Die Thule Approach is ruim, gemaklik en mooi. Hy het 'n feitlik ondeurdringbare reënseil en groot vensters om 'n bries deur te laat. Die materiale is van uitstekende gehalte en hy's maklik om op en af te slaan. Wat maak hom anders as die deursnee-daktent?

In 'n japtrap
Ons het Thule se winkel in Bellville in die Kaap besoek en dit het die nutsmanne slegs vyf minute geneem om die daktent uit sy kartonboks te haal en op ons ryding se dakrelings vas te bout.
Dit het behels dat hulle twee Thule-dakstawe aanmekaarsit, die stawe aan ons voertuig se dakrelings vasmaak en die tent op die dakstawe laai - hiervoor het jy twee mense nodig wat saam 60kg bo hulle skouers kan lig. Laastens bout jy die daktent aan die stawe vas (Thule verskaf 'n wringsleutel op die koop toe) en sluit die monteerstukke toe sodat jou daktent nie gesteel kan word nie.
Om die heeltyd met 'n tent op jou voertuig se dak rond te ry is 'n vermorsing van brandstof. Thule het dit maklik gemaak om die tent in 'n japtrap te verwyder: Sluit die dakstawe se vier voetstukke oop, bout hulle los van jou voertuig se dakrelings en roep jou reismaat om die daktent te help aflig. Thule verkoop ook 'n hyser (R4000) waarmee jy manalleen die daktent tot teenaan jou motorhuis se plafon kan ophys.

Thule se nutsmanne het ons ook vinnig gewys hoe om die tent op en af te slaan. Die proses is eenvoudig: Rits die stofdigte dekseil oop, trek hom af, rol hom op en bêre hom in jou trokkie se laairuim. Die volgende stap is om die leer heeltemal uit te trek en dit te gebruik as 'n hefboom om die tent oop te vou.
Een mens sal dit kan doen, maar jy moet in staat wees om 30kg te kan lig.Die tent vou outomaties oop danksy kabels en katrolle binnelangs, en daar is geen pale wat verstel hoef te word nie. Verstel die leer tot jou gewenste hoogte en die laaste stap is om vier veerstaallatte in die vloer van die tent in te druk om die reënseil styf te span.

Die hele proses duur 'n minuut of twee afhangende van hoe geoefen jy is.
Om die tent af te slaan neem wel effens langer. Trek die veerstaallatte uit en gooi hulle in die tent. Stoot die tent met die leer toe en druk die bietjies materiaal wat langs die kante uitsteek, tussen die twee helftes van die vloer in - dit is hierdie stap wat die afslaan langer maak as die opslaan - en laastens rits jy die dekseil toe.
Dis verspotmaklik vir lang mense, maar as jy kort is, sal jy 'n leertjie moet gebruik.
Lê lekker hier bo
Die soort mense wat 'n daktent wil hê, soek 'n gemaklike matras en beskerming teen ongediertes wat op die grond loop of kruip. Nog 'n voordeel van 'n daktent is dat jy jou waarskynlik nooit hoef te bekommer oor reënwater wat in jou tent insypel nie, én dan, natuurlik, is jou uitsig dramaties beter.

Ná 14 nagte in die tent is ons oortuig die Thule Approach is een van die beste modelle waarin ons al ooit gekamp het. Die matras is net so gemaklik as dié van enige ander daktent wat ons al getoets het, maar waarmee dié spesifieke tent uitblink, is hoeveel ruimte daar binne is.
Die meeste daktente gebruik drie U-vormige hoepels om die dak te vorm, maar Thule gebruik vier van hulle om die tent meer reghoekig te maak en sodoende ekstra ruimte te skep binnelangs.
Die gevoel van ruimheid word verder versterk deur vier dakvensters, 'n venster by jou kop, en die ingang wat ook as 'n venster dien. Al die openinge kan heeltemal toerits - ons sou dit egter nie aanbeveel nie, want dit keer vars lug - óf heeltemal ooprits om lug vrylik deur te laat.
Al die openinge het maas sodat jy die maksimum hoeveel lug en lig na binne deurlaat maar muskiete buite hou. Daar is 'n sakkie aan elke kant van die matras waarin jy jou motorsleutels, selfoon, kopliggie en dies meer kan bêre.

Thule verskaf ook skoensakke wat jy aan die leer kan vasbind sodat jou stewels buite kan uitdroog. (Klik hier vir dit en ander bêreplekke.)
Wat lêplek betref, het die Thule Approach (medium) lengtegewys plek vir twee volwassenes gemaklik langs mekaar, en 'n baba of kleuter wat dwars lê by die kopkussings.
As julle drie is wat wil lepellê, verkoop Thule ook 'n groter Approach wat 4cm langer en 20cm breër is en R70000 kos.
Spesifikasies
Lengte (oop) 240 cm
Lengte (toe) 124 cm,
Breedte 143 cm
Nokhoogte binne 102 cm
Dikte (toe) 28 cm
Gewig 58 kg
Statiese vraggewig 300 kg
Prys R60 000
Handelaarsnetwerk
12 takke in Gauteng, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap
Kontak 066 212 6800; https://thulestore.co.za/catalogsearch/result/?q=Thule+Approach+Rooftop+Tentthulestore.co.zahttps://thulestore.co.za/catalogsearch/result/?q=Thule+Approach+Rooftop+Tent; thulestore@sportandcargo.co.za
Van die mededingers
Daktente met vergelykbare slaapplek

Tentco Safari 1.4 R16 660, 64 kg, tentco.co.za
Ironman 4x4 Uber Light R29 995, 47 kg, ironman4x4.co.za

Dometic TRT 140 R45 300, 48 kg, frontrunneroutfitters.com





