Buitelewe

Reis lig met jou kamera

Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Vir die ernstige amateur

Fujifilm X-S10

Fujifilm vervaardig dosyne spieëllose kameras teen verskillende pryse. Die meeste van die meer kompakte kameras herinner aan die beeldsoekerfilmkameras uit vorige dekades (sien die X100V hieronder).

Die probleem met dié soort ontwerp is egter dat die kamera nie 'n lekker greep bied nie, en dis moeilik om mee te skiet.

Die X-S10 is anders. Dis heelwat kleiner en ligter as 'n DSLR, bied vashouplek en het eenvoudige knoppies wat beteken jy kan begin foto's neem sonder om te veel daaroor te dink.

Met 'n resolusie van 26 megaspikkels is die gehalte uitstekend vir foto's én video's en die ingeboude stabilisasie sorg vir skerp beelde. Voorheen was die grootste kritiek teen spieëllose kameras die beperkte lenskeuses, maar dit het verander: Fujifilm bied nou lengtes van 16 mm-wyelens tot 150-600 mm-zoem en alles tussenin.

Die X-S10 is 'n puik alsydige speler as jy jou fotoneem-stokperdjie wil verfyn. Dis goed genoeg vir alle soorte foto's, van portrette van jou kinders tot natuurfoto's. Gou-gou stuur jy JPEG's sommer van jou kamera af. Kinderspeletjies.

R16 995 (net die kamera)

Vir die ywerige wildkyker

Nikon D500

Dié kamera is 'n paar jaar oud en dis 'n DSLR (!), wat tans die spel teen spieëllose kameras verloor, maar wanneer dit by wildlewefotografie kom, is die D500 steeds een van die heel beste op die mark. Veral as jy oor die jare heen in Nikon-lense belê het.

Aangesien dit 'n DX-formaatsensor het wat kleiner is as die Nikon FX-volraamsensor, het dit iets genaamd die "crop factor" wanneer jy met volraamlense skiet. Met ander woorde, 'n 400 mm-volraamlens word 'n 600 mm-lens sonder enige uitwerking op die lensopening of beeldgehalte.

Saam met die indrukwekkende krag en stewige outofokus en snelvuurfunksie wat 10 raampies per sekonde skiet, is dit 'n kamera waaroor natuurlewefotograwe, veral voëlfotograwe, droom.

Die knoppies en die wysers is waar dit moet wees en die kamera is goed toegerus om reënstorms en grondpaaie te trotseer. Namate spieëllose kameras die mark oorheers, gaan jy al meer spesiale aanbiedinge vir die D500 sien.

Kyk 'n bietjie, en bederf jouself voor jou volgende Kgalagadi-vakansie.

R34 995 (net die kamera)

Vir die avonturier

GoPro HERO10 Black

Duur elektroniese speelgoed is nie geskik vir onderwaterkaskenades of vir teen jou fiets-helm vasmaak wanneer jy teen 'n enkelspoor af jaag nie... Nee, 'n GoPro is die enigste ding wat sal deug.

Die Hero10 Black is beter as sy voorganger met 'n nuwe verwerkingskyfie en goeie beeldstabilisering vir skerp foto's ongeag hoe die weer lyk. Dit kan 4K-video's skiet en tot 23 megaspikkel-RAW-leggers neem.

Daarby het dit 'n hele reeks monteerstukke en hakies sodat jy dit aan byna enigiets kan vasheg. Jy sal verbaas wees hoe lekker dit is om foto's te neem wanneer jy nié veronderstel is om foto's te neem nie; soos wanneer jy snorkel, in die sneeu baljaar of rotsklim. Die Hero10 is piepklein, neem nie veel spasie op nie en sal nie jou rugsak soos lood laat voel nie.

R9 795

Vir die hipster-reisiger

Fujifilm X100V

Laat ek sommer hier verklaar: Dís die kamera wat ek gebruik; dus ek is effe bevooroordeeld. Dis 'n kompakte spieëllose kamera met 'n vasgestelde primêre lens, jy kan dus nie in- of uitzoem nie.

Jy moet op jou voete dink en mooi oor jou komposisie besluit voordat jy die sluiterknoppie druk. Ek is dol daarop. Ek hou ook daarvan dat die lens vinnig en skerp is met 'n maksimum-lensopening van f2, wat jou toelaat om mooi portretfoto's met goeie fokusdiepte te neem.

Fujifilm is bekend vir sy filmsimulasie-modusse, wat JPEG-beelde verseker wat soos Velvia, Provia, Astia en ander soortgelyke film lyk. (Jy kan met die druk van 'n knoppie deur al die modusse blaai.) Soos wat digitale fotografie al meer glansryk en realisties word, is tegnologie wat jou toelaat om terug te keer na die wortels van fotografie vertroostend.

Hierdie is 'n duur kamera, maar perfek as jy die kleiner dinge langs jou reisroete wil vaslê: 'n verkleurmannetjie op 'n tak, 'n kind wat die deur uitkykgleuf van 'n voëlskuiling glimlag of donderwolke wat oor 'n plein saamtrek.

Dis ook nie opvallend nie, wat dit geskik maak vir straatfotografie en dis kleiner as 'n spieëllose kamera met verstelbare lense... jy kan dit dus óral saam met jou dra.

R19 195

Vir die Insta-vlogger

Sony ZV-E10 met 'n skiethandvatsel

Dié klein spieëllose wonder is vir diegene wat elke dag op Instagram, YouTube en TikTok post. Dit bied 'n hele paar truuks: 'n geartikuleerde raakskerm wat kan uitvou en draai wanneer jy foto's op Turkse strande neem, en 'n ingeboude mikrofoon met sy eie wollerige windskerm vir 'n uitstekende opneemfunksie selfs wanneer die strand vol luide vakansiegangers is.

Die kamera word verkoop met 'n handige 16-50 mm-lens en 'n skiethandvatsel wat sommer as 'n driepoot kan dien en met afstand-beheer kan werk.

Die kamera neem ook skaflike foto's anders as net selfies. Die 24.2 megaspikkelsensor lewer skerp beelde teen 'n ISO van tot 32 000 (dit beteken jy kan tot lank ná sonsondergang foto's neem). Net soos Fujifilm het Sony ook sy reeks spieëllose lense uitgebrei en jy kan uit meer as 60 lense kies.

R12 995 met 'n 16-50 mm-lens en 'n Sony-skiethandvatsel

Beste hommeltuig

DJI Air 2S

Wanneer jy reis, bied hommeltuie heelwat nuwe geleenthede: Die rotspoele in 'n intergetysone raak abstrakte blou kolle langs 'n strand en jou kampplek in die Karoo lyk soos iets uit 'n kunsfliek wanneer die hommeltuig stadig daaroor beweeg.

Jy moet natuurlik weet wat jy doen en daar is wette oor die gebruik van hommeltuie. Jy mag dit nie in nasionale parke gebruik nie, ook nie naby enige lugvaartuie of binne 50 m van mense of bo-oor 'n private eiendom sonder toestemming nie. ]

Die DJI Air 2S weeg opgevou net 595 g, tog het dit 'n uitstekende 20 mega-spikkelsensor vir goeie foto's en puik hoëresolusievideo's. Die vlieg daarvan is redelik maklik, en met die hindernissensors sal jy nie sommer die tuig op jou gazebo laat neerstort nie.

R21 399

Vir die volraam-vervanger

Canon EOS R6

Nikon of Canon? Jy het destyds Canon gekies en brei sedertdien elke jaar jou lensversameling uit met jou Kersbonus. Maar koek, nou is spieëllose kameras die inding!

Moenie bekommer nie, Canon het besef hy kan nie sy duisende jare lange ondersteuners in die steek laat nie en 'n kopppelstuk (R2 195) gemaak vir al sy jongste spieëllose kameras wat jou in staat stel om steeds al jou EF- en EF-S-lense te gebruik.

Die R6 is 'n uitsonderlike kamera. Dis maklik om te gebruik, voel gemaklik in jou hand, die outofokus is onmiddellik en dit neem goeie foto's in lae lig te danke aan die 20 megaspikkel-volraamsensor.

Wanneer jy met die volraam begin eksperimenteer, het jy die amateurs agtergelaat en speel nou saam met die pro's. Met die R6 kan jy die soort foto's neem vir kompetisies en selfs uitstallings.

R45 995 (net die kamera)

Wil jy graag jou fotoneemvaardighede verbeter, maar jy weet nie mooi waar om te begin nie? Registreer vir ons kursus wat spesifiek ontwerp is vir amateurs om hulle pad te vind met die hope knoppies en keuses op hulle kamera. Jy sal ook leer hoe om nuwe tegnieke toe te pas vir wild-, natuur en reisfoto's. R950 eenmalig, registreer by neembeterfotos.weg.co.za. Daar is ook 'n nagfotografiekursus teen R300.

Puik selfone vir foto's

Samsung S22 Ultra

Hierdie is een van die beste kamerafone wat tans beskikbaar is. Die vyf, ja, výf, lense aan die agterkant span allerhande sagtewaretruuks in om zoem- en wyelens-effekte na te boots met verrassend min uitwerking op beeldgehalte.

Dit hanteer ook goed in lae lig en skiet video's soos 'n meester.

R19 500

Huawei P40 Pro

'n Lensstelsel ontwerp en gebou deur Leica? Natuurlik is dié kamera topgehalte vir foto's neem. By die meeste ander selfone beteken "zoem" bloot 'n vergroting van die beeld en verminderde gehalte, maar die Leica in die P40 Pro gebruik meganiese toorwerk wat 'n 5x- optiese zoem en ingeboude stabilisasie bied.

Daar is heelwat ondersteuning van die sagteware, en verskeie modusse wat die foon in 'n klein wonderwerk omskep.

R18 000

iPhone 13 Mini

Apple se sagteware is fantasties - dit verander relatief normale tonele in perfek beligte droomlandskappe.

Die wenner wanneer dit by kameravaardigheid kom, is die iPhone 13 Pro Max (dis in dieselfde WhatsApp-groep as die verstommende Samsung S22 Ultra), maar dis bonkig en duur.

Ons hou van die Mini, want dis klein genoeg vir jou gatsak wanneer jy gaan stap of fietsry én dit bied die meeste funksies, insluitend die Portrait- en Panorama-modus en het 'n nuttige wyelenstoepassing.

Vanaf R16 800

Reisbykomstighede

Joby GorillaPod 3K-driepoot met 'n bolkop

Die oorspronklike buigbare driepoot is steeds die beste. Hierdie driepoot met sy buigsame bene kan op byna enige oppervlak staangemaak word of van 'n boomtak af hang, en die balkop stel jou staat om steeds 'n waterpas horison af te neem.

Daar is verskeie GorillaPods beskikbaar afhangende van jou kamera. Dié ene kan 'n kamera-en-lens-kombinasie van tot 3 kg akkommodeer. Pak een vir jou volgende trippie en jy kan verlengde beligtingskote van die sterrehemel en watervalle neem én saans foto's langs die kampvuur skiet sonder om jou groot driepoot uit die kattebak te grawe.

R1 750

Killat Wax Moon

Dié plaaslike vervaardigde sak is opgestop om jou toerusting te beskerm en het twee verwyderbare afskortings. Dis groot genoeg vir 'n spieëllose kamera en 'n paar lense, asook 'n ekstra battery en laaier, maar is baie kleiner as 'n rugsak en makliker om te karwei.

Jy kan dit soos 'n moon bag om jou middel dra, oor jou skouer, of jy kan Velcro-stroke aan die versterkte band aan die bokant heg en die sak aan jou fiets se stuurstang vasmaak.

R950, killatgear.com

Lunar-kamerastrop

Hier is nog 'n trots Suid-Afrikaanse produk! Verpersoonlik jou kamera met die verskeidenheid van byderwetse ontwerpe. Elke strop is gemaak van gehalte-materiaal, en het 'n universele hegstuk wat ook vir verkykers werk.

Maar die belangrikste is dat dié strop gemaklik om jou nek sit... strate beter is daai fopleerband wat tans aan jou kamera is.

R399, lunarstraps.co.za

Let wel

Al die pryse is volgens ormsdirect.co.za (tensy anders vermeld), maar kyk ook by van die vele ander fotografiewinkels. Pryse is onderhewig aan verandering.

Jon Minster

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM