- 125 ml - gesmelte botter
- 1 blik (385 g) - kondensmelk
- 250 ml - versiersuiker
- 250 ml - wit- of ligbruinsuiker
- 5 ml - vanieljegeursel
- - ’n knippie sout
- 125 g - Chuckles-moutpoffertjies in sjokolade
Foto Greg Cox
1 Voer 'n 23 x 23 cm-pan uit met bakpapier. Plaas die botter, kondensmelk en die suikers saam in 'n diep mikrogolfbestande bak en mikrogolf dit vir 2 minute saam op hoog. (Die fudge borrel hoog tydens die kokery en as jou bak te vlak is, sal dit oorkook.) Haal uit die oond en roer goed deur.
2 Kook nou vir 2 minute op 'n slag, vyf tot ses keer ná mekaar, en roer goed ná elke keer. Die mengsel sal stelselmatig dikker word en die kleur donkerder, wat jou 'n aanduiding gee dat die fudge reg is. Die sterkte van jou mikrogolfoond kan die kooktyd beïnvloed.
3 Voeg nou die vanielje en sout by en klop driftig vir 'n paar minute met 'n houtlepel. Dié stap is belangrik, anders sal die fudge nie goed stol nie. Die kleur sal dowwer raak en dit sal van die bak se kante af wegtrek. Roer die helfte van die sjokoladeballetjies by die fudge (wees gewaarsku, van dit gaan wegsmelt) en hou die res om bo-oor te strooi.
4 Giet die fudge in die voorbereide pan en strooi die laaste balletjies bo-oor. Druk effens platter, maar moenie te veel karring om dit gelyk te kry nie, want dan smelt al die sjokolade. Sny die fudge met 'n skerp mes in netjiese blokkies voordat dit heeltemal afgekoel het; laat dan heeltemal afkoel. Bêre in 'n lugdigte houer in die yskas.















