
Sedert die Duitsers agter die stuur ingeskuif het, het Mini weer van krag tot krag gegaan en onlangs het die nuutste weergawe van die ougat Cooper-luikrug sy verskyning hier gemaak.
Dit is weer as 'n drie- en ietwat ruimer vyfdeur beskikbaar, terwyl die turbo-enjinopsies 'n 1,5-liter vir die Cooper C en 2,0-liter vir die ratse Cooper S insluit.
'n Sewespoed- dubbelkoppelaar-ratkas sorg vir gladde ratwisseling.
Ongeag die enjinkeuse, is die Mini oudergewoonte baie pret om te bestuur, maar die hantering en rit voel meer gesofistikeerd as dié van sy voorgangers.

'n Uitskieter-kenmerk is die Mini se binneruim, wat topgehalte-afwerking het en spog met al die hedendaagse tegnotruuks.
Hoewel die vyfdeur-weergawe 'n bietjie meer prakties is, is dié motors nie noodwendig die Mini-modelle wat geskik is as 'n gesinsryding nie en moet jy dan eerder na die Countryman-sportnuts kyk.
'n Mens kan nie help om van die Mini te hou nie en BMW verdien 'n klop op die skouer vir hoe hulle dit weer eens suksesvol herinterpreteer het.
- Pryse begin by R602 000

















