Die Chinese vervaardiger Jaecoo het pas ’n kompakte nuts in Suid-Afrika bekend gestel, ’n segment waarin talle vervaardigers kaalvuis om ’n hap van die koek baklei.
Die Jaecoo J5 is basies die grootte van die Toyota Corolla Cross en Urban Cruiser, maar met pryse wat wissel tussen sowat R380 000 en R480 000, en ’n lang lys toerusting, bied hy hope waarde vir geld.
Net om die geheue te verfris, die Jaecoo-handelsmerk is deel van die Chery-groep, wat ook die Omoda-handelsmerk besit. Die modelle deel onderstelle, ratkaste en enjins, asook die vermaakstelsel wat binne gebruik word.
Jaecoo verteenwoordig die groep se meer stylvolle modelle en dit kan ook gesien word in die J5 se voorkoms.
Die J5 het ’n redelik hoekige profiel wat nogal soos ’n baba-Range Rover lyk, terwyl die groot sierrooster met sy vertikale chroomstawe ook ’n treffende vooraansig bied.
Die J5 skuif onder die groter J7-sportnuts in, en is benewens ’n kleiner lyf ook sowat R140 000 goedkoper.
Daar is drie modelle plaaslik te kies, met almal wat deur die Chinese se 1,5-liter-turbopetrol aangedryf word.

Krag gaan na die voorwiele met ’n CVT-tipe outomatiese ratkas.
Die drie afwerkingsvlakke is die Vortex, Glacier en Inferno met selfs die intreemodel wat alreeds ’n goeie lysie luukses bied. Dit sluit in 17-duim sierwiele, lugversorging, ’n kompakte digitale raakskerm, ’n tru-kamera met gonsers agter, spoedbeheer en outomatiese hoofligte.
Die Glacier bied stemmingsbeligting bykomend, ’n panoramiese sondak, leerbekleedsel en ’n dakrak, asook elektriese verstelling vir die bestuurder se sitplek. Daar is ook outomatiese hoofligte.
Die Inferno kry op sy beurt groter 18-duim sierwiele, dikker glas om klankdigting te verbeter, verkoelbare sitplekke voor, dubbelsone-klimaatbeheer en ’n elektroniese luikdeur.
Nog items sluit in ’n selfstopfunksie, trukamera en koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon.
Goeie waarborg ingesluit
Die vyfsitplek-J5 bied ’n groot laairuim agter en ’n moderne kajuit. Ons sien onder meer ’n groot, vertikaalgeplaaste raakskerm en ’n skoon instrumentpaneel. Daar is ook satellietknoppies op die stuurwiel om enkele items vanaf die stuurwiel te beheer.
Die J5 kom standaard met ’n 5 jaar/150 000 km-waarborg en ’n 5 jaar/75 000 km-diensplan.












