'n Verwoestende brand in 'n informele nedersetting in die eThekwini-munisipaliteit het die lewe van twee mense, een van hulle 'n 18 maande oue peuter, geëis.
Luidens 'n verklaring van die brand- en reddingsdienste van dié munisipaliteit het die brand Saterdag om 00:03 sowat 100 plakkershutte verwoes.
Die hutte is in die Kennedystraat- informele nedersetting in wyk 25.

"Die brand het deur die digbevolkte gebied gewoed, ongeveer 100 informele strukture vernietig en meer as 150 inwoners, insluitend kinders, ontheem," lui die verklaring.
Noodpersoneel het onvermoeid deur die oggend gewerk om die brand te beheer en te blus.
"Tragies is twee lewens verloor, naamlik dié van 'n middeljarige vrou en 'n 18 maande oue peuter, wat albei noodlottige derdegraadse brandwonde opgedoen het," lui die verklaring.
Geen verdere beserings is teen die tyd van publikasie aangemeld nie.

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die brand moontlik veroorsaak is deur 'n onbewaakte stoof waar daar oop vlamme was.
Die munisipaliteit se rampbestuurdirektoraat is op die toneel om die skade te bepaal en dringende verligting te bied.
Humanitêre hulp word aangebied, met Gift of the Givers wat kos, komberse en noodsaaklike artikels aan geraakte inwoners verskaf.

Baie ontheemde gesinne het tydelike skuiling by bure, familie en vriende gevind.
Die munisipaliteit het 'n beroep op die publiek gedoen om op enige moontlike manier by te dra.
"Skenkings van kos, klere, beddegoed, boumateriaal of ander noodsaaklikhede kan 'n betekenisvolle verskil maak," sê die munisipaliteit.













