
Von-Cherie Bebé Anubis, Trés Jolie Jon Snow, Dark Moon Quasar, Luxury Felines Haifa of AristoCub, Le Pattes Minnie Mouse of Java en Purrbridge Dream Again Darling, tree asseblief na vore! Nee, dit is nie ’n perderesies nie, dis ’n Nasionale Katskou. Engela Kruger was daar en Theo Jeptha het die foto’s geneem.
Hy’s nog ’n babakat, maar lyk soos ’n leeu.
Chestnut die Maine Coon was een van die deelnemers by die SA Indie Cat-skou wat onlangs in Somerset-Wes gehou is.
Altesame 69 katte het hier hul beste pootjies voorgesit en meer as 500 mense het die skou bygewoon. Agtien rasse en die nie-geteelde katte of huiskatte (domestics) is verteenwoordig.
Vanjaar het die onafhanklike klubs vir die eerste keer ’n gesamentlike nasionale kompetisie vir kwalifiserende katte, SA Indie Cat, gehou.
Die beoordelaars moes bontstaan om die wenners aan te wys. Die beste jong katjie was ’n Persiese kat, Purrbridge Dream Again Darling van Lilani Botha van Gauteng. Die beste volwasse wyfie was ’n Britse langhaarkat, Luxury Felines Haifa of AristoCub van Yusuf Dawood van Kaapstad, en die beste volwasse mannetjie was ’n Britse korthaarkat, Von Shmidt Cirius of Fidelio van Marisa Oosthuizen van Langebaan. Die beste gesteriliseerde kat was ’n Persiese kat, Trés Jolie Jon Snow van Gail Chirnside van Gauteng.
Trés Jolie Jon Snow is ook as die algehele wenner van SA Indie Cat 2025 aangewys.
En moenie van die huiskatte vergeet nie. Hulle het aan ’n spesiale kompetisie deelgeneem. Barnaby van Tracy Nairn van Houtbaai is as die wenner in hierdie afdeling aangewys.
Ons het met van die eienaars oor hul katte gepraat.

Die majestueuse Maine Coon
Die Maine Coon kom van Maine in Amerika. Hulle is na verneem word verwant aan die Noorweegse boskat en die Siberiese kat. Hul voorouers is heel moontlik op immigrant-skepe na Amerika gebruik om rotte en muisgetalle in bedwang te hou.
Ons kuier by Chestnut die Maine Coon (geregistreerde naam Bushcoons Young Cheshire Cat) van Grizelda Vercuiel van Durbanville.
Dié grootmeneer is nog ’n babakat van amper 11 maande. Chestnut het ’n derde plek in die jong-katjie-afdeling by SA Indie Cat losgeslaan.
Aan die begin van ons kuier was hy ’n bietjie onseker wat aangaan, maar toe die speelgoed uitkom, was hy ka(a)tjie van die baan!
Grizelda vertel: “Toe ek my eerste Maine Coon gekry het, het ek so groot geskrik toe hy miaau – dit was ’n sagte, hees miaau! Gedink daar is fout met sy stembande, maar hulle praat saggies.”
Hulle “tjirp” ook vir voëls en “praat” as hulle wil kos hê, vertel sy. Hy’s saggeaard en volg haar oral. “Lê op die tafel waar jy ook al werk.”
En hy is baie lief vir honde.
“Sy teler het honde.”
Chestnut kry twee keer per dag kos, maar hulle maak maar seker daar is altyd kos in sy bak omdat hy nog ’n baba is. Hy kry Royal Canine- droë kos, nat kos én twee keer per dag rou wildsvleis – koedoe, eland of impala.
Hy trek egter sy neus op vir volstruismaalvleis, vertel sy.
“As ’n baba moet hy gereeld veearts toe gaan vir al sy inentings en daarna jaarliks.”
Soos dit enige skoukat betaam, word hy die dag voor ’n skou gewas. Naels word geknip, ore word skoongemaak en sy hare word drooggeblaas en uitgekam, behalwe die stert.
Die stert word net geblaas en nie gekam nie op aanbeveling van die telers.
Main Coons kos tussen R10 000 en R15 000.
Chestnut deel ’n huis met twee Sphynxe, Theodore (5) en Kira (4), en nog ’n Maine Coon, Jackson (2).

Vinnige feite:
- ’n Kat se neusafdruk is so uniek soos ’n menslike vingerafdruk, en hulle miaau om met mense te kommunikeer. Dit is gedrag wat hulle oor eeue ontwikkel het.
- Katte slaap tussen 12 en 16 uur per dag.
- Hulle kan frekwensies baie hoër as mense hoor, en hul snorbaarde dien as sensitiewe sensoriese gereedskap om veranderinge in hul omgewing te bespeur.
- Katte het ’n “pootvoorkeur” vir sekere take, soortgelyk aan mense wat ’n handvoorkeur het.
- Amerika het die meeste troetel- (tussen 76,5 miljoen en 95,6 miljoen) en rondloperkatte (41 miljoen), gevolg deur China met tot 54 miljoen troetel- en 52 miljoen rondloperkatte.
- In Nieu-Seeland is daar tussen 25 en 50 katte per 100 mense. Dit is dus die grootste katbevolking per capita, amper 1 kat vir elke 2 mense.
Die pragtige Persiese prinsLilani Botha van Wilgeheuwel in Gauteng is die eienaar van Purrbridge Dream Again Darling, of sommer “DD”, die sewe maande oue Persiese kat wat as SA Indie Cat se jong katjie van die jaar aangewys is. Hy is ’n tweekleurige Blue Classic Tabby- Persiese kat. “Purrbridge” in sy naam is die naam van die telers van waar hy kom se cattery in Benoni.
“Hy’s my nuwe begin,” sê Lilani.
Sy vertel: “Hy volg my oral in die huis rond soos ’n hondjie.
“Persiese katte se ogies moet daagliks skoongemaak word en die hare gekam word sodat dit nie koek nie. Daar is iets koninklik en statig omtrent ’n Persiese kat.
“Ek het twee worshonde van 11 en 7 jaar en ek het ’n twee-en- ’n-half jaar oue Persiese kat ook, LuPita Ghost of my Dreams, almal mannetjies.
“LuPita is laas jaar se kat van die jaar en het selfs op Kwêla verskyn. DD is juis aangeneem om ’n maat te hê vir LuPita. Die honde en die katte saam is ’n droom. Hulle is maats en ek’s dankbaar vir diere wat so goed oor die weg kom. Hulle gaan almal saam met ons op vakansie.”
Haar raad as iemand ’n opreggeteelde kat wil koop?
“Maak seker jy soek goedgekeurde telers. Daar is baie scams daarbuite. Vra eerder die organisasie op hul Facebook-blad vir ’n lys van telers. Kom kyk na ’n skou, kom kyk na die ras van katte waarin jy belangstel en vra al die vrae wat jou hart begeer.
“Hierdie mense wat skou is telers, en wanneer hulle katte skou, kan jy regtig sien hoe aangenaam die diere is en watter ras mooi by jou en jou kinders in die huis gaan aanpas.”
Maine-mannetjie:Aslan (geregistreerde naam Snowy Mountain Aslan) van Dottie van Dyk van Ceres het vir die volwasse-mannetjie-klas gekwalifiseer. Hy het 12de geëindig en hy was een van die grootste katte op die skou.
Aslan weeg 10,5 kg en is 1,3 m lank van sy neus tot by die punt van sy stert.
Dottie het 12 Maine Coons en Aslan (genoem na die leeu in C.S. Lewis se The Chronicles of Narnia) is een van dié waarmee sy teel. Op die dag van SA Indie Cat is sy eerste kleintjies gebore.
Sy het Aslan self geteel. Hy is op 10 Junie 2023 met ’n keisersnee gebore. Aslan eet twee keer per dag ’n gebalanseerde rou maaltyd wat met Royal Canine aangevul word. Dottie vertel hy wil ook baie aandag hê!
Maine Coons is eers volwasse van so vier en ’n half tot vyf jaar oud, sê sy. Aslan het dus nog nie volwasse grootte bereik nie.
“Hulle kan ’n lang lewe hê afhangende van hoe hulle opgepas word en of hulle van etiese telers gekoop word. Maar daar is van hulle wat al ouer as 20 jaar oud geword het.”
Kan ’n mens versekering vir jou skoukat uitneem?
“Ongelukkig nie,” sê sy. “Ons telers kan nie eens mediese versekering vir ons teelkatte uitneem vir byvoorbeeld ’n keisersnee nie.”
Die dierbare Devon RexElla Pretorius van Blouberg Sands se Sheldon het ’n 18de plek in die volwasse-mannetjie-afdeling losgeslaan en haar Morris was sesde.
Hulle is Devon Rex-katte.
Sheldon hou daarvan om in ’n katrugsak saam te gaan fietsry!
Ella vertel: “Die feit dat hulle in die venster sit en wag vir ons om by die huis te kom en dan deur toe hardloop, is spesiaal.” Hulle het twee rescues, vier Devons, drie Singapuras en een Birmaanse kat.
Die enigmatiese SphynxVoné Schreuder van Welgemoed is ’n teler van onder meer Sphynx-katte en Von-Cherie Bebé Anubis is ’n vyf maande oue mannetjie wie se ouers van Rusland ingevoer is. Hy het ’n tiende plek in die jong-katjie-afdeling losgeslaan.
Sphynxe het geen hare nie.
Hulle word beskou as die mees liefderyke katte in die wêreld omdat hulle so afhanklik van mense is vir hitte.
Voné vertel: “Ons katte speel almal fetch en loop aan ’n leiband van die eerste dag dat jy die leiband aansit. Niemand het nodig gehad om dit vir hulle te leer nie – as die een dit doen, doen almal dit.
“Hulle is soos kinders (baie intelligent), hondjies (volg jou orals en sit aan jou vas soos Velcro) en apies (daai handjies kan niks uitlos nie en kan vreeslik kwaad doen). Hulle is baie besig en moet gestimuleer word. Ons het ’n paar katwiele waarin hulle kan hardloop en hulle het meer speelgoed as enige kind wat ek ken.”
Op die vraag of hulle enige spesiale dieet volg, antwoord sy: “Hulle eet Royal Canine- droë kos en ons gee ook elke dag rou, maer beesvleis – nie pet mince nie, dieselfde maalvleis wat ek vir die huishouding koop. Hulle eet dubbel die hoeveelheid van wat my Persiese katte eet. Hul metabolisme is ongelooflik vinnig en hulle het ook meer nodig as ander katte om hitte te genereer omdat hulle nie hare het nie.”
Sphynxe mag nie in die son kom nie. Hoe behandel sy hul vel?
“Hulle velletjies is so sensitief soos ’n baba s’n. Ons vensters het UV-filters op sodat hulle geen son kry nie. Hulle word een keer per maand met babasjampoe gewas en verder vee ons hulle met ’n warm waslap af.
“Hulle het baie swak tande en moet gereeld vir dentals gaan by die veearts. Die swak tande loop hand aan hand met die haarlose geen.
“Baie mense dink hulle is high maintenance, maar as jy Persiese katte het, weet jy wat high maintenance is. Dis vinniger om die Sphynx met ’n warm lap af te vee as om ’n Persiese kat te borsel.”

En die algehele wenner is:Trés Jolie Jon Snow (Pablo), is ’n mondvol, maar dié naam behoort nie sommer aan enige kat nie. Dié gesteriliseerde wit Persiese kat met sy koperkleurige oë van Gail Chirnside van Gauteng is ’n jaar en nege maande oud.
Jon Snow het drie titels binne een maand op skoue gewen!
- 26 Julie 2025: SACC Kat van die Jaar (Gauteng)
- 9 Augustus 2025: SA Indie Cat Kat van die Jaar (Kaapstad)
- 26 Augustus 2025: Gauteng-topkat
Gail vertel trots: “Daar word nie afgewyk van die roetine nie: Eerste ding in die oggend word sy oë skoongemaak en hy word geborsel. Dieselfde storie in die aande. Elke dag.
“Hy reis oral saam met my, naweke weg en vakansies; hy is nooit alleen tuis nie.”
Hy word een keer per week gebad. Gail sê die roetine is presies dieselfde of hy aan ’n skou gaan deelneem of nie. Hy is altyd skougereed.
Rou maalvleis, fyngekapte gekookte hoenderborsies en ’n wye verskeidenheid droë kos is dié wenner se stapelvoedsel.

Jong katliefhebbersCathryn Strydom en haar maatjie Trinity Massyn het kom katte kyk. Cathryn vertel: “Ek het een kat, Zenny. Die beste ding van vandag se skou was al die verskillende katte. My gunstelinge is die Maine Coons.”
Trinity se beste ervaring by die skou was al die katte wat sy kon vryf. Sy vertel sy het ’n mamma en haar baba aangeneem, Foxy en Coco. As sy groot is, wil sy vyf katte hê en sy is baie spesifiek: twee Ragdolls, een Maine Coon, een Norwegian Forest en een Birmaanse kat.


BeoordelaarsDie hoofbeoordelaar, Johan Lamprecht van Durbanville, vertel: “Ek is ’n internasionale alle-ras-katbeoordelaar. Ek kan in Suid-Afrika beoordeel, maar ek is ook gekwalifiseer om by enige ander organisasie ter wêreld enige van die kat-rasse te kan beoordeel.”
Hy vertel hy het redelik jonk begin en dit het hom so vyf en ’n half tot ses jaar gekos om al die rasse te leer ken en te kon beoordeel.
As hoofbeoordelaar op SA Indie Cat moes hy die finale oordeel vel as twee of meer katte dieselfde puntetelling sou kry.
“Ek het ook aan die einde die heel beste kat gekies uit die beste mannetjie, wyfie en gesteriliseerde kat.”
Sonya Lindeque van Bellville is sedert 2017 ’n alleras-beoordelaar.
Sy vertel sy het aanvanklik net uitgehelp by skoue met takies soos om die katte uit die hokke te haal.
“Ek is genooi om ’n beoordelaarskursus te doen en het in 2017 gekwalifiseer. So ’n kursus duur omtrent 10 jaar.”
Sonya vertel daar is verskillende kategorieë waarin katte ingedeel word vir beoordeling, onder meer volgens haarlengte. Daar is langhaarkatte (soos die Persiese katte), semi-langhaarkatte (soos die Maine Coons) en korthaarkatte (soos die Birmaanse katte).
Katte word ook ingedeel onder volwasse katte, gesteriliseerde katte, jong katjies (vir katte onder 12 maande) asook nie-geteelde katte of huiskatte (domestics).
Daar word by elke kat gekyk na hul kop met ore en oë, lyf, bene, stert en pels. Elke kat word beoordeel volgens ’n standaard vir daardie spesifieke kat-ras. ’n Siamees moet byvoorbeeld ’n lang, lenige, gespierde lyf hê, met ’n lang, dun stert. Van die kant moet die Siamees se kop ’n reguit profiel toon. Die ore moet baie groot wees en die gesiggie moet driehoekig lyk van voor, met ’n fyn ken.
Die harde werk kom aan die einde van die dag wanneer elke beoordelaar se beste katte om die titel van kat van die dag meeding.
Die platteland word nie afgeskeep nie: In plattelandse onafhanklike skoue, soos in Malmesbury en Swellendam, is daar ook pryse vir die beste plattelandse kat. Laasgenoemde word gewoonlik deur die besoekers gekies.
By die jaarlikse Groot Landbouskou in Swellendam kies die skoukoningin ook gewoonlik die kathok wat die beste volgens ’n tema versier is.
“Mense vra dikwels hoekom daar katskoue is,” gesels Sonya.
“ ’n Groot rede is sodat telers by die spesifieke standaard van ’n spesifieke kat-ras moet hou. Die ander rede is vir die samesyn van mense wat lief is vir hul katte.
“Op die ou einde voel ons soos een groot familie. Vir my is dit lekker om te sien hoe jong kinders vroeg al hul katte begin skou. Dit leer hulle verantwoordelikheid en ’n liefde vir diere.”
Sonya besit self onder meer ’n Lykoi (“Weerwolfkat”), Luki. Dit is die skaarsste kat ter wêreld.


Ten slotte:Katte is sag, onvoorspelbaar, kieskeurig, slim, geheimsinnig, nuuskierig, grasieus, onafhanklik, ondeund, speels, en met geen kommer in die wêreld nie.
Maar as hulle die dag geskou word, is dit ernstige sake.
Bronne:
- The Complete Cat Book deur Paddy Cutts
- The Little Guides Cats deur dr. Paul McGreevy.
- Nature scientific journal
- Diamond Pet research
- Cat DNA studies
- National Center for Biotechnology Information
















