[Wenfoto]
Denise Zeeman
Canon EOS R7
Sigma 150-600 mm-lens
Denise vertel: Hierdie piepklein kleinrooiborssuikerbekkie is 'n gereelde besoeker in ons tuin in Worcester. Maar hy bly net te vinnig en te rats vir my. In meer as 100 foto's is hy nooit netjies in die raam nie, of ek kry hom net halflyf afgeneem, veral in hierdie struik (Salvia-familie) waar hy graag kom nektar soek.
Johan, my tienjarige seuntjie, sit graag saam met my terwyl ek wag om die perfekte foto te kry. "Ai, Mamma," sê hy dan: "Die voëltjie is so vinnig!" Anderdagoggend vat ek my kamera en besluit: "Vandag is die dag!" Daar sit ek toe twee ure lank in die tuin.
Geduld en geluk is twee goue woorde, saam met afwagting en vasberadenheid. En toe kry ek hom! Dit was my grootste prys, om hierdie mooi voëltjie af te neem en daarmee saam die bonus om die fauna en flora rondom my te geniet. My verstellings: sluiterspoed van 1/800ste van 'n sekonde, lensopening f6.3 en ISO 6 400.
Toast sê: Hierdie foto het alles: 'n charismatiese voorwerp, helder kleure én 'n kunstige kombinasie van bewegings-blur (die vlerke) én skerpheid (soos die kop, ogie, stert en kloutjies van die suikerbekkie).
Denise praat van meer as 100 mislukte foto's voordat sy hierdie treffer geneem het - maar dit kan duisende mislukkings verg voor als in plek val. Daarom is dit beter om iewers veilig en gemaklik vir hierdie fotogeleentheid te sit en wag. In jou eie voortuin is die badkamer boonop naby - en die yskas vir versterkings.
Selfs al was Denise se sluiter-spoed relatief vinnig teen 1/800ste van 'n sekonde wys dit jou hoe blitsig 'n suikerbekkie sy vlerkies kan laat woer. Indien sy die vlerkbeweging wou vries, sou sy 'n sluiter-spoed van 1/3 000ste van 'n sekonde of meer moes gebruik. Tog is dit juis die bewegings-blur wat haar foto laat uitstaan.
Geluk, Denise, jy wen hierdie keer die Weg-kamerasak!

Nadine Leonard
Canon EOS 800D
Sigma 150-600 mm-lens
Nadine skryf: Ek het hierdie koedoebul in Januarie 2024 in die Bergkwagga- nasionale park naby Cradock afgeneem. Ons was op die Ubejane-pad toe ons om 'n draai kom en dié bul by 'n plassie water sien drink.
Ons het dadelik stilgehou en gewag totdat hy gerus genoeg was om nog water te drink. 'n Mens is soms geneig om te veel te fokus op die afneem van roofdiere soos leeus, maar dan loop jy goeie fotogeleenthede mis. Kyk eerder met 'n ander oog na dit wat oor jou pad kom. My sluiterspoed was 1/500ste van 'n sekonde, lensopening f5.6 en ISO op 800 gestel.
Toast sê: Nadine is reg - foto-geleenthede is oral. Ek ontmoet gereeld mense in wildreservate wat padlangs langs my stop om te vra of ek "enigiets" gesien het, want hulle het sover "niks" gesien nie. Wanneer ek dan sê, ja, ek het 'n paar volstruise gesien, en 'n springbok doer ver, en 'n span jolige kraaie, kan ek sien hoe die ander ou verveeld raak terwyl ek praat.
Mense wat "niks" sien nie, wil net leeus sien, of luiperds, of darem ten minste olifante. Groot diere met tande of kolle of slurpe. Vir my is daar nooit "niks" om te sien nie. 'n Dooie boom kan 'n boeiende foto maak.
'n Stil landskap waar teksture met mekaar praat, kan jou bybly. En 'n koedoe? Wel, as jy verby 'n koedoe ry sonder om te stop en dit te bewonder, vermoed ek 'n paar van jou sielkitaarsnare is gebreek. Dis loshande die mooiste wildsbok in Afrika (met dalk net die gemsbok wat in die woestyndele kan saampraat).
Nadine se foto is 'n klein bietjie oorbelig links bo waar die koedoe se wit onderlyf te veel son vang. Maar die kop en weerkaatsing is waar jou oë gaan talm, en hier is als eksieperfeksie. Ek hou veral van die blinkswart oog - 'n heelal op sy eie.

Menrad Holm
IG: @menradholm
Fujifilm XT-5
Fujinon XF 70-300 mm-lens
Toast sê: Menrad was saam met sy ouers op vakansie in Europa toe hy hierdie foto in Boedapest, die hoofstad van Hongarye, geneem het. Hy sê dis 'n trem wat van voor af afgeneem is. Ons sal hom maar moet glo, al lyk dit met eerste oogopslag glad nie soos 'n trem nie!
Ek is seker dat Menrad wel ook 'n "normale" foto van die trem geneem het sodat 'n mens kan sien hoe dit lyk, maar hierdie kunstige foto bied iets heel anders as die gewone reisfoto. Hy het sy sluiterspoed baie stadig gemaak (1.5 sekonde) en het tydens dié 1.5 sekonde met sy lens ingezoem.
Met ander woorde, wat ons sien is 'n tipe bewegings-blur van ligte - party is stads- en straatligte en party is die trem se ligte (soos daai rooi een, raai ek). Nou begin jy ook die trem se spore hier voor sien, en in die agtergrond lyk dit soos 'n groot gebou.
Die trem is daar waar die oranje kolle op die foto verskyn, in die middel. 'n Lekker spokerige - of dromerige - effek! Netjies, Menrad!

Chrisunet van der Walt
Canon PowerShot SX70
Chrisunet skryf: Soos enige ander oggend in die wildtuin was ek en my man, Werner, vroeg aan die gang en uit by Pretoriuskop so gou as wat die kamphek oopgemaak het. Ons kon nie wag om te sien wat om elke draai vir ons lê en wag nie - maar hierdie spesifieke oggend was die diere maar yl gesaai.
Later besluit ons om eerder na Skukuza te mik sodat ons iets kan koop om te eet. Toe ons egter die hoogwater-brug bereik wat oor die Sabierivier loop, staan daar twee motors. Wat sou hulle sien, wonder ek en Werner dadelik. Dis toe wraggies wildehonde!
En nie sommer net 'n paar nie: Onder in die rivierbedding is sowat 32 wildehonde op soek na 'n veilige plek om die krokodilgeteisterde rivier oor te steek! Heen en weer skarrel hulle terwyl daar met tjankgeluidjies onder mekaar gesels word.
In 'n stadium spring die lot tot op 'n rotsbank. "Dáár's jou foto," fluister Werner vir my. En toe neem ek foto's dat dit kláp... Die hele episode het omtrent tien minute geduur totdat een uiteindelik genoeg moed bymekaargeskraap het om in die water te spring en deur te swem - en toe volg die res van die trop.
Almal is veilig deur tot op die oorkantste oewer, waar hulle opgewonde gegroet en gesels het asof hulle mekaar lanklaas gesien het!
Toast sê: Jislaaik, Chrisunet, ek dink jy het op een slag meer wildehonde gesien as wat ek al altesaam in my hele lewe gesien het! Ek het aanvanklik gedink jy het hierdie foto ge-Photoshop of iets! Ek hou daarvan dat jy hierdie foto lekker wyd geskiet het.
As ek reg tel, kan ek omtrent 22 van die 32 honde in die foto sien. 'n Mens is dikwels geneig om te ver in te zoem om nabyskote van diere te kry, maar soms is dit juis die wyer skoot wat die storie vertel.
In hierdie geval gaan dit oor die trop as geheel, wat deur die alfa-mannetjie gelei word. Ek neem aan dis die een heel voor aan die punt, want hy het selfs 'n halsband om die nek omdat navorsers seker sy bewegings volg.
Die lyn wat die bont honde van een kant van die raam na die ander kant vorm, laat dit soos 'n "golf" van wildehonde lyk! Dis 'n besonderse foto!

Chris Sheppard
Canon EOS 5D Mk. IV
Canon EF 100 mm-makrolens
Chris skryf: Ek woon in Zimbabwe en het hierdie foto geneem toe ek op reis was naby Rusape, suidoos van Harare. Ek het afgetrek om 'n bietjie te rus en het toe hierdie wit blommetjies langs die pad gesien en gedink dit sal 'n mooi foto maak.
Ek het plat op die grond gaan lê vir 'n beter hoek met my makrolens. Terwyl ek daar lê, het dié vlieg skielik kom sit op presies die blommetjie wat ek besig was om af te neem! Jy sou kon sweer dat die vlieg vir my kom poseer het!
My sluiterspoed was gestel op 1/250ste van 'n sekonde, met lens-opening van f11 en ISO 400 - ek het ook my kameraflits gebruik.
Toast sê: Wanneer jy foto's begin neem, lei een ding weldra tot 'n ander. Sodra jy die wêreld deur jou kamera se lens betrag, begin jy dadelik al meer fotogeleenthede sien. As Chris net 'n paar strek-oefeninge langs sy kar staan en doen het, dan sou hy nooit hierdie foto geneem het nie.
Maar deur die moeite te doen om sy kamera uit te haal en dan nog op sy maag op die grond te gaan lê vir die regte hoek, het hy 'n proses aan die gang gesit. Was dit Gary Player wat gesê het hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger raak jy? So iets - en hier is weer die bewyse daarvan.
Lekker foto, Chris!

Gerrit Erwee
Canon EOS R6
Canon EF 24-105 mm-lens
Toast sê: Om 'n reënboog af te neem is altyd 'n plesier - 'n dubbele een, des te beter! Gerrit het hierdie dubbelreënboog buite Bethlehem in die Vrystaat gesien en skryf dat hy moes rondry om die regte hoek te kry. Sy lens was gelukkig wyd genoeg om te minste die onderste, helderder boog heeltemal in die raam te kry.
Ek vind dat my selfoon soms die beste werk wanneer ek 'n reënboog afneem, bloot omdat die lens 'n wye hoek het. Nou hoop ek darem dat jy op dié dag ook jou graaf saamgery en gaan grawe het vir daai pot goud by die reënboog se einde, of hoe, Gerrit?

Judy Cronjé
IG: @sa_sigeuner
Canon EOS 80D
Tamron 150-600 mm-lens
Judy skryf: Ek het hierdie foto in September 2023 in die Kgalagadi-oor-grenspark geneem. Ons het by die Grootkolk-wilderniskamp oornag en elke middag rondom sonsondergang twee bakoorjakkalse op min of meer dieselfde plek gewaar.
Hulle was egter altyd te ver vir selfs my lang zoemlens. Op die laaste dag was ons gelukkig genoeg dat een van die jakkalsies besluit het om oor die pad te stap, 'n paar meter van ons voertuig af. Dié kyk toe nogal so ewe links en regs... en ek neem my foto!
My verstellings: sluiterspoed 1/800ste van 'n sekonde, lensopening f6.3 en ISO 800.
Toast sê: Bakoortjies is doodeenvoudig ougat, en Judy se portretfoto wys iets van die unieke karakter van hierdie dier. Soos wat lyk hy (of sy?) vir jou? Ek verbeel my dié outjie kan in 'n poskantoor werk, waar hy seëls plak en koeverte sorteer. Of dalk is hy 'n Formule 1-renjaer, in 'n rooi oorpak, kougom-kouend in die kuipe?
Die sagte laatmiddaglig (die foto is kwart voor ses geneem) sorg dat ons die tekstuur van die vossie se pels mooi sien, en daar is net-net genoeg van 'n glinster in die oë om hulle soos bruin albasters te laat vertoon.
Met ouer D-SLR-kameras soos Judy se Canon EOS 80D (dié model dateer uit 2016) is dit raadsaam om nie jou ISO te hoog te stel nie omdat die foto dalk greinerig kan vertoon.
Nuwer kameras (en veral deesdae se spieëllose wonders) se tegnologie het al 'n bietjie gevorder, en met hulle kan jy maar in die meeste gevalle teen ISO 6 400 laat waai.
Judy se berekening was fyn, want ISO 800 het haar steeds toegelaat om die relatief vinnige sluiterspoed van 1/800ste van 'n sekonde te handhaaf. Indien jy jouself lekker stewig stut, kan jy daarmee wegkom, selfs al skiet jy met 'n groot 150-600 mm-lens soos Judy.
Stuur jou beste reis- en natuurfoto's vir ons!
Hoekom? Ons plaas in elke uitgawe 'n keur van lesersfoto's. Stuur elke maand jou drie beste foto's vir ons. Toe, moenie skaam wees nie!
Wat? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto's of goggas en blomme in jou tuin.
Hoe? Stuur jou beste foto's na menseselense@weg.co.za. Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie - as ons 'n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.
Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto's elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik.
Volg Weg op Instagram @menseselense - merk jou foto's #menseselense en ons plaas dit dalk daar!
Ons sustertydskrif go! is @gomagsa.
Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig. Die nagfotografiekursus kos weer R300.














