'n Vriendin vertel my netnou van haar vyfjarige dogtertjie wat die vakansie op Hartenbos onverskrokke met haar nuwe boogie board die branders ingevaar het, daar waar sy nie eens meer kan staan nie. Sy's 'n jongste kind en as boetie en sussie dit kan doen, kan sy mos ook.
Hulle besluit toe om van 'n veilige afstand 'n ogie te hou, maar ook om haar bietjie te los sodat 'n brander haar maar kan rol, met die idee dat sy dan blitsvinnig self sal leer om versigtiger te wees.
Dis toe ook wat gebeur het. Die arme kind is so lekker getuimel dat sy sommer buite die lewensredders se vlaggies eers weer opgestaan het. 'n Ander pa wat daardie tyd in die water was, het vinnig nader gehardloop om te gaan help, maar ... en hier's die deel van die storie wat as my inspirasie vir 2023 gaan dien ... Die dogtertjie staan toe op, gryp haar plank en laat weet die oom "los my, ek weet wat ek doen" en toe stap sy weer die see in. Vriendelik, maar ferm, soos net 'n vyfjarige met 'n oorvloed selfvertroue kan wees.
Ná die drie pandemiejare waarin ons so versigtig moes wees en waar die lewe so gekrimp het, voel ek ook weer reg vir 'n paar branders en dieper water. Kinders doen feitlik elke dag van hul lewe iets wat vir hulle heeltemal nuut is, maar ek kan nie onthou wanneer laas ek iets nuuts gedoen of geleer of beleef het nie. My plan is dus om elke maand van 2023 'n nuwe ding aan te pak, groot of klein, solank dit iets is wat vir my heeltemal nuut is.
Op my lys vir Februarie is om my nuuskierigheid oor Chinese medisyne te bevredig deur 'n sessie akupunktuur te bespreek, asook 'n Jin Shin Jyutsu-massering. Ek het 'n spul operasies agter die rug en het gehoor dit kan met herstel help. Daar is 'n praktisyn wat 'n paar blokke van my af woon.
Die eerste ding op my lys vir Januarie? Dis 'n grote! Sodra ek klaar is met hierdie brief, gaan ek my tas pak, want ons is oppad Barcelona toe vir 'n week! Ek was nog nooit in Spanje nie en elke dag gaan dus nuwe ervarings oplewer. Op die vliegtuig oppad terug sal ek die tien ander dinge vir die res van die jaar uitdink. Johannesburg het baie restaurante waar ek nog nooit was nie, ek het 'n lys resepte wat ek wil navors en probeer.
My dogters laat doen vanoggend hul naels, en dalk probeer ek dit ook vanjaar. Ek het nog nooit akrielnaels of gelish gehad nie. Ek's duidelik nie 'n Real Housewife van Pretoria nie, want ek weet nie eens eintlik wat dit is nie.
In Desember hoop ek om myself ook met kinderlike oorgawe in die branders te gaan gooi en dalk te leer branderplankry of 'n SUP-plank te huur. Dis glo moeiliker as wat dit lyk.
Nou ja, laat die avontuur begin! Los my, ek weet wat ek doen!
Groete, Helen















