
Piesanggeurige bevrore jogurt
• 3 piesangs, in stukke gekap en gevries
• 350 ml dubbelroom-jogurt, in ysbakkies gevries
• 45 ml onversoete grondboontjiebotter
• 60 ml gouestroop
• sowat 100 ml melk of klapperwater
• 30 ml sjokoladebrokkies
• 'n hand vol neute
Dié resep is maklik om te maak as al die bestanddele klaar gevries is. Wees maar geduldig; dis beslis die moeite werd! Sit eenvoudig die bevrore piesangs, jogurt, grondboontjiebotter en gouestroop in 'n voedselverwerker wat bevrore items kan hanteer, en verwerk tot romerig; gebruik die melk of klapperwater om die tekstuur aan te pas. Dié heerlike bevrore jogurt kan jy dadelik geniet, of giet dit in 'n gepaste houer en vries vir 'n paar uur tot ferm. Sit voor met sjokoladebrokkies, neute en ekstra stroop.

Gemmerdoppies
• 125 ml botter
• 125 ml bruinsuiker
• 125 ml gouestroop
• 5 ml fyn gemmer
• 200 ml koek-koringmeel
• roomys en bessies vir voorsit
1 Sit die botter, suiker, stroop en gemmer saam in 'n klein kastrol en smelt oor lae hitte (die mengsel moenie kookpunt bereik nie); roer tot al die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en roer die meel in tot glad. Laat die mengsel effens afkoel; dit sal ferm raak.
2 Voorverhit die oond tot 160 °C en voer twee bakplate met bakpapier uit. Skep lepels vol van die deeg daarop uit en druk effens plat. Maak seker al die koekies het genoeg ruimte om uit te sprei en bak vir 8-9 minute of tot goudbruin en borrelend. Haal dit uit die oond, plaas die koekies versigtig oor die onderkant van 'n muffinpan en laat heeltemal afkoel - dit sal 'n bakkievorm aanneem. Werk vinnig omdat dit minder buigsaam word namate dit afkoel. Vul dit met roomys en jou gunstelingvrugte of bessies.

Roomystoebroodjies met hawermoutkoekies
• 200 g sagte botter
• 200 g (250 ml) bruinsuiker
• 1 ekstragroot eier
• 5 ml bakpoeier
• 140 g (250 ml) koekkoringmeel, gesif
• 2 ml koeksoda
• 500 ml gerolde hawermout
• 12 balle roomys
1 Klop die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eier by en klop tot dit gekombineer is. Voeg die bakpoeier, meel, koeksoda en hawermout by en meng tot 'n sagte deeg.
2 Voer 'n bakplaat met bakpapier uit, verdeel die deeg in 24 porsies en druk plat op die bakplate om die koekies te vorm. Bak vir 15 minute per bakplaat in 'n voorverhitte oond teen 180 °C tot goudbruin en bros. Laat die koekies heeltemal afkoel.
3 Sit 'n roomysbal tussen twee koekies en sit dadelik voor.
Pst! Dollie dit op met strooiversiersel en lekkers.














