Kos + wyn

Die pampoen se paradoks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wat maak van 'n pampoen 'n pampoen? Hoekom laat dit sommige mense geluk smaak, maar rakel weer eksistensiële angs op by ander?

In "Die dag van die pampoen"vertel die skrywer André P. Brink hoe hy elke jaar op 16 September, "in son of reën", op sy vriend Breyten Breytenbach se verjaardag 'n pampoen gaan koop.

Albei skrywers het in die 1960's in Parys gebly en in die Franse hoofstad is die soektog na die perfekte pampoen " 'n reis en 'n avontuur wat dae van voorbereiding kos". Volgens Brink ken die Parisiennes nie pampoen nie.

Sou hy die regte pampoen raakloop, een "wat in sy eie heerlikheid lê en smeul . . . die soort pampoen (wat jou) in Aspoestertjie laat glo", was dit inderdaad 'n magiese oomblik.

Met die stap en skryf saam laai Brink sy nuutgevonde pampoen "swaar met simboliek", want vir Breytenbach kan 'n mens nie "sommer net 'n pampoen gee nie".

Die pampoen word 'n "towerding" wat 'n ontmoeting met ene "Bruinoog" en "Rooikop" bewimpel - twee doedies wat aanvanklik vir sy pampoen-swaardra lag, maar hy later aan't bier drink gaan. Dít bring hom tot die besef: "Dit glo ek nou onwrikbaar: 'n pampoen is die raad vir enige eensame man in Parys." 'n Pampoen kon in 1960 se Parys dieselfde funksie verrig as Tinder, blyk dit my.

Die einste pampoen noop hom om ook filosofies te raak: "O, daar is baie sonde en narigheid in die loop van 'n jaar. Maar op die Dag van die Pampoen is ons gelukkig; dan sit ons binne-in ons geluk en broei soos pitte in 'n groot pampoen. Daar is dae dat ons seer en kwaad is vir die mense oor die lang see of duskant; en daar is dae dat ons verstote voel. Maar op die Dag van die Pampoen eet ons vir ons 'n pad terug tot in die binnehart van ons boermense, tot in die boepens van die heerlike oranje son."

Wurgpampoen

Maar in Breytenbach se "Fascistiese pampoen" wat Brink se vertelling geïnspireer het, kry die groente 'n sinistere geurtjie en los jou ná die tyd met 'n beklemming op jou bors.

" 'n Man het 'n pampoen gekoop vir sy verjaardag die sestiende September."

In 'n ou koerant toegevou op die bus op pad huis toe, het dit kompleet geklink asof die pampoen " 'n grommelende geluid" uiter, begin Breytenbach se kortverhaal. Tuis het die gesin 'n "kabaal" gehoor ná die pampoen met sorg in die yskas gebêre is.

"Die verdomde pampoen het die vis opgeëet," gil die vrou.

Die pampoen word na die vensterbank verban. Maar die volgende oggend is die pam-poen skoonveld en 'n griesel- rige toneel wag op die gesin. "Van die dogtertjie het slegs haar ou skoene onder die bed oorgebly."

Die man se vrou het geween, hy het geweet sy dogtertjie is "prinses in die maan". Maar al wat hy eintlik gesoek het, was sy pampoen "om aan te smul vir (sy) verjaardag die sestiende September".

In die kortverhaal simboliseer die pampoen die land van Breytenbach se herkoms. Dat die pampoen "fascisties" is, word beskou as skrynende politieke kommentaar op apartheid-era Suid-Afrika se veragte landsbeleide.

Soet en bitter

Die twee skrywers se uiteenlopende interpretasies van 'n pampoen laat my wonder.

Hoekom ervaar party mense die groente as 'n Aspoester-koets vol gelukkige toevalle, en ander dit as 'n onheilspellende pampoenspook wat teenspoed voorspel?

In die professor van literatuur Helize van Vuuren en die rolprentmaker Charles Tait se akademiese artikel "Die verjaardagversritueel in Breyten Breytenbach se oeuvre: 1964-2014" ontdek ek die skrywes van Albert Lintvelt, argitek en kortverhaalskrywer.

Waar pampoen(koekies) my nostalgies laat voel, rank Lintvelt se skrywes in 'n heeltemal ander rigting.

Hy skryf: "Snaaks dat pampoen, tog 'n bogrondse ding, volop is. Maar nie op die haai aarde nie. Op afdakke uitgepak om daar, náder aan die hemel, dorwitryp te word: skedels van skil, nes dié van been wat, oogloos, oraloor in die veld boontoe smeek om reent."

Ek skrik nie maklik vir koue pampoen nie, maar Lintvelt se witgerypte pampoenskedels laat my vel kriewel - dis veel meer onrusbarend as die Amerikaanse "Jack-o'-lanterns" oftewel pampoenspoke. Die vrolike, grynslaggende pampoengesigte maak gewoonlik voor Allerheiligeaand (Halloween) hul verskyning op die Yanks se stoepe.

Ook die pampoenspook, en by verstek Allerheiligeaand, se betekenis is verdelend.

Sommige mense vereenselwig dit met die bonatuurlike en paganistiese rituele, ander sien dit as die aanloop tot die Amerikaanse feestyd - en raak nostalgies oor die koestering van kuiers rondom 'n tafel wat kreun onder kalkoen en pampoentert.

Eet alles!

Van kleintyd af moes ons alles op ons bord eet.

Dis vir jou ingeskep en sou jy jou neus optrek, is jy gou herinner aan al die honger kinders wat hul oogtande sou gee vir die drellerige spul op jou bord.

Ek gril my nou nog 'n papie vir soetpampoen met deurweekte brood.

Maar met pampoenkoekies - dik gestrooi met kaneel en suiker - kan jy my in 'n wip vang.

Pampoenkoekies is my mad­e­leine-oomblik, waarna die Franse skrywer Marcel Proust in sy magnus opus, À la re­cherche du temps perdu, oftewel " 'n Soeke na verlore tyd", verwys. Proust skryf oor die reuke en smake wat herinneringe spontaan by ons laat opdoem. Vir hom is dit 'n hap van 'n mad­eleine-koekie, 'n Franse suurlemoensponskoekie in die vorm van 'n skulpie.

Toe hy op 'n dag dié koekie in tee dompel, is hy oorrompel deur gelukkige kindertydherinneringe by sy tannie Leonie, wat vir hom die sponskoekies gevoer het.

Eners as Proust se made­leines, neem pampoenkoekies my terug na my kinderjare, spesifiek Sondagmiddae wanneer ons gesin rondom die geelhouttafel gekuier het - monde blinkgesmeer van skaapboudvet en tande wat knars op bruinsuiker en dan wegsak in soete, malse pampoenmoes.

Ilse Zietsman
Ilse Zietsman (SYSTEM)

Pampoenskrywes

Nes Brink en Breytenbach is talle Afrikaanse skrywers ook deur pampoene geïnspireer.

Die Suid-Afrikaanse filosoof Marthinus Vers­feld begin sy kortverhaal "Die pampoen" só: "Aanskou hierdie pampoen. 'n Mooi vaalblou boerpampoen. Die helder, klewerige diamantdruppels sit nog aan die stengel waar jy hom gesny het."

Hy gaan voort: "Mooi woord, pampoen. Dis so pammerig en poenerig. Dit voel sommer swaar. So klink hy as jy hom klop. Hef hom in jou hande. Jy moet hom optel. Hy is nie een van jou windblase van pampoene nie. Solied."

En dan: "Streel hom, en laat jou hande onder oor sy gladde ronding loop. Waaraan laat dit jou dink? Tot hier toe, en nie verder nie, dominee. Jy kry sommer lus vir die pampoen."

Ek's nie so seker dié filosoofskrywer se inspirasie het nét van pampoen gekom as ek die voorafgaande paragraaf beskou nie. Maar, voorwaar, ék kry sommer lus vir pampoen!

Dus, moenie 'n Jan Pampoen wees nie. As jy nog nie 'n pampoen vir vandag, 16 September, het nie, laat jou koets se wiele rol. Maak 'n nostalgiese pampoenresep uit jou ouma se dae of die pampoenkoekieresep, met roomkaasglasuring vir 'n kontemporêre kinkel.

Vier só ons pampoenbehepte Afrikaanse skrywers. En ons kostradisies.

  • Zietsman is 'n vryskutskrywer van die Paarl.

Pampoene in boere-kookkuns

Boerpampoene, murgpampoen, hubbardskorsies, kromnekpampoene - almal is 'n integrale deel van Suid-Afrika se kulinêre landskap.

Wat sou 'n tipiese bord boerekos met vleis, rys, aartappels en groenboontjies gewees het sonder die pampoendis? Of dit nou pampoenkoekies, soetpampoen of pampoenpastei op die tafel is, ons Afrikaners kén van, en is lief vir, pampoen.

C. Louis Leipoldt se kos-oeuvre het pampoenbredie, -blatjang en -poffers ingesluit.

Reeds in 1993 skryf die gevierde kosskrywer Peter Veldsman in sy boek Teetydtreffersdat die "kookkuns van Mexiko . . . hier in ons land . . . ook al hoe gewilder (word)". Vandaar sy resep vir 'n TexMex-pampoentert, wat hy die baksters aanraai om saam met 'n tequiladrankie "aan die meer avontuurlike gaste" te bedien! Die gewilde kosskrywer Nettie Pikeur (Madeleine van Biljon) het in "dik sop in die stormwind", veral aan skorsiesop en lepellê geglo.

Lepellê het haar aangestaan; nietemin was sy "fyn geteel", want sy het "gegril vir jagstories". In haar woorde: "Mies Pikeur het grootgeword op 'n regte ou koperbed . . . so 'n bed is gemaak vir lepellê. Klim . . . tussen jou komberse in, en lê met jou koue knieë agter jou lovertot dié begin mor. Dan eet julle om middernag sop, wanneer die dak dreig om af te waai."

By haar skorsiepampoensop bedien sy "roosterbrood en botter sonder end, natuurlik; of feta-kaas vir die soutigheid."

Pampoenkoekies met roomkaas-glaseersel

Lewer 10-12 koekies

Bestanddele:

1 k fyngemaakte pampoen, reeds gaar (500 g rou pampoen gee sowat 1 koppie pampoenpuree)

1 eier

2 e strooisuiker

1 t vanielje-ekstrak

1 k meel

1 t bakpoeier

'n knippie sout

1 t kaneel (opsioneel)

olie vir braai

Vir die roomkaas-glaseersel

½ koppie volroom-roomkaas, kamertemperatuur.

4 e ongesoute botter, kamertemperatuur

1 k strooisuiker

½ t vanielje-ekstrak

'n knippie sout

1/4 koppie volroommelk. (Voeg meer by as die glasuring te dik lyk)

Só maak jy:

Vir die glasering

1. Klits die roomkaas en botter saam totdat dit glad en sonder klonte is.

2. Voeg die vanielje-ekstrak en sout by en klits weer. Voeg nou die strooisuiker by, totdat alles gemeng is.

3. Voeg nou die melk bietjie vir bietjie by, totdat die mengsel 'n dik maar steeds loperige voorkoms het. 4. Verkoel, en begin die pampoenkoekies voorberei.

Vir die pampoenkoekies

1. Kook die pampoen totdat dit sag is. Laat dit afkoel en verwerk in 'n voedselverwerker tot glad. As jy nie 'n voedselverwerker het nie, sal 'n aartappelstamper deug.

2. In 'n mengbak, klits die eier, strooisuiker en vanielje-ekstrak saam.

3. Voeg die pampoenpuree by die eiermengsel en meng deeglik

4. In 'n aparte mengbak, sif die meel, bakpoeier, sout en kaneel saam.

5. Voeg die droë bestanddele by die nat bestanddele en meng dit totdat alles mooi saamgevoeg is. Moet egter nie te lank meng nie, anders word die koekies taai.

6. Verhit 'n bietjie olie in 'n pan oor medium hitte - drup 'n bietjie deeg in die olie, as dit sis, is die temperatuur reg.

7. Skep lepelsvol van die deeg in die verhitte pan. Braai die pampoenkoekies totdat hulle goudbruin en gaar is - dit neem sowat 2-3 minute per kant.

8. Haal die koekies uit die pan en plaas dit op 'n afkoelrak met kombuispapier om die oortollige olie te dreineer en af te koel.

Voordat jy die pampoenkoekies opdien (dit moet steeds warm wees), gooi die glasering oor, en maak seker elke pampoenkoekie is deeglik bedek.

Bedien as bykos of nagereg.

Wenk: Verlepte, pap pampoenkoekies kan weer nuwe lewe gegee word in 'n lugbraaier deur dit vir sowat 3-5 minute teen 180 °C te bak.

Pamperlang 'n pampoen

In April in die Groot-Karoo is daar The Nieu Bethesda Pump Palooza-pampoenkompetisie, waar pryse toegeken word vir die grootste, kleinste en mooiste pampoen. Daar is ook stalletjies en vermaak. Besoek facebook.com/PumpPalooza vir volgende jaar se datums.

Die Cullinan-boere-unie se Go­liat van Gat-pampoenfees (facebook. com/goliatvangatpampoenfees/), word jaarliks by die Boeremark in Pretoria gehou. In 2023 was Wykus Lamprecht van Meyerton, Gauteng, die wenner met sy tamaai Goliat-pampoen, wat hy Lizbeth genoem het. Lizbeth het die skaal op 890 kg laat kreun. Besoek facebook.com/goliatvangatpampoenfees vir meer inligting.

  • Heidelberg in die Wes-Kaap het reeds volgende jaar se datum vir hul Groot Pampoenkompetisie aangekondig: 4-6 April. Die fees het ook die Suid-Afrikaanse rekord vir die swaarste pampoen - 'n bielie van 904,5 kg wat in 2022 deur 'n Mosselbaaise boer, Willem le Grange, gekweek is. Besoek pumpkinfestival.co.za vir meer inligting.
  • Die Pampoen Padstal buite Worcester sorg vir pampoenfotogeleenthede en 'n magdom pampoene te kus en keur wanneer dit pampoentyd is.

Die padstal is sowat 10 km buite Worcester op die R60 in Robertson se rigting geleë.

Op die oewers van die Krom­rivier in die Cederberge brou Melanie en Tania Nieuwoudt Spicy Pumpkin Ale met geure van kaneel, neutmuskaat, wonderpeper, gemmer en vanielje. Besoek nieuwbrew.co.za vir meer inligting

Leeslys

  • "Die dag van die pampoen" verskyn in André P. Brink seLatynse reise (1990) waar die skrywer reisstaaltjies van sy besoeke aan Frankryk, Italië, Spanje en Portugal deel.
  • "Fascistiese pampoen" het oorspronklik in Breyten Breytenbach se Katastrofes (1964) verskyn. Dit is herpubliseer in die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham H. De Vries.
Ilse Zietsman

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM