- 16 - hoendervlerkies
- - sout en peper
- - mielieblom
- - groente-olie vir diepbraai
- 30 ml - Koreaanse Gochujang-pasta
- 30 ml - bruinsuiker (of heuning)
- 30 ml - 30 ml laesout-sojasous
- 10 ml - sesamolie
- 2 cm - vars gemmer, geskil en gerasper
- 1 - groot knoffelhuisie, fyngerasper
Foto's Greg Cox

1 Gebruik 'n skerp mes of kombuisskêr en sny die punte van die vlerkies af (hou dit vir aftreksel); sny dan elke vlerkie deur by die gewrig. Geur die hoender met sout en peper, vryf in en laat staan vir 5 minute.

2 Doop die gegeurde vlerkies in die mielieblom - maak seker elke stukkie is goed bedek. Skud enige oortollige mielieblom af.

3 Diepbraai al die vlerkies gelyktydig vir sowat 15-20 minute in 'n groot kastrol met olie. Hou die hitte matig warm: Die eerste braaislag is om die hoender stadig gaar te braai, die tweede keer is vir kleur en knars.

4 Skep al die vlerkies uit die olie, dreineer op kombuispapier en wag 'n paar minute. Braai die hoender dan 'n tweede keer tot bros. Werk nou in sarsies, pleks dat jy weer al die vlerkies gelyktydig braai. Skep die brosgebraaide vlerkies uit die olie en dreineer weer op kombuispapier.

5 Terwyl die vlerkies braai, meng die bestanddele vir die glaseersel in 'n klein kastrol en verhit totdat die suiker gesmelt is. Verwyder van die hitte en staan reg met jou kwas.

6 Bestryk elke vlerkie oraloor met glaseersel en rangskik al die bros happies op 'n dienbord. 'n Strooisel geroosterde sesamsaad, gekapte sprietuie of 'n paar klein basilieblaartjies is opsionele ekstras.
7 Indien jy nie Gochujang-pasta in die hande kry nie, gebruik srirachasous of jou gunsteling-rissiepasta soos sambal oelek.















