Veldblomskou raak vanjaar nostalgies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Blomkerk aan die bopunt van Clanwilliam se hoofstraat, is die perfekte “huis” vir die Clanwilliam-veldblomskou. Die kerkie is al sedert 1973 die tuiste van die skou, maar daar word al vanaf 1961 blomskou op dié dorp gehou.
Die Blomkerk aan die bopunt van Clanwilliam se hoofstraat, is die perfekte “huis” vir die Clanwilliam-veldblomskou. Die kerkie is al sedert 1973 die tuiste van die skou, maar daar word al vanaf 1961 blomskou op dié dorp gehou. (Alicia Erasmus)

Die Clanwilliam-veldblomskou, met die tema "Nostalgie", vind vanjaar vanaf 23 Augustus tot 3 September in die Blomkerk op die dorp plaas.

Die welbekende Leon Kluge, wenner van verskeie toekennings vir landskapuitstallings oor die wêreld heen, insluitend toekennings vir sy uitstallings by die Chelsea-skou in Engeland in 2010, 2012 en weer vanjaar, sal die uitstalling op 22 Augustus open.

Leon is 'n internasionaal bekroonde landskapontwerper, kunstenaar, botanis, aanbieder en skrywer. Hy is ook veral bekend vir die videos oor interessante plante en blomme wat hy op so­siale media plaas.

Die De Beers van Clanwilliam en die Gribs van Citrusdal se blomme het vanjaar in Kluge se uitstalling in Chelsea gepryk en hopelik sal hierdie blomme weer in die blomskou te sien wees.

In ooreenstemming met die tema "Nostalgie" word daar vanjaar gemymer oor die blomskoue van toeka se dae, oor die vrywilligers wat die skou op die been gebring het en hoe die blomskou deur die jare ontwikkel en uitgebrei het. Foto's van die eerste blomskoue wat destyds gebou is en van blomskoue deur die jare, sal ook uitgestal word.

"Kerkdienste is in die Blomkerk aangebied vanaf 1864 tot 1964 en daarna het die kerkie in die hoofstraat van Clanwilliam die tuiste van die blomme geword," vertel Erna du Plessis, voorsitter van die Clanwilliam-veldblomvereniging. "Dis met groot dankbaarheid en 'n sterk gevoel van nostalgie wat daar teruggekyk word oor die jare van blomskou hou. Die blomskou word deur die jare deur vrywilligers uit die dorp geskep en dis aan hierdie vrywilligers wat ons hierdie jaar wil hulde bring. Dis 'n unieke gebeurtenis wat so eie is aan Clanwilliam en ons is baie trots daarop.

"Ons kontrei het lekker reën gehad, ons dam loop oor en ons bergpieke was onlangs spierwit van die sneeu. Dit beteken dat die kanse baie goed is vir 'n goeie blomjaar. Die veld is grasgroen en met die opvolgreën wat die afgelope paar weke uitgesak het, sal die veld binnekort sy heel beste voetjie voorsit."

Die Clanwilliam-veldblomvereniging beywer hulle baie sterk vir die bewaring en beskerming van die veldblomme van die streek en streef daarna om die publiek bewus te maak van die broosheid en skoonheid van die veldblomme tydens die blomskou. Die vereniging verleen ook advies en bystand aan die Ramskop-natuurtuin, Clanwilliam se dorpstuin.

Blomkykers word sterk aanbeveel om ook die Ramskop-natuurtuin, geleë op die wal van die Clanwilliamdam, te besoek. 'n Groep vrywilligers werk regdeur die jaar in die tuin en dit beloof om 'n lushof te wees gedurende die lentemaande. Die tuin is in 1960 tot 'n natuurreservaat geproklameer. Blomkykers kan die blomme geniet deur die talle voetpaadjies deur die tuin te bewandel. 'n Magdom van plante en blomme kan hier van naderby bekyk word. Daar word tydens blomtyd ook ligte etes in die kafeteria bedien.

Die blomskou is oop op bogenoemde datums vanaf 08:30 tot 16:30 daagliks. Toegang beloop R80 per volwassene en R10 per kind. Vir navrae oor verblyf, stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Kyla Smit by 083 331 8802. Vir navrae oor die blomskou, bel die voorsitter, Erna du Plessis, by 082 889 9555. Vir enige algemene navrae, bel die Clanwilliam-toerismekantoor by 027 482 2024 of 078 766 0688.

Alicia Erasmus

SPELETJIES VANDAG

CTA