Motors

Ruimer Mini hier vir SA gesin

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Straks nie so aantreklik as sy sportiewer tweedeur-broers nie bied Mini se nuwe vyfdeur-modelle steeds meer praktiese waarde en benutbaarheid.
Straks nie so aantreklik as sy sportiewer tweedeur-broers nie bied Mini se nuwe vyfdeur-modelle steeds meer praktiese waarde en benutbaarheid.

Mini se nuwe vyfdeur-weergawe van sy gewilde Cooper is binnekort in Suid-Afrika te kry met die modelreeks en -pryse wat pas gefinaliseer is.

Die vyfdeur bied meer pakplek in die laairuim en meer beenruimte vir die agterste bestuurders danksy die bakwerk wat met 17 cm gerek is teenoor dié van die driedeur-model. Die asafstand het ook met 7 cm aangegroei, wat by die ekstra beenruimte gesien kan word.

Die voorkoms van die nuwe vyfdeur-Mini is straks nie so treffend as die jongste Countryman nie. Mini se ontwerpers het werklik die A-span nadergeroep toe die sportnuts-weergawe in die Mini-gesin sy geboorte op die sketsbord gevind het. Daarteenoor is die vyfdeur-model baie meer besadig en eintlik tradisioneel met heelwat lyne wat aan die Mini's van ouds herinner.

Daar sal twee modelle plaaslik te kry wees, die Cooper C en Cooper S, terwyl elkeen in drie afwerkingsvlakke gebied word, naamlik Classic, Favoured en John Cooper Works. Dié John Cooper Works-benaming is egter net die afwerkingsvlak (soos Hyundai se N Line, teenoor die afsonderlike, warm N-modelle), en moet nie verwar word met die volwaardige John Cooper Works-model, wat later sal kom nie.

Benewens die drie afwerkingsvlakke sal kopers uit 'n handvol ekstra toerustingpakkette kan kies. Mini het in elke pakket 'n rits tipiese toerusting gebondel wat hy glo kopers tradisioneel saam sou bestel het. Dit sluit in die Classic- (R21 200 vir die Cooper C en R31 000 vir die Cooper S) en Signature-pakket (R35 700 en R44 500), asook die Comfort- (R38 000), Comfort Plus- (R40 000) en Iconic-pakket (R46 700). Laasgenoemde drie pakkette is slegs vir die Cooper C beskikbaar.

Ons hou van die moderne kajuit met sy ronde raakskerm wat in die middel van die voorpaneel geplaas is. Die afwerkings is modern en smaakvol gedoen.
Ons hou van die moderne kajuit met sy ronde raakskerm wat in die middel van die voorpaneel geplaas is. Die afwerkings is modern en smaakvol gedoen.

Netjiese kajuit

Die Cooper C ry met die BMW-groep se bekende 1.5-liter-petrolturbo met drie silinders wat 'n matige 115 kW en 230 Nm wringkrag na die voorwiele stuur.

Die Cooper S op sy beurt benut 'n 2.0-liter-turbo (150 kW, 300 Nm) vir sy ekstra woema.

In die kajuit sien ons die nuwe, plat en ronde raakskerm wat ons pas in die groter Countryman die eerste keer raakgeloop het. Die raakskerm huisves al die nutsfunksies en die trukamera, en bestaan uit 'n baie dun skerm wat netjies teen die middelpaneel geplaas is.

Die ikone is nuut en bevat pragtige, dinamiese beelde in volkleur wat ook manipuleerbaar is met die vingerpunt (jy kan 'n beeld van die Mini met die vinger rondbeweeg, kantel en swaai op die skerm).

Albei die C- en S-model het 'n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe), maar die Mini's kom standaard sonder spane agter die stuurwiel. Sou jy ratspane wou hê, sal dit jou 'n bykomende R65 000 uit die sak jaag.

Die nuwe vyfdeur-Mini word voor die einde van die jaar hier verwag.

Pryse:

  • Mini Cooper C - R624 052; en
  • Mini Cooper S - R676 395

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM