Motors

Territory – cowboy uit die Ooste

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Sou jy desjare aan 'n bloubloed-Ford-man sê die Blou Ovaal gaan eendag Chinees geboude motors na Suid-Afrika bring, sou hy jou sekerlik met 'n kyk van afgryse en bejammering - hoeveel dowwe suiers is daar in jou V8? - afgemaak het.

Want sien, dis erg genoeg dat benewens Kanada, Brittanje, Duitsland en Australië, ook Detroit se beste die afgelope eeu van volksvreemde plekke soos Roemenië, Japan, Thailand en Indië hier aangeland het. Maar China? Nooit nie. Almiskie!

Wel, dis presies wat nou gebeur het - so reg in Ford SA se eeufeesjaar - want die jongste produk uit die Amerikaanse vervaardiger se stal wat nou hier aangeland het, word in China deur die JMC-Ford-filiaal gebou alvorens dit na Mzansi uitgevoer word.

Ford se nuwe Chinees geboude Territory moet verkope terugwen wat hy met die heengaan van die Kuga verloor het.
Ford se nuwe Chinees geboude Territory moet verkope terugwen wat hy met die heengaan van die Kuga verloor het.

Soos sy naamgenoot-voorganger, wat byna 20 jaar gelede plaaslik beskikbaar was, het die nuwe Territory - benewens sy Chinese herkoms - 'n Australiese kinkel, synde dit deur in­genieurs en ontwerpers van Ford Australië se produknavorsingsentrum saam met JMC (Jiangling Motors) ontwikkel is.

Die jongste Territory is steeds gegrond op dieselfde onderstel as JMC se Jusheng S330, maar dis stilisties radikaal vernuwe om die Ford-ontwerprigting te volg.

In China heet dié ryding die Equator Sport, maar vir uitvoer-modelle is die Territory-benaming behou.

Tog, ironies genoeg, is hierdie vyfsitplek-sportnuts nie in Au­stralië beskikbaar nie, synde dit nie 'n vyfster-gradering in die ANCAP-veiligheidstoetse sou kon verwerf nie. Dit beteken dat Suid-Afrika die eerste land is om die regterstuur-weergawe van die jongste Territory te ontvang.

Wat grootte betref, is die nuwe Territory vergelykbaar met die vergange Kuga. Dit ding dus in die besige klas van kompakte nutse mee met modelle soos die Toyota RAV4, Hyundai Tucson­, Kia Sportage, Haval H6 en Chery Tiggo Pro 7.

Foto:
Foto:

'n Propperse Ford

Van die kant of agter beskou, is dit net sy remligte met hul unieke LED-patrone wat dit van die res van die trop onderskei. Die reeks - bestaande uit die modelle Ambiente, Trend en Tita­nium - kan eintlik net aan verskillende sierwielpatrone en -groottes (18- of 19-duim), asook chroomafwerking op die topmodelle - uitgeken word.

Binne verras die ruimte en gehalteafwerking­ van die nuweling jou.

Die kajuit is netjies uitgelê met sterk horisontale lyne vir die dubbeldekker-konsole en 'n sentrale raakskerm (met Apple­ CarPlay- en Android Auto-versoenbaarheid) in die vlagskip- Titanium.

In die Trend is die gerieflike sitplekke met viniel bedek, maar dié in die Ambiente is met materiaal­ oorgetrek. Die Titanium staan uit met sy afwerking in sagte blou en grys, volleersitplekke, stemmingsbeligting en panoramiese sondak. Geen afskeepwerk hier nie.

Meer opvallend was die ongelooflike ruimte vir die agterste passasiers, asook sowat 20 stoorplekke in die binneruim, sowel as 448 liter se pakplek, wat tot 1 422 liter vergroot kan word met die agtersitplekke afgeslaan.

Hierdie kombinasie van ruimte en pakplek maak van die Territory 'n aantreklike gesinsryding.

Stil en gerieflik

Op 'n tweedaagse rit was die Territory-toetsmodelle gerieflik en stil op die N2.

Kraglewering na die voorwiele is gelykmatig en genoeg, dog nie oormatig nie en dit was duidelik Ford het heelwat aandag aan klankdemping gegee, want min enjin- en padgeraas het die kajuit binnegedring.

Op netjiese teerpaaie was die Territory se rygehalte ook goed, hoewel veral die Titanium met sy 19-duim-wiele op meer ongelyke oppervlakke en selfs goeie gruispaaie effens begin rondtrippel het - maar nie erger as wat ons al met die meeste van sy mededingers gevind het nie.

Ook was die bystandstelsels in die Titanium (soos blindekol-waarskuwing, baanhouhulp en baanveranderingshulp) glad nie so oordadig sensitief soos ons al in soortgelyke Chinese modelle gevind het nie.

Vier ritmodusse is beskikbaar (Normal, Sport, Eco en Mountain), maar dit kan net op die raakskerm gekies word, wat nogal irriterend is.

Feit bly dat die Territory ons met sy gerieflike verrigting, ruim binnekant, hoëgehalte­afwerking en gemaklike rit teen alle verwagting in verras het.

Vir Ford is hierdie Chinees geboude ryding 'n reg-of-weg-model om grondgebied te herwin wat hy met die Kuga in die kompakte-sportnuts-klas verloor het.

Dis ook duidelik te sien in die mededingende pryse vir die Territory-modelle.

Die Territory kan Ford weer 'n goeie vastrapplek in die kompaktesportnutsmark gee.

Ook sal sy verkoopsvertoning bepaal of Ford in sy eeuwendingjaar hier 'n nuwe era betree - met meer Chinees geboude modelle - ja, ek sien die bloubloed-Ford-manne sluk swaar - wat hier kan aanland.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM