Kom ons skop af met 'n skokkende statistiek. Teen jou 20ste verjaardag het jou vel reeds 80% van die sonskade opgedoen wat jy in jou lewe sal kry. Dit maak sin as jy in gedagte hou dat kinders elke dag buite speel, meestal ook wanneer die son op sy felste is. Dermatoloë waarsku dat selfs 'n paar keer se erg brand as kind jou kans verhoog om in die toekoms velkanker te kry. Velkanker se oorsprong lê in die kinderjare ... "Die vel vergeet nie. Selfs al oorkom jy van die skade, bly daar altyd skade agter," sê dr. Robert Weiss, 'n Johannesburgse dermatoloog. Kinders móét dus leer hoe belangrik beskerming is, veral in 'n sonskynland soos Suid-Afrika.
Robert meen babas moet geheel en al uit die son gehou word, maar wanneer jou kind buite begin speel, word dit tyd om bykomende maatreëls in te stel:
- Hou jou gesin waar moontlik tussen tien- en vieruur uit die son. Maar dit kan nie jou enigste maatreël wees nie ...
- Leer jou kind om van jongs af 'n hoed met 'n breë rand te dra elke keer as hy buite is. Die breë rand sal sy nek en ore ook beskerm.
- Kies klere wat beskerming bied. As jy die son deur die materiaal kan sien, kan die son jou vel ook bykom. Donker kleure bied meer beskerming as ligte kleure.
- Kies swemuitrustings wat beskerming bied. Daar is deesdae talle swempakkies vir babas en kleuters wat tot hoofbedekking ook insluit.
- Skaf gerus vir jou kind 'n ordentlike sonbril aan. Dit gaan nie oor mode nie - dit gaan oor oogbeskerming. Ons hou van die Babiators-handelsmerk.
- Leer jou kind dat 'n sonbruin vel nie 'n gesonde vel is nie - dis sonskade. Veral baie blonde kinders of kinders met sproete moet dié les leer. Daar bestaan nie so iets soos 'n veilige sonbruin nie. Dit beteken egter nie dat donker velle nie beskerm moet word nie.
- Moenie geflous word deur sambrele nie. 'n Mens kan dwarsdeur 'n sambreel brand! Hou dit veral in gedagte as jou baba saamgaan strand toe. Skaduwee alleen beskerm jou nie, want baie van die son se strale word weerkaats deur die sand, water of gras en kan jou steeds vang daar waar jy in die skadu sit. Belê gerus in 'n sonbestande tent as jou pienkvoet saamgaan strand toe.
Dis eenvoudig 'n moet. Maak dit so deel van jul roetine soos tandeborsel, ook in die winter, en ook op bewolkte dae. Hou sommer 'n verskeidenheid rome aan sodat julle die room kan kies wat pas by die dag se aktiwiteite. Kies 'n hoë SBF (sonbeskermingsfaktor) van 30 tot 50 wat beskerming bied teen UVA- en UVB-strale.
Wees op die uitkyk vir 'n Kansa-waarborgmerk, want dan weet jy jy het gehalte gekoop. Gebruik byvoorbeeld die waterbestande room as julle gaan swem. Onthou, waterbestande room beskerm jou in die water, maar as jy daarna afdroog, moet jy weer room aanwend.
Hou altyd room in jou handsak, by die voor- en agterdeur, op die stoep en in die motor (bêre dit op 'n koel plek) sodat julle nooit sonder beskerming betrap word nie. Moenie suinig wees as jy dit aanwend nie - 'n dik laag is beter as 'n dun lagie.
Onthou die hande en voete ook. Die vel moet droog wees wanneer dit aangesmeer word. Ondersoek jou kind se vel gereeld en moenie skroom om dokter toe te gaan as iets jou agterdogtig maak nie. Maak dit 'n gewoonte om elke oggend room aan te smeer.
Sonroom is op sy doeltreffendste as julle dit aansmeer 'n halfuur voor julle uitgaan. Daarna moet julle elke twee uur weer aanwend - meer gereeld as jou kind baie gesweet het. Onthou om elke dan en wan na te gaan wanneer die room verval, sodat jy nie ou room gebruik nie. Vir klein babas is 'n room wat sinkoksied bevat geskik, en die tipe rome wat in die vel intrek, kan vanaf ses maande gebruik word, sê Robert.
Daar is talle rome spesifiek vir babas te koop. Praat met jou kind se skool en kyk of julle 'n gebruik kan instel waar die kinders voor pouse of sporttyd almal sonroom aansmeer. 'n Smeerseltjie soggens seweuur voor skool gaan nie hou tot die middag nie.
Hitteuitputting en sonsteek is ernstige toestande wat tot die dood kan lei. As jou kind verbrand het, hoofpyn het, duiselig is, naar word en moeg en deurmekaar voorkom, moet jy ingryp. Stap een is om uit die son te kom. Koel hom af so goed jy kan en gaan hospitaal toe. Gee hom water om te drink. Veral babas kan maklik oorverhit en ontwater.





















