
Heerlike hoenderpotjie
Dié hoenderpotjie sal jou al die basiese beginsels van 'n heerlike potjie leer. Hoewel dit 'n eenvoudige resep is, smaak dit vorentoe danksy al die geure van die verskillende bestanddele wat saamspan.
WAT JY NODIG HET
Genoeg vir 4
- 8 hoenderboudjies
- braaisout
- 2 eetlepels (30 ml) olyfolie
- 1 ui, gekap
- 2 aartappels met die skil aan, in kwarte gesny
- 2 wortels, geskil en in stukke gesny
- 1 pakkie (250 g) sampioene
- 1 sakkie (50 g) tamatiepasta
- 1 koppie (250 ml) vars room
LAAT WAAI!
1. Geur die hoenderboudjies met braaisout.
2. Giet die olyfolie in die potjie en plaas die potjie op 'n warm vuur.
3. Voeg die boudjies en die ui by. Roer met 'n houtlepel of braaitang en braai die boudjies sowat 10 minute of tot dit oraloor bruin is of die ui begin aanbrand, wat ook al eerste gebeur. Makliker gesê: Sodra die boudjies bruin is of die uie begin aanbrand, gaan na die volgende stap.
4. Voeg die aartappels, wortels, sampioene, tamatiepasta en room by en plaas die deksel op die potjie.
5. Jy wil nou hê dit moet oor matige hitte prut; skuif dus die potjie na 'n koeler deel van die vuur of krap van die vlammende kole onder die potjie weg. Laat 1 uur prut. Lig die deksel elke nou en dan en skraap enige taai stukkies weg wat aan die potjie se bodem vassit. Kyk ook dat dit prut, maar nie droogkook en aanbrand nie.
6. Haal die deksel ná 'n uur af en laat die potjie sowat 10 minute oop kook of tot jy dink dis net reg om te eet. Die gaarmaaktyd vandat jy die leë potjie op die vuur gesit het tot nou sal altesaam sowat 1 uur 20 minute wees, maar dalk 'n bietjie langer of korter.
7. Sit die potjie met rys, vars brood of roosterkoek voor. Geniet!

Biltongbraaibroodjies
Suid-Afrika se gunsteling-peuselhappie langs die vuur.
WAT JY NODIG HET
Lewer 6
- 2 rooi-uie, in dun ringe gesny
- olyfolie
- 12 snye brood
- 1 houer (250 g) ongegeurde roomkaas
- 1 koppie (250 ml) fyngekapte biltong (vra die grootste, sterkste een in jou gesin om dit op te kap)
- 240 g cheddarkaas, in skywe gesny of gerasper
LAAT WAAI!
1. Braai die uie in 2 eetlepels (30 ml) olyfolie in 'n pan oor matige kole tot baie sag en goudbruin. Dit duur sowat 10 minute. Haal van die hitte af.
2. Bou die braaibroodjies: Smeer olyfolie aan die een kant van elke sny brood - die oliekant sal buitentoe wys wanneer jy die braaibroodjie aanmekaargesit het. Pak 6 snye met die gesmeerde kant na onder op 'n snyplank. Smeer roomkaas oor en pak die saggebraaide uie en gekapte biltong in lae bo-op. Sprinkel 'n laag gerasperde cheddarkaas oor. Maak die broodjies toe met die oorblywende snye brood - onthou, die oliekante moet buitentoe wys.
3. "Braaibroodjies is draaibroodjies": Braaibroodjies word in 'n toeklaprooster gebraai en moet gereeld omgedraai word. Probeer om 'n rooster te gebruik waarvan jy die binnehoogte kan verstel sodat jy die braaibroodjies mooi stewig in die rooster kan toemaak. Jy wil lae tot matige hitte hê en die rooster moet taamlik hoog bo die kole wees. Die kaas moet goed smelt en die res van die vulsel moet deurwarm wees teen die tyd dat die brood se buitekant goudbruin is.
4. Nadat jy hulle 'n paar keer gedraai het, moet jy die toeklaprooster effens oop- en weer toemaak om te keer dat die broodjies aan die rooster vassit.
5. Verwyder uit die rooster sodra die broodjies reg is, sny skuins in die helfte en sit dadelik voor.

Piesang-en-Nutella-rolletjies
Dis Jan Braai se mees virale resep op sosiale media. Die video het binne 'n paar dae meer as 'n miljoen kykers gehad en dit neem steeds toe.
WAT JY NODIG HET
Lewer 6
- 1 pot Nutella
- 6 tortillavelle
- 6 piesangs, geskil
- vanieljeroomys of geklopte room vir voorsit
LAAT WAAI!
1. Smeer 'n laag Nutella op elke tortillavel. Maak seker jy smeer dit tot by die rand. Nutella gee nie net geur aan die gereg nie; dis ook die "gom" wat die rolletjie bymekaar hou. Moenie suinig daarmee wees nie; smeer die velle goed, maar jy hoef ook nie die hele pot te gebruik nie!
2. Plaas 'n geskilde piesang teen die rand van die tortilla op die kant wat met Nutella gesmeer is, en rol die tortilla een keer om die piesang. Vou die kante van die tortilla by die punte van die piesang na binne sodat die hele rolletjie so breed soos die piesang is. Rol die piesang verder styf toe tot dit lyk soos 'n groot Chinese rol. Albei punte sal toe wees en die rolletjie moet netjies en styf opgerol wees. Herhaal met die orige piesangs en tortillavelle.
3. Pak die klaargemaakte rolletjies in 'n toeklaprooster en braai sowat 10 minute oor matige hitte. Draai aanhoudend, nes die braaibroodjies. Elke rolletjie het vier kante wat na die kole kan wys. Wanneer die bo- en onderkant van die rolletjies oor die kole gebraai het, moet jy die rooster oopmaak. Draai die rolletjies met 'n braaitang sodat die ander twee kante wat minder hitte gekry het, na die kole toe wys. Maak die rooster weer toe en braai verder.
4. Die rolletjies is reg wanneer die buitekant bros gerooster is en die piesang binne-in sag is. Sny elke rolletjie in die helfte en sit voor met roomys of room.















