"Blind bak" beteken jy bak die deegdop sonder die vulsel tot dit gedeeltelik of heeltemal gaar is voordat jy die vulsel inskep. Dit verseker 'n bros kors.
Maak die broskorsdeeg
Die resep is genoeg vir minstens twee korse van 23 cm in deursnee, afhangend van hoe dik jy die deeg rol.

1 Sif 280 g (500 ml) koekmeel, 10 ml suiker en 'n knippie sout saam in 'n mengbak. Rasper 190 g koue botter met die growwe kant van 'n rasper by die meelmengsel in; vryf dan die botterfrummels met jou vingerpunte by die meel in totdat dit soos broodkrummels lyk. Alternatiewelik kan jy al die bestanddele saam pols in jou voedselverwerker.

2 Meng 1 eiergeel, 20 ml yswater en 5 ml suurlemoensap bymekaar en knie tot 'n gladde deeg. Let wel: Die hoeveelheid vloeistof in 'n deegresep is net 'n riglyn, want die voggehalte van die meel kan wissel - oordeel daarom self of nog 'n bietjie water nodig is om die deeg te laat bymekaarkom.

3 Verdeel die deeg in twee gelyke dele en vorm elkeen in 'n skyf, bedek met kleefplastiek en laat dit sowat 30 minute in die yskas rus. Dit maak die deeg ferm en makliker om uit te rol.
Rol die deeg, voer die pan uit en bak blind

1 Rol die deeg eweredig uit sodat dit effens groter is as die pan wat jy wil gebruik ('n quiche-pan werk goed). Neem dan 'n koekroller en rol die deeg versigtig daaroor; lig die deeg tot bo die pan, laat sak en rol af oor die pan.

2 Vou die deegrande na binne en maak seker dit sal die bodem van hoek tot kant bedek. Vou dan die deeg terug oor die rand en druk dit liggies met jou vingerpunte teen die kante van die pan vas om die dop te vorm.

3 Werk die rande netjies af deur die koekroller oor die bokant van die uitgevoerde pan te rol.

4 Dié stap is opsioneel, maar ek druk altyd die deeg met my vingerpunte in die quiche-pan se gleufies sodat die dop die vorm van die riffelrand aanneem. Prik die bodem oraloor met 'n vurk en verkoel 30 minute lank in die yskas - dit keer dat die deeg krimp terwyl dit bak.

5 Voer die rou kors uit met 'n stuk bakpapier en vul dit met 'n laag droëbone. Die gewig van die boontjies keer dat die deeg inkrimp in die oond. Bak die tertkors sowat 10 minute in 'n voorverhitte oond teen 180 °C. Haal die bakpapier en bone uit en bak nog 5 minute of totdat die basis ferm en ligbruin is.
Vulsel

Vir 'n klassieke Franse suurlemoentert klits jy 2 eiers, 100 g suiker, 150 ml room, die gerasperde skil en sap van 2 mediumgroot suurlemoene en 50 g gesmelte botter saam.

Giet dit in die kors. Bak die tert vir 15 minute by 180 °C, draai dan die temperatuur af na 160 °C en bak dan nog 20 minute of tot net-net gestol. Laat afkoel.
WENKE
• Laat die kors altyd afkoel voor jy dit vul.
• Voeg 'n strooisel laventelblommetjies by die vulsel vir ekstra geur.
• Garneer die tert met meringue as jy wil en skroei dit met 'n blaasvlam.
















