dat hy beskadig sal word.
Afmetings 34 x 22 x 8 cm
Prys R280 by Outdoor Warehouse

LK's-braaitang
Klein knyper Hierdie tang is so lank soos 'n liniaal en perfek om 'n vuurwarm skaapribbetjie om te draai. Hy gebruik dieselfde dikte metaal as 'n volgrootte braaitang, maar omdat hy korter is, knyp hy besonder stewig aan jou braaivleis sodat jy nie per ongeluk jou aandete op die grond laat val nie.
As jy eerder op 'n toeknyprooster staatmaak, kan jy natuurlik hierdie tang inspan om knoffelbrood wat in foelie toegedraai is, op die kole om te rol. Pasop net dat jy nie brand nie - onthou, die tang is kort.
Afmetings 31 x 9 x 2 cm
Prys R100 by Outdoor Warehouse

Cadac-broodpot
Brood vir my broer Hierdie broodpot is klein, maar weeg nogal swaar (3,6 kg) aangesien hy van gietyster gemaak is. Die volume is 2,8 l en sy drahandvatsel is van dik staal wat nie maklik buig nie.
Ons hou veral van die hoë rand op die deksel sodat jy warm kole op hom kan plaas sonder dat dit maklik afval. Hy's 'n goeie grootte om brood te bak vir twee mense en daar sal genoeg brood oorbly ná aandete vir môre se padkos.
Afmetings 17 x 13 x 29 cm
Prys R440 by Camp & Climb

LK's-kwartpotjie
Pot vol somer Jy gaan twee van hierdie driebeenpotjies moet aanskaf, want hy hou slegs 700 ml. Hy's veral geskik wanneer jy lus is vir 'n vegetariese opsie terwyl jou reismaat eerder 'n hoenderpot wil maak.
Die potjie weeg 1,4 kg en is beskikbaar in rooi, groen, blou en swart. Laasgenoemde is ongeverf en kos R200 goedkoper. Die staander op die foto is ekstra teen R470.
Afmetings 13 x 13 x 13 cm
Prys R500 by Outdoor Warehouse

Alva Mini BBQ
Gasvryheid 'n Gasstoof is nuttig in gure weer, dit kan jy glo! Hierdie toestel weeg 5 kg en sy gietysterrooster is groot genoeg vir twee tjoppies en 'n klein rol wors.
Hy werk met 'n 220 g-kannetjie butaan en die vlamgrootte is verstelbaar. Op sy warmste verstelling behoort die butaan vir sowat 'n uur en 'n half te hou voor jy die kannetjie moet vervang. Die gasstoof het sy eie plastiektassie waarin jy hom ronddra.
Wees bewus dat jy die butaan ekstra moet aankoop teen sowat R50 per kannetjie.
Afmetings 42 x 29 x 14 cm
Prys R1 500 by Takealot

Cobb Premier+
Wie's die sjef? Gepraat van gas: Cobb se nuwe gasbraaier werk met butaan én propaan, en hy het sy eie aansteker sodat jy nie met vuurhoutjies hoef te sukkel nie.
Jy kan amper enige denkbare kossoort in 'n Cobb gaarmaak - van salm tot springmielies en pizza tot pynappeltert. Dis 'n duur stuk toerusting, maar dis 'n alles-in-een-kombuis vir mense wat iets meer eksoties as vleis, rys en aartappels verkies.
Hy word hoofsaaklik gemaak van vlekvrye staal, en die knoppe is van bakeliet.
Afmetings 28 x 28 x 31 cm
Prys R4 000 by Outdoor Warehouse

GSI-kerfplank
Plat op die aarde 'n Mens het altyd 'n skoon werkoppervlak nodig wanneer jy gaan kamp. Hierdie kerfplank vou op sodat hy niks groter as 'n hardebandboek is nie, maar dunner.
Hy word gemaak van poliëtileen-plastiek en daar is 'n vlak groef om die buiterand waarin sap versamel wanneer jy vrugte sny. Dit dien ook as 'n gawe broodplank vir daai varsgebakte volkoringbrood wat jy met die Cadac-broodpot gebak het.
Afmetings 24 x 16 cm/32 x 9 cm
Prys R195 by Camp & Climb

Stanley-kookstel vir twee
Ontbytsake Stanley se kookstel bestaan uit 'n 1 l-potjie van vlekvrye staal, 'n deksel vir die potjie, twee 354 ml-bisfenol A-vrye plastiekbakkies (BFA) en twee BFA-vrye plastieklepels. Saam weeg dit 440 g.
Dit is oorspronklik vir bergklimmers geskep, maar dit werk ook goed vir 'n paartjie wat hawermout of mieliepap wil kook vir 'n ligte ontbyt.
Afmetings 11 x 14 x 14 cm
Prys R750 by Outdoor Warehouse

GSI-seskoppie-koffiepot
Warm patat GSI maak ook 'n kleiner weergawe wat genoeg water kook vir drie koffiebekers, maar ons hou van die groter seskoppiemodel, want nadat jy vir jou en jou reismaat elk 'n beker geskink het, bly daar genoeg warm water oor om skottelgoed te was.
Die sagtemetaal is met emalje geverf en die deksel het 'n oulike skarnier sodat hy nie kan wegraak nie.
Afmetings 20 x 14 x 14 cm
Prys R540 by Camp & Climb

GSI-wynglase
Laat hy val waar hy wil Hierdie glase se steeltjies skroef uit die kelk en die twee dele pas in mekaar om ruimte in jou kampkombuis te bespaar. Dit word gemaak van 'n soort plastiek genaamd kopoliëster wat geen BFA bevat nie.
Elke glas kan 275 ml wyn hou as jy hom tot die rand volmaak, en elkeen weeg 'n skamele 136 g.
Die plastiek sal nie breek as jy die glas omstamp nie en jou chenin blanc bly langer koud as wat dit sou in 'n aluminiumglas. Tjorts!
Afmetings 8 x 8 x 12/18 cm
Prys R385 by Camp & Climb















