Buitelewe

Vat die régte gereedskap

Foto: Louis Hansel/Unsplash
Foto: Louis Hansel/Unsplash

Ons moet by voorbaat noem as jy goed vertroud is met 'n hidrouliese rattrekker en die wringlas van enige gegewe bout ken sonder om dit na te slaan, dan is hierdie artikel nié op jou gemik nie. Maar as "rattrekker" en "wringlas" vir jou eerder na Grieks klink, moet jy jouself eerlik afvra hoe gekonfyt jy is met voertuigherstelwerk.

As jy byvoorbeeld nog nooit self 'n homo­kinetiese koppeling in jou Toyota Hilux ver­vang het nie, help dit nie om 'n hamer, beitel, pons, 17mm-, 19mm- en 35mm-sok, woelyster en wringsleutel in te pak nie. En jy moet darem weet watter splitpenne jy met jou splitpentrekker moet uittrek voor jy aan die werk spring.

Die meeste van ons weet egter hoe om olie, gloeilampe en vonkproppe te vervang, en as iets los is wat eintlik vas moet wees - of andersom - kan jy jou gesonde verstand gebruik om dit reg te maak. Lees gerus voort as jy inderdaad hierdie soort mens is.

Ons het met Hein Burnett van Burnco-4x4 gaan gesels oor watter gereedskap hy inpak op sy reise deur Afrika. Hein het in sy 71 somers al derduisende kilometers in Afrika afgelê en amper alles gesien wat verkeerd kan loop. Hy sê "amper", want nou en dan duik iets op wat selfs hom verras.

Hein grawe 'n gekrapte gereedskaptas onder die sitplek van sy Land Rover Defender 110 uit (die vorige model, natuurlik) en sit dit voor ons neer. Die handelsmerknaam - Würth - is verdof, maar die gereedskap in die tas lyk taamlik nuut. Hein reageer met: "Die gereed­skap word gereeld gebruik; ek pas dit net op."

Würth se Zebra-gereedskapstel met sy 91 stukke kos ongeveer R7000, maar dis na Hein se mening een van die beste beleggings wat jy kan maak. Hy beduie eers met sy wysvinger na 'n mesmoertang op sy heup: "Dié ding gaan oral saam met my. Werk, troues, begrafnisse, oral."

Dan wys hy na die gereed­skap in die tas wat hy die tweede meeste gebruik: 'n sykniptang, waterpomptang, skroewedraaiers, 'n ingenieurshamer, sokke en moersleutels. Volgens hom is kombinasiesleutels met 'n ring aan die een punt beter is as oopbeksleutels. "Dié stel is gewoonlik genoeg om die meeste van jou probleme op te los. Jy is boonop veronderstel om jou voertuig voor te berei en seker te maak alles werk vóór jy op jou reis vertrek.

"En laat ons nou maar eerlik wees: Die kans dat jou sleepwa of toebehore soos jou dakrak gaan breek, is báie groter as dat jou ryding jou in die steek gaan laat. Ek sien baie méér dat avonturiers omdraai en huis toe gaan as gevolg van 'n stukkende waterpomp vir die kampstort of 'n lekkende lug­matras," skerts Hein.

Hein glo dit is onprakties om 'n volledige werkswinkel in jou bostrokkie te vervoer. "Vir die gemiddelde mens is dit beter om net die nodige te neem, en as iets erg skeef loop, los jy dit eerder vir jou versekering."

Hy bieg wel dat sy gereedskap­stel nie 100% in sy behoeftes voorsien nie omdat 'n paar sokke en moersleutels makeer - die stel het byvoorbeeld nie 'n 23 mm-sok of -sleutel nie. "Dis waarom ek ook 'n skroef- en bobbejaansleutel saamvat," sê Hein.

Hier is die gereedskap wat nie in sy gereedskapstel ingesluit is nie en wat hy altyd saamvat.

Die kans dat jou sleepwa of toebehore soos jou dakrak gaan breek, is báie groter as dat jou ryding jou in die steek gaan laat.

Bobbejaansleutel

"Ek gebruik hierdie meneer om yslike boute te takel wat te groot is om met my sokstel los te draai. Ons het sy steel effens dunner geslyp sodat ek 'n pyp daaroor kan trek vir groter hefvermoë."

Epoksigom

"Weet jy, gom is 'n onderskatte gereedskapstuk. Ek gebruik verbasend baie gom op my reise. Jy verseël 'n lekkende brandstoftenk, lap 'n gekraakte oliepan en baie meer - selfs jou skoensole!"

Kleefband

"Naas epoksigom gebruik ek nogal baie kleefband. Verskeie soorte kleefband lap lugpype, brandstofpype en selfs uitlaatpype. Hulle sê as dit vas is en dit moet los wees, gebruik Q20; as dit los is en dit moet vas wees, duct tape hom!"

Koubeitel

"'n Mens kan meer met 'n koubeitel doen as wat jy dink. Soms sit 'n prop vas en dan moet jy hom ooptimmer; ander kere is 'n moer se kop só rond dat 'n moersleutel hom nie kan roer nie, dan beitel jy hom los."

Ponse

"Jy't twee nodig: 'n dunner een met 'n skerp punt, om fyn onderdele los te tik; en 'n groter een met 'n stomp punt, om groot yster los te moker. Gebruik jou pons om stukkende slotte oop te breek en skewe goed reguit te timmer."

Skerppunt- en kniptang

"Die sykniptang in my gereedskapstel is gewoonlik genoeg, maar soms is die werk delikaat en dan het jy 'n skerppunttang nodig. Ander kere moet jy draad of plaat knip en daarvoor gebruik jy 'n kniptang."

Skroefsleutel

"My bobbejaansleutel is net te groot en lomp vir kleiner boute en moere. Soms vind ek 'n bout of moer waarop geen van my moersleutels en sokke pas nie, en dit is waar die skroefsleutel handig te pas kom."

Tangsleutel

"Ek noem hom sommer 'n vice-grip. Hy draai boute met geronde koppe uit, en ek het hom selfs al gebruik om 'n gebarste remvloeistofpyp toe te knyp sodat ek darem remkrag het in drie wiele."

Vonkpropsok

"Jy hoef net een te hê - die een wat op jou ryding se vonkproppe pas. Jy behoort hom min, indien ooit, te gebruik, want jy's eintlik veronderstel om jou vonkproppe met nuwes te vervang vóór jy op 'n reis vertrek."

Vyle

"Boute se skroefdraad het soms 'n braam wat keer dat hy in sy gat wil indraai, dan vyl jy sy punt ronder. Sommige ouens neem 'n elektriese hoekslyper saam, maar met 'n bietjie geduld werk 'n vyl ook."

Woelyster

"Glipsies gebeur soms, en dan is jou ryding se wielboog só diep ingebuig dat hy dreig om 'n band te sny. Buig hom weer reg met 'n woelyster of koevoet. Die hamer in 'n gereedskapstel werk nie so goed om koue metaal reg te moker nie."

Ystersaag

"Onthou ook ekstra lemme. Ek het nog nie aan my ryding gesaag nie, maar dit gebeur soms dat jy 'n verstrengelde ketting of 'n gebuigde A-raam moet afsaag voordat jy dit kan herstel."

Die gesprek tussen ons en Hein het nie hier opgehou nie. Daar is nog 'n paar ander dinge wat by hierdie lys uitgesluit is - soos smeltdrade, OBD2-diagnoseerders, staalborsels, smeermiddel, olie, ensovoorts. Maar wat harde gereedskapstukke betref, gaan ons volstaan met die items hierbo.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM