Buitelewe

Rek só jou ryding se reikafstand

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Bottari-brandstofkan

Tuindienste se keuse Jy't jou brandstofvoorraad haarfyn beplan, maar iets het skeef geloop en nou staan jy wraggies sonder petrol 10 km buite Pofadder. Moenie skaam kry nie; dit gebeur met ons almal.

Pleks daarvan om met 'n swaar jerrykan te stap, gryp jy 'n liggewig grassnyerkannetjie soos dié. Die kan het 'n klep langs sy prop wat keer dat hy opblaas wanneer die brandstof binne-in warmer raak.

Volume 10 l

Prys R270 by Builders

Kaufmann-brandstofkan

'n Klein soldaat Indien jy iets duursamer soek as die plastiekkan hierbo, maak Kaufmann Outdoors 'n kleinerige jerrykan wat agter jou bakkie se sitplek inpas.

Hy lyk nes 'n 20 l-jerrykan - die Navo-standaard - net korter en smaller. Kaufmann maak ook 'n tuit vir hom wat R195 ekstra kos.

Die tuit behoort ook op die meeste 20 l-jerrykanne te pas.

Volume 10 l

Prys R499 by Safari Centre

Pioneer Plastics-5 l-avontuurtenk

Klein én groot boublokke Hierdie kannetjies kom in 5 l-, 10 l- en 20 l-weergawes. Jy kan hulle op mekaar stapel, hulle het 'n drahandvatsel, en 'n gat in die middel stel jou in staat om hom sekuur aan jou voertuig vas te bout.

Pioneer Plastics verkoop 'n monteerstuk (R616) wat die kannetjies aan mekaar vashou. Die kanne is veral gewild onder avontuurmotorfietsryers en Jeep-eienaars.

Volume 5 l

Prys R390 by Pioneer Plastics

Motoquip- buigbare tregter

Skink my uit Indien jou jerrykan nie 'n tuit het nie, kan jy hierdie tregter aanskaf wat sal keer dat jy brandstof op die grond mors terwyl jy jou voertuig se tenk probeer aanvul.

Die tregter se punt kan buig sodat jy hom diep in die vulpyp kan indruk, maar ons het uit ondervinding geleer dis beter as jy 'n helpende hand het wat die tregter vashou.

Lengte 385 mm

Prys R89 by Outdoor Warehouse

Addis-tuit

Op die reserwebank Die proppe en tuite van plastiekkanne raak maklik weg, en dan is dit goed om te weet jy hoef nie 'n nuwe brandstofkan te koop nie, maar slegs die verlore dele.

Addis se tuit en prop word spesifiek vir sy kanne gemaak, maar dit behoort op heelparty plastiekbrandstofkanne met 'n 40 mm-nek te pas.

Lengte 250 mm

Prys R109 by Outdoor Warehouse

Securetech-wikkelpyp

Watwo suig? Druk die punt met die klep in 'n jerrykan en die ander punt in jou voertuig se brandstoftenk.

Wikkel die klep se kant op en af in die jerrykan... en kort voor lank begin brandstof uit die jerrykan na die tenk vloei!

Onthou, die brandstofkan moet hoër as jou voertuig se tenk wees sodat swaartekrag die werk kan doen.

Lengte 3 m

Prys R249 by Outdoor Warehouse

Pro-Quip-20 l-jerrykan

Bekende staatmaker Plastiekkanne van dié grootte is in die haak vir tuisgebruik, maar hulle is nie geskik vir hardebaard 4x4-avonture nie.

Kry die ware Jakob soos dié een deur Pro-Quip wat aan die VN se standaarde voldoen. Hierdie kan het 'n bekostigbare prys, 'n waarborg van 10 jaar en is beskikbaar in geel, swart en blou (laasgenoemde vir water).

Volume 20 l

Prys R450 by 4x4 Megaworld

Yates Steels-20 l-jerrykan

Rateltaai Engelsman Yates Steels is 'n Britse maatskappy met sy aanleg in Indië. Sy jerrykanne voldoen aan die VN se standaarde en die produk is beskikbaar in die kleure geel, swart, rooi en olyfgroen - almal vir brandstof.

In toetse is die kan vol brandstof getap en van 'n hoogte van 1,8 m laat val. Jy kan ook 250 kg bo-op laai sonder dat hy breek.

Volume 20 l

Prys R490 by Builders

Front Runner-20 l-jerrykan

Spoggerig in swart Front Runner se jerrykan lyk op die oog af presies dieselfde as Pro-Quip s'n, maar hy is satynswart geverf eerder as glansswart. Die sweiswerk lyk uitstekend, die kan voel stewig en die verf vertoon duursaam.

As geel, groen of rooi kanne te bont lyk vir jou luukse sportnutsvoertuig, kan jy beslis hierdie brandstofkan oorweeg.

Volume 20 l

Prys R680 by Safari Centre

Front Runner-jerrykanbeskerming

Kussings vir jou kan Soos jy uit die pryse op dié blaaie kan aflei, is 'n jerrykan allermins goedkoop - veral die spoggerige soort deur Front Runner - en daarom verskaf die maatskappy sponsplakkers wat jy op die brandstofkan plak.

Vier stroke beskerm die jerrykan se voor- en agterkant, en tien panele beskerm die sye teen krapmerke en duike.

Hoeveelheid 14 plakkers

Prys R108 by Safari Centre

Camp Cover-jerrykansak

Trek aan jou baadjie Indien jy etlike dekades se diens uit jou jerrykan wil hê, moet jy vir hom 'n sak aanskaf. Camp Cover se sak het twee gate bolangs vir die prop en die middelste drahandvatsel, maar nie die twee buitenste handvatsels nie.

Die ripstop-materiaal is duursaam en waterbestand, en die swaardiens-ritssluiter hou alles mooi toe.

Afmetings 36 x 16 x 49 cm

Prys R399 by Outdoor Warehouse

Desert Fox-brandstofsak

Sak, Sarel Avontuurmotorfietsryers gebruik eerder brandstofsakke as -kanne, want jy kan 'n sak opvou wanneer jy hom nie nodig het nie.

Enige 4x4-entoesias sal óók 'n nut hê vir die sak, want jy kan hom onder jou sitplek bêre tot die dag dat jy sonder brandstof gaan staan. Die tuit skroef uit en jy bêre hom in 'n vakkie langs die sak.

Volume 20 l

Prys R895 by Flying Brick

Vertikale jerrykanhouer

Jakob regop Hierdie jerrykanhouer deur Front Runner hou een brandstofkan en is gemaak om regop te staan teenaan byvoorbeeld 'n agterdeur. Die steunraam is stewig verby en die knip kan met 'n hangslot gesluit word sodat niemand jou brandstof vaslê nie.

Front Runner maak ook rame wat horisontaal op jou dakrak lê.

Gewig 4,6 kg

Prys R1 164 by Safari Centre

Dubbele jerrykanhouer

Tweeling op die dak Hierdie steunraam deur Shadow-line hou twee jerrykanne wat op hulle rug lê. Die arms wat die brandstofkanne vashou, keer ook dat 'n skelm by die jerrykanne se proppe kan uitkom.

Shadow-line maak ook 'n raam vir 'n enkele jerrykan wat R799 kos by Outdoor Warehouse. Die klemstuk het 'n waarborg van 7 maande.

Gewig Ongeveer 5 kg

Prys R1 200 by Outdoor Warehouse

/
/

Bushtech-jerrykanhouer

Pasgemaak vir drie Bushtech se monteerraam hou 'n 40 l-watertenk en 1 jerrykan - óf 3 jerrykanne. Die platform is nie gemaak om bo-op jou dakrak te monteer nie, maar eerder agterop 'n bakkie, op 'n Bushteck-kratraam (rondom R2 400).

Bushtech sê hy maak die stelsel vir 'n Bushtech-kappie en kan nie waarborg dat dit onder 'n ander kappie sal pas nie. Jy maak die brandstofkanne met ratstroppe vas en die prys hier is vir 'n Isuzu D-Max.

Gewig 4 kg

Prys R1 600 by Bushtech

Front Runner-langafstandtenk

Kom ons toer, broer Die produk wat ons hier wys, pas in 'n Toyota Fortuner se onderstel, maar Front Runner maak ook langafstandtenks vir ander voertuie. Dit vervang nie die standaardtenk nie en pas in die gaping tussen die noodwiel en die bakwerk.

Hy word gemaak van staal, en brandstof vloei deur middel van swaartekrag uit hierdie tenk na jou Fortuner se hooftenk.

Volume 50 l

Prys R8 403 by Front Runner

Pioneer Plastics-brandstoftenk

Jou eie vulstasie Hierdie yslike brandstoftenk hou 120 l en lê agterin jou bakkie se laaibak. Hy's bedoel vir avonturiers wat duisende kilometer moet aflê sonder enige vulstasies op die pad.

Sy afmetings is 81 x 50 x 33 cm, hy weeg 8,2 kg (leeg) en die binnekant is met fluoor behandel om die poliëtileenplastiek te beskerm.

Volume 120 l

Prys R2 640 by Pioneer Plastics

Pioneer Plastics-brandstofpyp

Sit petrol in jou pype Jy het 'n brandstofpyp nodig om 'n eksterne tenk met jou voertuig se hooftenk te verbind. Hierdie 10 mm-rubberpyp is 1,5 m lank en hy't 'n kraan met 'n 8 mm-staalbalklep.

Jy kan dit permanent laat installeer óf as 'n tydelike koppeling tussen tenks gebruik.

Lengte 1,5 m

Prys R649 by Outdoor Warehouse

LW

Pryse was teen druktyd korrek, maar dié van sommige items, veral ingevoerde produkte, kan te eniger tyd verander.

Cyril Klopper (teks en foto’s)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM