Vrugbaarheidsbehandeling lei dikwels tot meerlingswangerskappe, en meerlinge word dikwels vroeër gebore
Geen ma verwag dat haar baba vroeg gebore gaan word nie, maar soms loop dinge verkeerd. En as jy na die syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kyk, gebeur dit dalk meer dikwels as wat 'n mens verwag.
Volgens hierdie organisasie word daar jaarliks meer as 13 miljoen babas voortydig gebore, van wie 900 000 weens komplikasies sterf. In Suid-Afrika word geraam dat een uit elke sewe babas vroeg gebore word. Dié superklein kleingoed beland byna altyd in die neonatale eenheid. Kom ons gaan kyk hoe dit daar uitsien en wie almal daar werk.
EERS 'N PAAR FEITE
'n Baba word as vroeggebore of prematuur geklassifiseer as hulle voor 37 weke van swangerskap gebore word. Die term mikroprematuur word gebruik as die baba tussen 22 en 28 weke gebore word. Hoewel dit moeilik is om ander betroubare syfer te bekom, ervaar medici tog dat vroeë geboortes toenaam, sê dr. Ricky Dippenaar, 'n neonatoloog van Kaapstad.
Daar is verskeie redes voor, sê hy. "Een van die hoofredes is onvoldoende voorgeboortesorg, soos gereelde besoeke aan 'n ginekoloog of dokter waar eenvoudige toetse (wat gesofistikeerde ultraklank-skanderings uitsluit) kan bepaal of die ma en baba gesond is. Die hoër ouderdom van vroue wat vir die eerste keer ma word speel ook 'n rol, aangesien ouer ma's 'n groter risiko vir 'n vroeë geboorte het.
Vrugbaarheidsbehandeling lei dikwels tot meerling-swangerskappe, en meerlinge word dikwels ook vroeër gebore. Die geluk by die ongeluk is dat vroeggebore babas vandag fantastiese versorging in neonatale eenhede kan kry. "Die groot klemverskuiwing, wat nie net tegnologiegedrewe is nie, is dat ons vandag ál minder ingrypend behandel. Ons probeer om die lewe in die baarmoeder so goed moontlik na te boots en so min moontlik skade te berokken," sê Ricky.
'N NUWE BENADERING
Vandag se neonatale eenheid sien heel anders daar uit as twee dekades gelede, sê dr. Chris Diffenthal, 'n pediater van Bloemfontein wat 'n spesiale belangstelling in die behandeling van vroeggebore babas het. Die gebruik om vroeggebore babas direk ná geboorte in plastieksakkies te plaas en so van die teater na die neonatale eenheid te vervoer, is maar een voorbeeld.
"Omdat vroeggebore babas so min liggaamsvet het, is hulle besonder vatbaar vir 'n gevaarlik lae liggaamstemperatuur, oftewel hipotermie. Die plastieksakkies, wat Neo-HeLP genoem word en soos toebroodjiesakkies lyk, bedek die baba se hele lyf en help om hul liggaamstemperatuur stabiel te hou. Dit help ook vogverlies keer en beskerm die baba se ultrasagte velletjie." Teaters word ook deesdae warmer gehou, sê Chris.
Voorheen was die minimum temperatuur in 'n teater rondom 20 grade Celsius; deesdae is dit 25 grade. Die praktyk om langer te wag voor die naelstring geknip word (dit word uitgestelde naelstringklemming genoem) is 'n ingryping wat veral vroeggebore babas baie help. Dit beteken bloot dat die dokter 45 tot 60 sekondes langer as gewoonlik wag voor hulle die naelstring knip.
"Die tegniek help onder meer om die suurstofgehalte van die baba se bloed te verhoog en beteken die baba kry ekstra rooibloedselle, wat bloedarmoede kan teenwerk." Die gebruik van bevogtigers in broeikaste is ook iets wat vroeggebore babas se kans op oorlewing verbeter, want dit help onder meer om hul lugweg oop te hou én dit hou hul sensitiewe velle vogtig.
Chris sê daar is vandag selfs 'n kunsmatige versagtingsmiddel beskikbaar wat op die baba se dun velletjie aangewend word om vernix, die natuurlike wit klewerige stof wat babavelletjies in die baarmoeder bedek, na te boots. Die klem op borsmelk as 'n onvervangbare voedingsbron vir babas in neonatale eenhede is nog 'n verandering wat vroeggebore babas se kans op oorlewing aansienlik verhoog.
"Borsmelk is onontbeerlik vir vroeggebore babas. Hul immuunstelsel is buitengewoon vatbaar vir infeksies soos breinvlies- en longontsteking en dus is die teenliggaampies in borsmelk vir hulle baie belangrik. Borsmelk help neonatoloë ook om die gebruik van antibiotika langer uit te stel," sê Chris. Dis nie net vroeggebore babas se organe wat onderontwikkel is nie - hul spysverteringstelsel is ook nog onvolwasse, en borsmelk verteer natuurlik makliker.
"Een van die infeksies wat vroeggebore babas kan opdoen en wat die meeste neonatoloë vrees, is nekrotiese enterokolitis (NEK), wat ontstaan wanneer die dermkanaal ontsteek en dermweefsel vernietig word," sê Chris.
Borsmelk help om ook die gevaar van dié potensieel noodlottige toestand te verklein. As die vroeë baba se ma siek is (wat dikwels die geval is), kan baba steeds borsmelk kry danksy die wonderlike inisiatief van skenkermelk, wat landwyd by borsmelkbanke geberg word. Vroeggebore babas is ook afhanklik van bloed, veral dié by wie daar daagliks bloed getrek moet word om belangrike inligting oor hul gesondheid te verkry soos byvoorbeeld die suurstofgehalte van hul bloed.
Suster Anneke Esterhuizen, 'n neonatale suster met meer as twee dekades ervaring in hierdie spesiale eenhede, sê vroeggebore babas het maar 80 ml bloed per kilogram (en baie van hulle weeg skaars 'n kilogram) as hulle vol bloed is. Sy sê slegs een eenheid van skenkerbloed is genoeg om 'n vroeggebore baba tot vier keer bloed te gee. Benewens borsmelk en bloed kry vroeggebore babas ook bykomende voeding. Chris sê die gebrek aan gebergde vet by hierdie mikromensies noodsaak binneaarse voeding, wat onder meer koolhidrate en glukose bevat.
Dié belangrike boustene sou die baba in die baarmoeder deur middel van die naelstring bereik het, maar moet nou binneaars toegedien word. "Die babas se voeding word ook aangevul met mikrovoedingstowwe en probiotika."
Sommige vroeggebore babas het deurentyd medikasie nodig, wat beteken daar kan ander binneaarse buise ook aan hulle gekoppel wees. Die aantal drade en pypies aan hul baba se lyfie is vir baie ouers skrikwekkend, maar party daarvan is net bedoel om baba te monitor.
Só kan daar 'n draad wees wat hul hartslag bepaal en een op die voet wat die suurstofgehalte van hul bloed toets. Hierdie metings word langs die baba vertoon op die skerm van 'n toestel met alarms, wat personeel waarsku as van die metings te laag of hoog is.
Daar is ook altyd 'n voedingsbuis aan 'n vroeggebore baba gekoppel wat deur die mond, neus of direk in die maag gevoer word. Een van die interessantste en suksesvolste ontwikkelings in die hantering van vroeggebore babas is neuro-ontwikkelingsversorging. Hoofsaaklik verpleegpersoneel en arbeidsterapeute is daarvoor verantwoordelik.
Anneke sê die wonder van dié terapie is dat dit dikwels geen geld kos nie. "Dié manier van versorging is werklik een van die hoekstene van neonatale eenhede. Dit werk met baba se sintuie. So word daar byvoorbeeld altyd probeer om 'n neonatale eenheid natuurlik te belig."
En sowaar - as jy in só 'n eenheid kom sal jy gewoonlik geen elektriese ligte in die plafon gewaar nie. Wanneer die susters of dokters by die baba se broeikas moet werk, gebruik hulle 'n spesiale lae liggie wat hulle weer afskakel wanneer hulle klaar gewerk het.
As die vroeë baba se ma siek is, kan baba steeds borsmelk kry danksy die wonderlike inisiatief van skenkermelk
So kry die baba nie veel meer ligprikkels as wat in die baarmoeder die geval sou wees nie. "Ons maak ook vir die babas 'n nessie van handdoeke of kombersies sodat hulle in 'n fetale posisie kan lê en nie soos jare gelede plat op hul ruggie nie," sê Anneke. Laasgenoemde gebruik het dikwels tot die verkorting van spiere gelei en die agterkant van babas se kop was dikwels platgelê. Mediese personeel in neonatale eenhede is ook sensitief vir die babatjies se reuksintuig.
Daar is al vasgestel dat vroeggebore babas 'n voorkeur het vir soeter en meer natuurlike reuke. "Daarom gebruik ons 'n ander anti- bakteriese handontsmettingsmiddel as in die res van die hospitaal. Ons hou ook daarvan om die mamma se borsmelk op 'n klein stukkie watte te drup en by die baba se neusie neer te sit.
" 'n Druppeltjie borsmelk of sukrosestroop in die baba se mond verrig veral wondere wanneer ons bloed moet trek of buise moet aanbring," sê Anneke. Fopspeen suig word aangemoedig omdat dit 'n manier is waarop vroeggeborenes 'n sukrosestropie kan inkry wat meestal 'n kalmerende invloed op hulle het.
In studies oor kangaroe-moedersorg is daar bewys dat vel-teen-vel-aanraking en 'n ritmiese gewieg vroeë babas laat floreer.
Ewe belangrik is aanraking. In studies wat al oor kangaroe-moedersorg gedoen is, is onomwonde bewys dat vel-teen-vel-aanraking en 'n ritmiese gewieg vroeë babas laat floreer en gewig laat aansit. Dit help hul ma ook met die produk- sie van borsmelk en ondersteun die ontwikkeling van die baba se vestibulêre stelsel. In 'n neonatale eenheid sal die baba met buise, drade en al op sy ma (of pa) se bors gelê word met 'n kombersie oor sy rug.
Wat vroeggebore babas se gehoor betref, word daar ook spesiale voorsorgmaatreëls in die eenheid getref. Anneke sê klank in die eenheid mag nooit harder as 60 desibel wees nie. As die deur na die eenheid byvoorbeeld oop- en toeklik, is die desibels al klaar te hoog. "Ons het 'n elektroniese klankoor teen die muur in ons eenheid wat rooi flits as daar te veel geraas is."
Hierdie ingryping hou babas ook langer in 'n diep slaap, wat uiters noodsaaklik vir hul groei en ontwikkeling is. Voorheen was selfs net die geluid van die water in die waterpypies wat aan die ou broeikaste gekoppel is, hard genoeg om babas te irriteer.
DIE ALGEMEENSTE KOMPLIKASIES
Die lewe in 'n neonatale eenheid word dikwels met 'n rit op 'n wipwaentjie vergelyk omdat 'n baba wat die een oomblik nog goed vaar, die volgende oomblik skielik in lewensgevaar kan verkeer.
Ouers moet dus betyds op die algemeenste en ongelukkig soms noodlottige komplikasies voorberei word, sê die Bloemfonteinse pediater dr. Chris Diffenthal.
Dis belangrik dat die dokter eerlik met die ouers daaroor is, sê hy. By talle hospitale vorm sielkundiges of traumaberaders deel van die neonatale span en kan hulle die ouers bystaan - veral die ma, wat met die beëindiging van haar swangerskap 'n intense gevoel van verlies ervaar.
- Naas asemhalingsprobleme omdat longe van die laaste organe is wat ontwikkel, is breinbloeding een van die gevaarlikste - en mees algemene - komplikasies. Die papierdun bloedvaatjies in die baba se kop maak die kans hierop groot. Soms bou daar drukking in die klein liggaampie op en bars 'n bloedvat. Hoewel daar verskeie grade van bloeding is, is dit altyd 'n baie ernstige situasie.
- Gehoorprobleme is ander algemene komplikasie wat verklaar waarom oudioloë altyd deel van 'n neonatale span uitmaak.
- Oogprobleme is ook algemeen en word soms verbind met die toediening van te veel suurstof. Gereelde ondersoeke deur 'n oogspesialis is dus standaardpraktyk in neonatale eenhede. Neonataloë of pediaters wat met vroeggebore babas werk, werk ook nou saam met pediatriese kardioloë en chirurge aangesien baie van die kleintjies ook hartprobleme het. Probleme met die niere is ook nooit uitgesluit nie.
- Baie vroeggebore babas kry besoek van fisioterapeute wat hul longetjies skoonklop.
- Chris sê mense dink soms verkeerdelik dat gewig 'n allesbepalende faktor by vroeggebore babas is. "Soms vaar 'n babatjie van 500 g egter beter as een wat al 800 g weeg. Sukkelende organe is dikwels 'n groter bepalende faktor as gewig."
DIE HELDE IN DIE VERHAAL
Naas al die spesialiste, subspesialiste, neonatale susters en terapeute is daar nóg groot helde in die wonderwêreld van vroeggebore babas - die ouers van die babatjies, sê Chris. Sonder die ouers se teenwoordigheid kan baie van die babas eenvoudig nie oorleef nie, sê hy.
Dit is veral die ma se diep aanraking, haar stem en natuurlik haar melk wat 'n onontbeerlike rol speel in die oorlewing van babas wat nog nie veronderstel was om in die wêreld te wees nie. "Ek twyfel nie daaraan dat die baba, klein en dikwels verdoof soos hulle is, weet dat hul ma naby is nie," sê Chris.















