Kos + wyn

Trek dit uitmekaar: Potbrood gevul met salami, mozzarella en kruie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 1 kg - koekmeel
  • 2 teelepels - sout
  • 1 eetlepel - suiker
  • 1 pakkie (10 g) - kitsgis
  • 625 ml - louwarm water
  • 1 eetlepel - olyfolie
  • - Vir die vulsel
  • 2 eetlepels - botter vir smeer
  • 2 eetlepels - olyfolie
  • 1 teelepel - knoffelpoeier
  • 1 teelepel - gedroogte Italiaanse kruie
  • 200 g - salami- of gerookte hamskyfies
  • 300 g - mozzarella, in 2 cm-blokkies gesny

1 Meng die koekmeel, sout, suiker en gis in 'n mengbak. Maak 'n holte in die middel van die droë bestanddele, voeg die water en olie by en meng met die hand totdat die deeg bymekaarkom. Keer die deeg op 'n skoon oppervlak uit en knie vir 10 minute totdat dit elasties en sag is en nie meer aan jou hande vaskleef nie. Smeer met 'n bietjie olie, sit terug in die mengbak, bedek met 'n klam vadoek en laat rys tot dubbel die volume.

2 Smeer 'n no.6-platboompot en sy deksel met botter. Vorm die deeg in 18 ewe groot balletjies. Meng die olyfolie, knoffelpoeier en kruie. Doop die balletjies een-een in die olie, druk dit in jou handpalm plat, sit 'n skyfie vleis en 'n blokkie kaas bo-op en vorm weer in 'n balletjie. Pak die balletjies in die voorbereide potjie en herhaal totdat al die deeg en vulselbestanddele opgebruik is. Smeer enige oorblywende olie bo-oor, sit die deksel op en laat dit op 'n warm plek staan om te rys tot die volume weer verdubbel het.

3 Plaas die potjie oor matige kole en skep 'n paar kole bo-op die deksel.Bak die brood vir sowat 'n uur of totdat die brood hol klink as jy daarop klop.Sit voor met 'n tamatiesalsa of pesto. 'n Strooisel vars basilie en parmesaan is ook goeie pasmaats.

Wenk

Kies kortpad met gekoopte brooddeeg as jy nie lus is vir knie nie.

Johané Neilson | Foto: Shelley Christians