Motors

Mini bal vuis in EV-landskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Mini is stadig maar seker besig om sy voete in die nuwe landskap van batterymotors te plaas met die nuwe weergawe van sowel sy Cooper as die Countryman-sportnuts wat as EV's en binnebrandenjin-modelle aangebied sal word.

Trouens, die nuwe Countryman kry 'n heel nuwe, EV-gefokusde platform wat in samewerking met die Chinese reus Great­ Wall Motors ontwerp is.

Die twee nuwe modelle het vroeër die maand hul eerste verskyning in Duitsland gemaak. Regterstuur-weergawes behoort vroeg volgende jaar na Suid-Afrika te kom.

Die Countryman het nogal heelwat in lyf gegroei. Dis Oliver Heilmer, die ontwerper, wat by die Mini staan. Die nuwe platform is saam met GWM ontwikkel.
Die Countryman het nogal heelwat in lyf gegroei. Dis Oliver Heilmer, die ontwerper, wat by die Mini staan. Die nuwe platform is saam met GWM ontwikkel.

Langpad vir die Countryman

Die Countryman het heelwat in lyf gegroei - hy is nou 14 cm langer, maar sy bekende voorkoms is grootliks behou. Die roosters van sowel die Cooper as die Countryman eggo dié van die huidige Cooper SE (die batterygedrewe model) met 'n raam wat om die rooster strek en 'n mooi aksent vorm.

Die nuwe platform vir die Countryman kan 'n batterypak én e-motors akkommodeer sowel as 'n binnebrandenjin en ratkas.

Twee EV-weergawes sal vir die Countryman te kies wees (oorsee, ten minste, dis nog onduidelik watter modelle na SA sal kom). Altwee kry 'n 65 kWh-battery, met die Country- man Electric E wat net een e-motor het op die vooras, en die Countryman Electric SE wat twee e-motors het, een op elke as.

In die intreemodel bied die kragbron 150 kW en 250 Nm wringkrag, terwyl die SE met 230 kW en 494 Nm aangedryf word.

Ons hou van die nuwe, moderne instrumentpaneel met sy digitale instrumente. Die Countryman kry heelwat pakplek by in sy laairuim.
Ons hou van die nuwe, moderne instrumentpaneel met sy digitale instrumente. Die Countryman kry heelwat pakplek by in sy laairuim.

Reikafstand vir albei lyk heel skaflik met die enkelmotor-model wat 462 km kan behaal volgens Mini se somme, terwyl die tweemotor-weergawe 'n reikafstand van 433 km het.

Die nuwe Countryman bly steeds 'n praktiese stadsnuts. Mini sê die bagasieruim kan 460 liter sluk terwyl daar 'n holte onder die laaivloer gevorm is waar jy jou herlaaikabels kan bêre. Die agterste rusbank kan ook 13 cm vorentoe gly op spore en die rugleunings in ses posisies vorentoe kantel om ekstra pakplek en groter gerief te skep.

Die instrumentpaneel word basies met die kleiner Cooper gedeel. Albei is nou heeltemal digitaal, met die tradisionele sopbord-groot spoednaald in die middel wat behou is. Daar is geen instrumente agter die stuurwiel nie, met al die inligting wat nou in die groot, ronde raakskerm ingebou is.

Die raakskerm benut BMW se jongste verwerkingstelsel en kan onder meer met stembevele (wat met "Hei, Mini!" geaktiveer word) gebruik word.

Mini sê die stelsel is ook intuïtief en kan jou gewoontes aanleer, soos bv. om jou vensters oop te rol as jy by die huis aankom.

Die nuwe Mini Cooper en Countryman het pas hul verskyning in Europa gemaak en behoort vroeg volgende jaar hul weg na SA te vind. Albei sal voortaan met EV-weergawes te kry wees.
Die nuwe Mini Cooper en Countryman het pas hul verskyning in Europa gemaak en behoort vroeg volgende jaar hul weg na SA te vind. Albei sal voortaan met EV-weergawes te kry wees.

Koelkop-Cooper

Die kleiner Cooper sal ook voorlopig as sowel 'n EV-model as 'n petrol- en dieselmodel te koop wees. Omdat Mini teen 2030 slegs EV's in sy portefeulje wil hê, het hy egter minder aan hierdie projek bestee - die nuwe model is grootliks gebaseer op die platform van die uitgaande Mini.

Die Cooper E as intree-EV-model sal met 'n 41 kWh-battery toegerus wees wat 135 kW en 290 Nm wringkrag na die voorwiele stoot. Reikafstand word op 305 km geraam.

Die frisser Cooper SE kry 'n groter 54 kWh-battery wat 160 kW en 330 Nm bied, en goed genoeg is vir 'n geraamde 400 km-reikafstand.

Wat petrolmodelle betref, behoort die Cooper weer met 'n 1.5-liter-turbo in Suid-Afrika aangebied te word, beskikbaar in twee kragvlakke.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM