Motors

Volkswagen Kombi: Bobaas bussie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

2014 Volkswagen Kombi 2.0 TDI

"Ek het voorheen met 'n Toyota Fortuner 3.0 D-4D gery en dit was 'n uitstekende sleepvoertuig. Ek het egter besluit om effens af te skaal en het vir my 'n Kia Sportage aangeskaf, hoofsaaklik omdat ek op soek was na effense beter brandstofverbruik.

Hy was heelwat ligter op brandstof en dit was 'n heel gawe ryding, maar hy kon nie die mas opkom as sleepvoertuig nie. Ek en my vrou, Zelda, is in 2017 genooi om die Krugerwildtuin in 'n vriend se splinternuwe Volkswagen Kombi T6 te verken.

Ek onthou ek het nog gedink dit is die ideale voertuig om saam met vriende en familie te reis én daar is plek vir almal se bagasie.

'n Jaar later het ons 'n 2014 Kombi T5, die voorganger van my vriend se model, aangeskaf. Ek moet erken ek het kort daarna met kopersberou gesukkel, want ek was onseker of die bussie ons woonwa sou kon sleep. Ons het altyd 'n 1995 Sprite Scout gehad, maar het hom in 2015 met 'n 1999 Gypsey Rapier vervang.

My vrese was ongegrond en die Kombi draf rustig voort met die wa op die haak. Dit is danksy sy 250 Nm wringkrag teen net 1 500 r.p.m. Ek sleep gewoonlik nie vinniger as 110 km/h nie. Wanneer ons sleep, verbruik die Kombi 'n uitstekende 10 l/100 km en sonder die wa kry hy maklik 8 l/100 km.

Hy het al 160 000 km op die klok gehad toe ek hom gekoop het, wat aansienlik hoër is as die meeste mense se jaarlikse gemiddeld. Die hoë kilo's beteken ook ek het nie meer die fabriekswaarborg nie, maar sover het ek nog nie enige groot probleme ervaar nie.

Die Kombi staan nou op 224 000 km en ek maak seker hy word elke 15 000 km gediens. My Fortuner was 'n 2010-model en was op 200 000 km toe ek hom gekoop het. Ek glo as daar mooi na 'n voertuig omgesien is en sy diensrekord is op datum, is dit geen probleem om iets met baie kilometers op die klok te koop nie.

Ek en Zelda het planne om hom in 'n effense ryhuis te omskep, maar dit is nie 'n volskaalse projek nie. Ons praat eintlik net van goedjies soos om die agterbanke uit te haal en ons kampgoed te laai sodat ons so vinnig as moontlik in die pad kan val.

Ons gunstelingplekke om te kamp tot dusver is ATKV-Buffelspoort en Dube-wildreservaat. Wanneer ons lus is vir die see, mik ons na ATKV-Hartenbos toe, waar ons altyd dieselfde staanplek in Blok E bespreek omdat ons naby die stand wil wees.

Met die verslapte inperkingsregulasies het ons al by Klein-Paradys by Brits gaan kamp. Dit is 'n oord wat goed bestuur word en die geriewe is skoon, netjies en gesinsvriendelik. Laasgenoemde is belangrik, want ons kamp altyd saam met vriende met kinders.

Hoe lyk jóú wiele?

Stuur 'n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM