Buitelewe

Toerusting: Oulike kampgoed vir klein karre

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pierre bestuur ’n driedeur-Jimny waarmee hy onder meer deur die Richtersveld getoer en by Kasane in Botswana gaan draai het. Dis meestal Frontrunner- en Tentco-toebehore wat hy op sy dak saamry, met ’n National Luna yskas binne-in. Foto: Ronel Stey
Pierre bestuur ’n driedeur-Jimny waarmee hy onder meer deur die Richtersveld getoer en by Kasane in Botswana gaan draai het. Dis meestal Frontrunner- en Tentco-toebehore wat hy op sy dak saamry, met ’n National Luna yskas binne-in. Foto: Ronel Stey

Frontrunner Slimline II-dakrak

Selfs met die agterste sitplekke platgeslaan, is daar maar min pakplek agterin 'n driedeur-Jimny. Veral as jou 35l-kamp-yskas (sien onder) amper die helfte van die ruimte in beslag neem!

Dus sit amper elke Jimny-eienaar wat ernstig is oor grondpadry, 'n dakrak op. Die gewildste een is Frontrunner s'n. Hierdie bobaas Suid-Afrikaanse 4x4-toebehoremaatskappy het 'n verskeidenheid opsies afhangende van jou motor se fabrikaat en persoonlike voorkeure.

Dié een is net so lank en breed soos jou driedeur-Jimny se dak, en dis maklik om self aanmekaar te sit en op jou dak te monteer. Maar dit weeg altesame 31,5kg; as jou van nie Etzebeth is nie, gaan jy hulp nodig hê om dit op te tel en vas te skroef. Nou's daar plek om petrolkanne, ammokiste en kampbeddens saam te piekel!

Onthou 'seblief net om nie jou dak te oorlaai nie. Elke motor se dak het 'n dravrag-kapasiteit (dis in jou motor se handleiding) en nie net kan jy jou motor beskadig as jy te swaar laai nie, maar dit kan ook jou padhouvermoë beïnvloed.

Prys R10 870 by https://www.frontrunneroutfitters.com/en/za/suzuki-jimny-2018-curr-slii-roof-rack-kit-tall.htmlfrontrunneroutfitters.com

Frontrunner 20l-jerriekan

Het ons al genoem dat die Jimny 'n klein motor is? Dit geld ook sy petroltenk, wat in die driedeur- én vyfdeurmotors 'n kapasiteit van net 40l het. As jy die sandpaaie van 'n plek soos Mabuasehube in Botswana wil aandurf, gaan jy ekstra brandstof moet saamkarwei.

Dis waar die befaamde jerriekan ('n Duitse weermagontwerp wat sedert die Tweede Wêreldoorlog nog nooit verander het nie) tot jou redding gaan kom. Dis gemaak van 0.8mm-staal en het 'n petrolbestande emaljedeklaag. Twee sulke kanne pas netjies op hulle sye in 'n Frontrunner-"skinkbord" wat apart verkoop word (R1190) en wat maklik op jou dakrak inskroef. Nou kan jy jou petrolkanne vasklamp en met 'n slot sluit. 'n Jerriekan-tregtertjie (R65 by Frontrunner) maak dit maklik om brandstof uit die petrolkan by jou tenk in te gooi.

Prys R599 by https://www.frontrunneroutfitters.com/en/za/front-runner-20l-jerry-can-matte-black-steel-finish.htmlfrontrunneroutfitters.com

Tentco-ammokis

'n Goeie ammokis is 'n onontbeerlike stuk toerusting op 'n langpadsafari. Nie net hou hy alles bymekaar wat bymekaar hoort nie, maar dit bied beskerming teen stampe, stote en stof.

Jy kan dit binne die kajuit saamry of op jou dak vasmaak (Onthou: nie te swaar en te veel nie!). Ons hou van Tentco se ammokiste: Die knipslotte is sterk, dis gemaklik om te dra en een pas gemaklik op die ander. Die hoeke van die kis is met 'n dubbelwand versterk, daar's vasmaakplek vir stroppe en die deksel het gleuwe wat water toelaat om weg te vloei.

Prys R215 by https://tentco.co.za/product/tentco-box-ammo/tentco.co.za

Tentco-ammokissak (vir 2 kiste)

Stof en sand is derduiwels wat by jou bagasie gaan insypel as jy dit op die dak vasgemaak het en nie ordentlik met 'n beskermingslaag bedek nie. Wil jy nou regtig elke oggend jou vars onderbroek eers afstof of 'n sanderige stuk beskuit in jou koffie dompel?

Tentco het 'n reeks sakke vir ammokiste (van 1 kis tot 8 kiste) wat gemaak is van taai Ripstop-seil. Dit maak met 'n sterk ritssluiter én Velcro toe, die binnekant is met PVC uitgevoer en daar is lusse sodat jy die sak sekuur met stroppe kan vasmaak.

Prys R610 by https://campandclimb.co.za/product/tentco-bag-ammo-2-box-cover-80x24x40cmcampandclimb.co.za

National Luna 35l-yskas

As jy al ooit in Februarie se hitte deur die Kgalagadi getoer het, weet jy hoe onontbeerlik 'n ys- of vrieskas in jou motor is. Dit kan die verskil maak tussen 'n wonderlike vakansie of skeisake. National Luna is 'n Suid-Afrikaanse maatskappy met meer as 35 jaar se ondervinding in buitelewetoerusting, en 'n wye reeks ys- en vrieskaste vir elke motor.

Ek gebruik die klein 35l- model wat geskik is vir twee mense. Dis nie net 'n uitstekende yskas nie, maar pas perfek in die agterste linkerhoek van 'n Jimny. Dit weeg net 21kg, het 'n enkelkompartement met drie mandjies, 'n digitale termostaat, en skakel outomaties tussen AC- en DC-kragtoevoer. Die deksel kan in die lengte of breedte oopgemaak word (handig in so 'n klein motor waar daar nie noodwendig 'n glylaaistelsel ingebou is nie).

Daarby kan jy die NL Connect-toepassing op jou foon aflaai om via Bluetooth jou yskas ten alle tye te monitor. Hoewel jy nie

'n halwe eland hierin kan rondry nie, gaan dit jou bier en koeldrank lekker koud hou.

Prys R10 000 by https://www.outdoorwarehouse.co.za/product/national-luna-trailboss-series-stainless-steel-35-fridge-freezeroutdoorwarehouse.co.za

(Ek het ook my oog op die nuwe National Luna 35l-ys-en-vrieskas met twee aparte kompartemente wat binnekort bekend gestel word.)

Titan-kampstoel

Dis nie net die stoel se hoë rugkant, breë armleunings en gekussingde seil wat jou lekker laat sit nie.

Die Titan het allerlei truuks wat maak dat jy nie gou weer hoef op te staan nie: By jou regter-arm is 'n drankiehouer, en langs jou regterboud hang vier sakkies - twee nogal van sagte maas sodat jou donkerbril of selfoon nie krap nie.

Maar net soos wanneer Ox in 'n skrum sak, is dit die linkerkant wat jou kop gaan swaai: Hier hang 'n koelsakkie waarin nog twee biere hulle beurt afwag, mét 'n botteloopknakker aan 'n rekkie. (Ek't het mos gesê jy hoef nie weer vir enigiets op te staan nie.) Met 'n drakrag van 250kg sal dit vir Ox kan hou, mét Bongi op sy skoot.

Prys R1 150 by https://oztrailstore.co.za/product/titan-arm-chair-250kg-blue/oztrailstore.co.za

Easy Fold-kampbed

Só 'n bed pas net-net in die dwarsste agter 'n Jimny se voorste sitplekke in. Dis 'n gewiggie - 10,2 kg! - maar die staalraam gaan nie sommer onder jou meegee nie, en dit slaan steeds verbasend maklik op: Jy skud hom net oop, maak seker die pote is heelpad oopgevou en daar staan hy!

Die bed het 'n drakrag van 150kg en die raam is só ontwerp dat daar nie 'n dwarspaal aan die bo- of onderkant is wat teen 'n langeraat se skedel of hakke druk nie.

Dis 2m lank, 80cm breed en dié spesifieke model staan op 42cm hoër as 'n gewone kampbed. Dit help stram knieë met die opstaanslag! Daar's twee gaassakkies, 'n ritssakkie vir jou bril en Kindle langs die kant, en 'n hangmatjie wat jy as ekstra bêreplek onder die seil kan span.

Prys R1 900 by https://oztrailstore.co.za/product/easy-fold-stretcher-single-150kg/oztrailstore.co.za

Ironside-opvoutafel

Met 'n blad van 50cm x 100cm is hierdie tafeltjie perfek vir twee mense. Die teleskopiese pote kan tot drie hoogtes verstel - 45cm (vir plat op die grond sit), 62 cm (as 'n sytafeltjie) en 71cm (vir aansit).

Die drakrag van 200kg - tesame met die staalraam en -pote - maak dit sterk genoeg om 'n gasstoof en nog 'n paar kosmaakgoed op neer te sit. Die blad van polipropileen vee maklik skoon.

Prys R1 000 by https://oztrailstore.co.za/product/ironside-fold-in-half-table-100cm/oztrailstore.co.za

Genesis II 4V-tent

Dié koepeltent het deur twee kwaai donderstorms sy man gestaan! Nie die vloer óf nate het 'n druppel gelek nie, en die goedgeplaasde toue het al die pante stewig geanker gehou.

Dié liggewig tent slaan makliker op as sy eweknieë van seil. Die koepel is in sy geheel van goggabestande gaas (uitstekende ventilasie!) wat in 'n japtrap aan twee oorkruis-glasveseltentpale vashaak. Die boseil het voor én agter 'n deur en 'n groot oopritsvenster aan elke sykant.

Die nok staan 'n gerieflike 1,8m hoog en die vloerspasie is 2,2m x 2,4m - groot genoeg sodat twee kampbedjies inpas met sowat 'n halfmeter se spasie tussenin. Die portaaltjie voor die een deur voeg nog sowat 'n meter se toeritspakplek by die tent. Opgevou in sy sloop is die tent maar so dik soos 'n rugbybal en sowat 60cm lank, en weeg net minder as 6kg.

Prys R2 200 by https://oztrailstore.co.za/product/genesis-4v-dome-tent/oztrailstore.co.za

Pierre Steyn en Sophia van Taak

CTA