Met die wintervakansie op hande, wanneer vele Suid-Afrikaners weer die lang pad gaan aandurf, en heel moontlik ’n wa, boot of woonwa gaan sleep, het Ford Suid-Afrika ons weer van die moets en moenies van sleep te vergewis met ’n praktiese demonstrasie van die Ranger se sleepvriendelike stelsels.
Met ’n 3 500 kg-sleepvermoë kan die Ranger feitlik enigiets saamsleep, selfs groot veldrywaens, tog moet eienaars verseker dat die totale gewig van sy sleepvoertuig én -wa binne die wetlike perke val, veral wanneer die sleeptuig óók bordensvol gelaai is.
Natuurlik moet motorryers ook verseker dat hul sleepvoertuig én -wa padwaardig is, en dat die banddruk van albei tuie vir sleep aangepas is. Kyk veral of die sleepwa-bande se leeftyd nog geldig is, en of die spoedgradering daarvan ooreenstem met dié van die sleeptuig.
Deur korrekte sleepmetodes te volg, kan ’n aansienlike verskil maak om die veiligheid van jou en jou gesin, asook ander padgebruikers, te verseker – en dis dié metodes, asook die Ranger se doelgerigte sleepstelsels, wat Ford op die Gerotek-toetsbaan aan ons gedemonstreer het.
Ook moet bestuurders ag slaan daarop dat die gewig van ’n sleepwa groter momentum tot gevolg het, dus moet remafstande aangepas word. En in ag geneem word dat hierdie gewig ook ’n groot invloed op voertuig-beheer en maneuvreerbaarheid het.
Die topmodelle in die Ranger-reeks is van die min sleepvoertuie met intelligente stelsels om sleep veiliger, meer beheerbaar en minder stresvol, te maak. Dié stelsels help om haak, koppeling en maneuvrering te vergemaklik, swaai te neutraliseer, en selfs die dryfstelsel-krag na gelang van sleepomstandighede aan te pas.
Van hierdie gevorderde stelsels sluit in dinamies haakhulp (Dynamic Hitch Assist), beskikbaar in die Ranger Tremor, Wildtrak, Wildtrak X, Platinum en Raptor modelle) wat die 360-grade trukamera gebruik om die sleeptuig akkuraat te posisioneer (dit het selfs ’n inzoem-funksie) om die sleepwa maklik te haak.
Ook het dié modelle ’n truhulp-stelsel genaamd Pro Trailer Backup Assist with Trailer Reverse Guidance, wat die bestuurder help om die sleepwa gerieflik en gemaklik in posisie te stoot of trek. Dit werk saam met die bestuursmodusse se kiesdraaiknop en gebruik die afmetings van jou sleepwa (wat vooraf ingevoer word) om enige rigtingverandering akkuraat te kalibreer. Tot tien waens se afmetings kan ingevoer word. Oulik, en dit werk...
Die sleep-bestuursmodus (Tow Haul Drive Mode) vergemaklik die sleepproses deur die dryfstelsel se krag- en wringkraglewering spesifiek daarvoor aan te pas deur ’n rat langer te hou, en enjinremming toe te pas in byvoorbeeld bergpasse.
Dít, asook die Ranger se sleepswaai-beheer (Trailer Sway Control), wat met behulp van die elektroniese stabiliteitsbeheerstelsel (ESC) daardie kant-tot-kant swaaibeweging bespeur, beheer en stabiliseer (selfs deur enjinkrag te sny), is ware sleephulp-innovasies.
Voorts help die Ranger se BLIS-stelsel (blindekol-inligtingstelsel) om baanverwisseling, asook verbysteek, te vergemaklik, synde die stelsel se radar-sensors aangrensende bane vir verkeer bespied en jou waarsku wanneer daar ’n voertuig naby is. Die stelsel neem ook die afmetings van die sleepwa in ag, sodat met veiligheid verbygesteek kan word.
Die Ranger se sleepwa-koppelingslys bied voorts ’n handige verwysing vir slepers, synde dit met ’n vyfmalige siklus alle lig- en remkoppelings nagaan (sonder dat iemand fisies moet kyk of die ligte werk). Dis ’n uiters gerieflike stelsel wat gemoedsrus bevorder.
Gegewe Ford se demonstrasie, hiermee ook ’n paar handige sleepwenke:
- Beplan jou reis deeglik met inagneming van hoogte-versperrings, weerstoestande en bykomende reistyd
- Wanneer jy laai, maak seker die gewig in jou wa is eweredig versprei, met sowat 60% van die gewig voor.
- Veiligheidskettings moet korrek gekoppel word en onder die sleepwa-tong gekruis word as noodmaatreël.
- Verseker dat jy binne die vervaardiger se gewigsgrens-aanwysings bly
- Maak seker dat jy binne die gewigsgrense vir die sleepvoetuig én -wa bly
- Inspekteer bande en ligte se toestand, asook die wiellaers, en
- Uiters belangrik, pas jou volg- en remafstande aan, draai wyer, vermy skielike stuur- en versneller of reminsette (veral in nat toerstande), steek net verby wanneer dit veilig is, en hou die sleepwa se “sny” van draaie in ag.
Reis veilig.















