[Wenfoto]
Ivor Momsen
IG: @momsen_wild
Canon EOS 90D
Sigma 150-600mm-lens
Ivor skryf: In Oktober 2024 het ek deur die Facebook-inskrywings van BirdLife South Africa gelees en gesien 'n paar ontwykende bloukuifvlieëvangers is gewaar in die Fernkloof-natuurreservaat net buite Hermanus. Ek was jaloers, want ek het hulle nog nooit gesien nie.
Ek en my vrou het besluit om van Kaapstad af Hermanus toe te ry. Ons was gelukkig en het vlieëvangers sommer by die reservaat se ingang gesien. 'n Lifer!
Vir my gaan voëlkyk nie net om spesies op my lewenslysie af te tik nie, maar om die voëls te sien, af te neem en die ervaring te deel.
Baiekeer sien 'n mens 'n lifer wanneer jy glad nie daarop voor-bereid is nie, maar hierdie keer was ek reg vir die oomblik.
Toast sê: Dis nou 'n wenner! Welgedaan, Ivor, hierdie is 'n fan-tastiese foto van 'n voël wat byna nooit afgeneem word nie...
Dis nog meer spesiaal omdat dit vir jou 'n lifer is.
Ivor noem dat hy sy ISO na 800 verhoog het (die lig was glo nie goed nie) vir 'n relatief vinnige sluiterspoed van 1/500ste van 'n sekonde. Die reël is eintlik dat jy jou sluiterspoed dubbel die getal van jou lens se fokusafstand moet maak.
Die foto-inligting sê Ivor het tot op 361 mm ingezoem, wat beteken 'n sluiterspoed van 1/720ste van 'n sekonde of hoër sou veiliger wees om kameraskud te keer.
Maar niks hiervan maak saak as jy nie koelkop bly nie. Ivor het sy hand stabiel gehou en aangesien die voël nie sy vlerke gewapper of rondgedartel het nie, kon Ivor 'n skerp skoot neem.
Die vonkel in die voël se oog is spesiaal en ek hou van die oranje-rooi blomme ook (dit lyk soos 'n koraalboom). Maar my gunsteling-deel is daai dorings wat visueel deur die vlieëvanger se skerp snawel en puntige kapsel geëggo word.
Geluk, Ivor, jou lifer het dié uit-gawe se Weg-kamerasak gewen!

Lisa Naudé
Fujifilm X-S20
Fujifilm 150-600mm-lens
Lisa skryf: Ek is 16 jaar oud en van Makwassie in Noordwes. Natuurfotografie is een van my groot passies en die Kruger-wildtuin is die perfekte plek waar ek dié passie kan uitleef!
In September 2024 was ek saam met my pa, ma, boetie en sussie in die wildtuin - ons het by Skukuza gebly. Een oggend kom ons af op dié leeuwyfie en haar drie welpies. Die ma en kleintjies het uit die bosse gekom en op die rotsbank in die rivier gaan lê. Ons was op die regte tyd op die regte plek, want ná 'n paar minute het hulle weer in die bosse verdwyn.
My verstellings was: sluiterspoed van 1/1000ste van 'n sekonde, lens-opening van f5.6 en ISO 600.
Toast sê: 'n Leeuwyfie, mét welpies - oop en bloot in 'n rivierbedding! Hierdie toneel is een wat jy maar kan laat druk en raam.
Die gladde klippe waarop die leeus staan, maak hierdie foto uniek, want 'n mens is meer daaraan gewoond om leeus tussen gras of bosse te sien.
Die ligte kleur van die rotse én die leeus verleen ook 'n een-vormigheid, en die rondings van die rotse word ook tot 'n mate geëggo deur die fatsoen van die ma-leeu. Haar ongewone liggaamsposisie wys hoe sy afbuk om die welpie by haar voorpoot 'n bietjie beskerming te bied in die oopte.
Dan is daar die oë - die heldergeel van die volwassene, en die kleintjie s'n wat byna blougrys lyk op die foto.
Geluk met 'n puik foto, Lisa, ek hoop jou ma-hulle vat jou gou weer wildtuin toe!
Johan Swanepoel
Nikon D7200
Sigma 150-600mm-lens
Johan skryf: Dis nou al 'n geruime tyd dat ek probeer om die sku en blitsvinnige krappies af te neem wat hier op die strand by Doonside aan KZN se Suidkus rondskarrel. Ek het onlangs opgegradeer en vir my 'n Sigma 150-600 mm-lens gekoop. Dis hoofsaaklik om voëls af te neem, maar dit het my uiteindelik die kans gegee om "krappe te jag".
Dit was 'n bewolkte laatmiddag - perfek vir sagter beligting. Ek het bo-op die uitgespoelde wal gaan lê en gewag dat hulle begin uitkom. Hierdie een het wonder bo wonder saamgespeel en hoewel hy duidelik onraad vermoed het, het hy my lank genoeg in die oë gekyk dat ek hom kon afneem.
Ek het Lightroom gebruik om die beligting te verbeter en die kleurversadiging effens te verskerp.
Die resultaat is verstommend. Ek sal nooit weer met dieselfde oë na die krappies kyk nie!
Toast sê: Behalwe dat hierdie krappies klein én vinnig is, is hulle ook laag op die grond. Ja, jy kan regop staan en hulle afneem, maar jy gaan 'n heel ander foto neem. Deur hierdie krap op ooghoogte af te neem slaag Johan daarin om 'n meer intieme portret te skep. Ons sien ook sommer die krap se "grondvryhoogte" (dit lyk hoër as 'n Hilux s'n, maar laer as 'n Cruiser...).
Wanneer jy redigeringsagteware verkeerd gebruik (in my opinie), kan jy jou foto bederf. Jy kan oor-dadige kleurveranderinge maak wat onnatuurlik en "lelik" begin lyk.
Johan se gebruik van die sagteware was perfek - hy het eenvoudig 'n reeds treffende foto daai aks verbeter sodat dit werklik uitstaan. In 'n foto lyk kleure lyk dikwels vaal terwyl dit in werklikheid veel meer lewendig gelyk het. Gebruik die sagteware om dié woema in jou foto terug te sit!

Riaan Hammond
Canon EOS 70D
Canon 18-135mm-lens
Riaan vertel: Ek en my vrou, Dawn, woon op Hartenbos en was 'n ruk gelede vir 'n naweek Struisbaai toe. Dit was die eerste keer in meer as 20 jaar dat ons daar kom.
Hierdie foto is teen sonsondergang by die hawe geneem. Dit was 'n pragtige aand, en 'n paar seuns het van die kaai af visse met hulle gooinette probeer vang.
My verstellings: sluiterspoed van 1/250ste van 'n sekonde, lens-opening f.11 en ISO 100.
Toast sê: Riaan se foto het 'n gevoelswaarde wat jou dadelik aan daardie luilekker strandvakansies van jou kinderdae laat dink - strandbal, visnetjie, strandhanddoek... Dis vir my 'n teken dat 'n foto suksesvol is - wanneer dit my iets laat vóél (of onthou).
Die foto kon ietwat stywer geraam gewees het om die komposisie te verbeter. Dalk sou 'n mens van die lug bo uit die raam kon sny, en van die see hier voor, en dalk ook regs van die bootjie die snoeisker inlê. Maar tog... iets omtrent die ekstra spasie in die foto laat my rustiger asemhaal. Ja, eintlik is dit nét reg!
Hier is genoeg om na te kyk - eerstens die bootjie, en die boeie in die water. Dan die jongmense op die kaai links, en later kyk jy na die sielvolle sonsonderganglig wat tussen die huis en bome op die horison draal. 'n Foto vol vakansiegees!

Coen Oelofse
IG: @coenoelofse
Nikon Z7ii
Tamron 150-600mm-lens
Coen vertel: Ek het vir 'n verandering besluit om dié kleurfoto na "mono" of swart-wit om te skakel.
Hierdie bosbokooi was sommer naby die kampdraad by Berg-en-Dal in die Kruger, en ek het haar te voet teëgekom waar sy vir my staan en loer het (ek was in die kamp, en sy buite).
Toast sê: Wie loer vir wie? Fotograwe is mos maar altyd aan die loer vir lekker fotogeleenthede.
In die wildtuin gaan jy nie net altyd foto's neem van leeus, luiperds, olifante en ander ikoniese diere nie. Soms is dit stil en sien 'n ou net vaal voëltjies, of kleinwild soos hierdie bosbok.
Dalk is dit in die middel van die dag, met die laatmiddag se goue uur nog ver weg, en die lig is te vaal of te skel vir goeie foto's.
In tye soos dié moet jy kreatief dink. Ons is so gewoond aan 'n kleurfotowêreld dat 'n eenvoudige omskakeling na swart-wit 'n toneel drasties kan verander.
Nou is komposisie belangrik - en Coen s'n is 100% reg, met die bokkie wat een derde na links in die raam staan, en genoeg spasie het na regs om "in" te kyk. Die gras (of riete?) heel regs op die foto dra ook iets interessants by, en omdat dit baie lig is, staan dit goed uit in swart-wit.
Die swart-wit-formaat laat veral teksture sterk uitstaan, en hier verdien die bosbokkie se snoet eervolle vermelding!

Inamari Oerlemans
Canon EOS 90D
Sigma 150-600mm-lens
Inamari vertel: Ons het die Krugerwildtuin by die Phalaborwa-hek binnegegaan en kort daarna links gedraai op die H14 in die rigting van die Mopani-ruskamp. Dit was waarskynlik 1km verder toe ons dié gevlekte hiëna onder 'n mopanieboompie sien.
Hy was houtgerus en het rustig aan sy kameelperdbeen lê en kou. Daar was geen ander diere in die omgewing te bespeur nie, en ons kon ook nie die karkas sien nie. Dalk het hy die been iewers geaas en hier kom vreet waar ander roofdiere hom nie kon pla nie?
Toast sê: Dit lyk na 'n goeie oggend om 'n hiëna te wees! Hierdie hiëna is in die sewende hemel met sy hengse been en niemand wat sy geknaag kom versteur nie. Daai ondertande wat uitsteek, is die beste! Lekkerrrr!
Die foto is nie perfek nie, nee. Jy kan byvoorbeeld sê dat die takkie hier voor die een deel van die kameelperdbeen 'n bietjie verdoesel. Maar dís hoe Inamari die toneel aangetref het. Ek hou nie daarvan wanneer fotograwe begin praat van "delete die takkie" nie.
Ja, jy kan enigiets met Photo-shop of ander sagteware doen. Met kunsmatige intelligensie kan jy selfs 'n perfekte foto skep waar jy dié hiëna in die skerpste detail sien, mét sy kameelperdbeen (gits, maak dit sommer 'n olifant s'n...), bó-op 'n miershoop - met 'n kremetartboom in silhoeët in die agtergrond...
Maar wat is die punt daarvan? Natuurfotografie is iets wat eg moet lyk. Dit moet realisties wees. Die natuur is nie perfek nie. Dis rof en grof en wild en onvoorspelbaar.
En Inamari se foto vang hierdie onvoorspelbaarheid vir my vas. Ek is dol hierop!

JC Bergh
IG: @jcbergh
Canon EOS 500D
Canon 18-55mm-lens
Toast sê: Goeie ou Tafelberg! Ek dink Kapenaars vergeet soms dat hulle dié fotogeniese wonder in hulle agterplaas het! Die klassieke foto van Tafelberg word natuurlik van Bloubergstrand af geneem omdat jy dan die "tafel" in die middel, met Duiwelspiek links en Leeukop na regs duidelik kan sien.
JC het sy foto vroegoggend geneem en 'n driepoot gebruik omdat sy sluiterspoed stadig was - vier sekondes. Dié lang sluiterspoed is wat die wasige effek skep op die water, wat ekstra drama verleen aan hierdie winterbeeld oor Tafelbaai. Met sy lensopening op f18 (ISO 100) het hy genoeg velddiepte gehad om min of meer als van die voorgrond se rotse tot die berg in die verte skerp in fokus te hou.
Die sagte gloed wat van links op die rotse skyn, asook op die stadsgeboue aan die voet van die berg, is die son wat opkom. Die oggendstond het goud in die mond!
Stuur jou beste reis- en natuurfoto's vir ons!
Hoekom? Ons plaas in elke uitgawe 'n keur van lesersfoto's. Stuur elke maand jou drie beste foto's vir ons. Toe, moenie skaam wees nie!
Wat? Ons hou van omtrent énigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto's of goggas en blomme in jou tuin.
Hoe? Stuur jou beste foto's na menseselense@weg.co.za. Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie - as ons 'n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.
Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto's elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik.
Volg Weg op Instagram @menseselense - merk jou foto's #menseselense en ons plaas dit dalk daar!
Ons sustertydskrif go! is @gomagsa.
Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed? Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig. Die nagfotografiekursus kos weer R300.
Jy kan 'n Weg-kamerasak ter waarde van R790 wen!
Enige fotograaf wat sy sout werd is, sorg dat sy toerusting beskerm word. Jy kan jou kamera en lense veilig hou in hierdie sak van seil met 'n sagte binnevoering.
Een gelukkige Weg-leser kan in die volgende uitgawe só 'n sak wen.
Hoe? Stuur eenvoudig jou beste reis- en natuurfoto's na menseselense@weg.co.za - ons kies die wenner, wat dan in "Mense se Lense" gepubliseer word.
Bestel dit by yumna.tofey@media24.com.
Nuwe toerusting

Fujifilm X100VI
Wat het ons hier?
Die X100VI speel die rol van 'n tegnologies gevorderde, gesofistikeerde mik-en-druk, maar dis geensins 'n intreevlakkamera nie. Dis vir fotograwe wat reeds drie of vier kameras besit, en op soek is na 'n nuwe fotoneem-ervaring. (Dis soos wanneer jy reeds 'n sportnutsvoertuig besit, maar besef om 'n Jimny te bestuur, laat jou bloot beter voel oor die lewe.)
Met die ingeboude 23mm- (f2) lens gaan dit jou nader aan die voorwerp dwing. Die X100VI is ideaal vir straatfoto's of 'n onopvallende foto by die familiebraai van Oums wat nie daarvan hou om gekiek te word nie.
Dis 'n kamera wat jou die wêreld ánders laat sien, en daarom gaan jy skielik fotogeleenthede opmerk waar jy dit die minste verwag. Daai mistige Hentiesbaai-petrolstasietoneel gaan na iets lyk uit 'n Wes Anderson-fliek deur die blik van die X100VI...
Die lens is 'n juweel, veral as jy portretfoto's neem: Oë vonkel en veltekstuur word lewendig. Dis 'n Fujifilm en dus het dit 'n magdom filmvoorafinstellings (20!). Gebruik een van die swart-wit verstellings om jou straatfoto's daai Cartier-Bresson-gevoel te gee, of die nuwe "Nostalgic Neg"-verstelling om 'n "outydse" gevoel aan jou kiekies te gee.
Wat sê die syfers?
Die kamera het 'n 40 megaspikkelsensor; jou leggers gaan dus groot en gedetailleerd wees. Die videokapasiteit is 6.2 K en jy gaan lekker Instagram-reels kan skiet. Stilfoto's is egter die X100VI se ware tuisveld.
Koste R31 595; ormsdirect.co.za






