Dis nie aldag dat jy 'n kampplek in die KwaZulu-Natalse Suidkus ontdek wat jy die eerste keer kan besoek nie. Dis veral in ons geval waar, want Ry & Sleep het oor die jare heen omtrent by elkeen van die magdom oorde aan hierdie gewilde kusstrook ingeloer.
Dit was dus 'n onverwagse ervaring om kamp op te slaan by Mtwalumi en River Valley. Nie net is dit ons eerste keer by die twee oorde nie; dis werklik plekke wat ons met vrymoedigheid kan aanbeveel.
Mtwalumi is in die buurt Mtwalume, ongeveer 90 km suid van Durban, en deel sy naam met die rivier wat aan sy noordekant in die see uitmond. Die kampplek is op 'n koppie, 450 m van die riviermonding af soos die kraai vlieg. Boonop is Mtwalume se strand maar 100 m verder.
River Valley is ongeveer dieselfde afstand as Mtwalumi van die strand af, maar dié strand is minder toeganklik. Dit maak nie regtig saak nie, want jy kamp hier op die noordepunt van Pennington en sy strande.
Wat River Valley so besonders maak, is die kampplek self. Dis een van die netjiesste kampplekke wat ons nóg gesien het; 'n mens kry lus om sommer voltyds hier af te saal.
MTWALUMI
Familievriende
Volgens Wikipedia verwys die Zoeloewoord "mtwalume" (soos die dorp se naam gespel word) na die regop bome wat langs die rivier groei. Alhoewel, die kampplek se naam word 'n bietjie anders gespel: Mtwalumi.
Die rivier ontspring 85 km van hier af. Hier is 'n lieflik omheinde speelplek vir kinders, die swembad is ook omhein, en hier is 'n paar verskillende soorte staanplekke om van te kies.
Met ons besoek was die weer stormagtig en die wind het sterker as 60 km/h gewaai. 'n Mens dink jy gaan nêrens skuiling kry nie, want die kampplek is op 'n hoogte, maar hier is darem 'n hele paar bome wat as skans kan dien.

Jy het skaars ingetrek by Mtwalumi of 'n werker staan nader om te help kies waar die staanplek met die beste beskutting is.
Ons was ook die enigste besoekers, wat beteken ons kon die beste plek uitsoek.
Die kampplek lê dwars voor jou wanneer inry, met 'n pad wat soos 'n atletiekbaan rondom dit loop met staanplekke aan weerskante.
Op die verste punt regs staan 'n hele paar hoë bloekombome - die werker meen dit is vir nou nie die veiligste plek nie want hy het die oggend reeds van die afgebreekte takke onder dit verwyder.
Maar kort nadat jy regs afdraai met die inrypad, is daar 'n lang gang tussen bome wat die beste skuiling teen die wind bied. Die werker verduidelik dat die wind óf uit die noorde óf die suide waai, en hier word jy aan albei kante beskerm.

Mtwalumi se boonste deel bestaan uit voltydse wonings wat soos vakansiehuisies lyk, terwyl die kampplek op die laer grond lê.
Soos jy na die oord aangery kom, kry jy die huisies eerste links van jou en ry dan tot by 'n skuifhek wat elektries werk. Die kantoor is direk ná die hek regs, maar hier is nie parkeerplek vir jou sleepkombinasie nie.
Wanneer die kantoormense jou binnelaat, moet jy verby hou en 'n ent verder plek soek om af te trek.
Die inboekslag is 'n deeglike proses. Al het jy vooruit bespreek én betaal, moet jy steeds 'n klomp papierwerk invul waarna jy 'n plakker vir jou ryding se voorruit en 'n afstandbeheer vir die hek kry.
Wanneer jy uit die kantoor stap, is daar langs die deur aan die buitekant 'n soort geut in die muur. Dit is waar jy die afstandbeheer teruggee wanneer jy vertrek.

Die staanplekke is genommer en dis dus duidelik waar 'n mens jou staan moet kry. As jy die geplaveide pad kloksgewys ry soos jy inkom, is die langwerpige staanplek waar ons kon afsaal, een van die eerste staanplekke links.
Dis gelyk, daar's gras, en jou kragpunt, vullisdrom en kraan en 'n gemesselde braaiplek is naby. Die rooster is met 'n kettinkie vas aan die steenwerk, wat beteken elk van die braaiplekke in die oord het nog 'n rooster.
Verder met die pad af, ook links, is staanplekke langs mekaar wat meer in die oopte en kleiner is. Die badkamers is oorkant hierdie staanplekke, agter die kantoor. Aan die ander kant van die kantoor begin die staanplekke weerskante van die pad tot in die draai onder die bloekombome.
'n Kort entjie verder, en nou regs van die pad, is vyf netjiese staanplekke op terrasse uitgelê. Hier is feitlik geen koeltebome nie, behalwe vir die middelste twee wat 'n skadukol deel.
Van hier af is die snelweg se geraas meer hoorbaar. Die N2 loop 100 m doer onder in die verte verby, maar dis minder steurend op die eerste staanplekke.
Die swembad is anderkant die terrasstaanplekke af teen die bult in die rigting van die snelweg, en die speelpark is in die boonste ronding van die pad, wat 'n amperse skeiding vorm tussen die kampplek en die huisies.
Hier kan kinders dit gate uit geniet op die pastelgeverfde klouterrame met verskeie glyplanke en swaaie. Hier is ook 'n trampolien in die een hoek.
As 'n mens uit die bloute hier voor die badkamergebou neergesit word, gaan jy dink jy staan in 'n kampplek iewers in Mosambiek.

Regs staan 'n palmboom bo die gebou en uittroon, en by die vroue- en mansgeriewe is 'n paar handgeverfde muurskilderye - by die vroue 'n vuurtoring en by die mans 'n seiljag. By elke kant is ook 'n skildery van palmbome en 'n brander met 'n groot son daaragter.
Dis 'n langwerpige gebou met 'n smal onderdakstoep waarvan twee opwasplekke heel regs is. Soos jy die mansgeriewe binnestap, is daar 'n ry enkelwasbakke links teen die muur af, elk met 'n spieël agter teen die muur plus draadrakkies langs dit waarop jy goed kan neersit.
Die ry storthokkies is regs af en effens eenvoudig. Daar is nie neersitplek in die hokkie nie en vir jou droë goed moet jy iewers anders pakplek kry, maar daar is 'n haak of twee aan die binnekant van jou hokkie se deur. Die vertrek is silwerskoon, maar die hokkies kan doen met teëlwerk om dit beter af te werk.

Weens sy groot rotsbank is Mtwalume se strand beter vir hengelaars as swemmers. Maar trek gerus jou swemklere aan, want hier is 'n ordentlike getypoel. Selfs met die hewige storm gedurende ons besoek het kinders hier tussen die golwe gespeel terwyl die onstuimige see anderkant die muur was.
Jy moet oor 'n treinspoor ry om by die strand uit te kom, maar te oordeel na die geroeste spore kom hier nie meer treine verby nie. 'n Netjiese parkeerterrein is net anderkant die spoor met 'n badkamergebou langsaan en nog 'n parkeerplek verderaan.
'n Ewe netjiese grasperk strek van die eerste parkeerplek af verby die verste een en hier staan 'n hele paar bankies vanwaar 'n mens oor die see kan uitkyk. Die getypoel is 50 m van die grasperk af.
Kortliks | Mtwalumi

Kampplek 19 staanplekke van verskillende groottes op gras met wisselende koelte en privaatheid. Een of twee het 'n betonblad. Die braaiplek is gemessel en het 'n rooster.
Ablusiegeriewe Eenvoudig en skoon. Die storthokkies kan doen met teëls.
Aankoms- en vertrektyd Maandae-Vrydae 14:00 en Saterdae 11:30, en 10:00.
Kontak 083 800 5356 | reception@mtwalumiholidayresort.co.za | mtwalumiholidayresort.co.za
Naaste dorp? In Mtwalume, 16 km van Hibberdene af.
Hoe lyk die pad? Teer tot by die oord.
"Ry & Sleep" sê Jy betaal R25 p.d. ekstra vir jou troeteldier.
RIVER VALLEY
Deur 'n ring
River Valley is sonder twyfel een van die netjiesste oorde wat ons nóg besoek het, én hulle doen 'n paar dinge ook anders as waaraan 'n mens gewoond is.
Die oord is op die noordelike punt van Pennington waar Dolphinweg teen die oord vasloop. Hier is 'n elektriese hek, en die pad wat nou teen die bult afloop, herinner sterk aan die ingangspad van die Queensburgh-kampplek in Durban.

Net soos by Mtwalumi is die kantoor direk ná die hek, maar as 'n mens vooraf bespreek en die betaling afhandel, hou jy net vir paar oomblikke stil. Die kantoormense help vinnig.
Jy kry selfs 'n River Valley-plakker vir jou volgende lisensieskyf, en 'n papiertjie waarop alles in hoofletters getik is.
Met die eerste oogopslag lyk dit soos 'n klomp reëls, maar die opskrif lees: "PLEASE NOTE THINGS NOT TO FORGET".
Dit is om jou te herinner dat geraas teen 22:00 moet stil raak en ys, koeldranke, water, vuuraanstekers en houtskool in kantoorure beskikbaar is.
Ook dat jou voertuig, sleepwa of woonwa op jou staanplek geparkeer moet staan - as jy jou voertuig elders wil parkeer, kan jy geholpe raak teen 'n ekstra tarief per dag op 'n toegewysde plek. (Kampeerders mag nie die parkeerplekke van die restaurant en kroeg, Uncle Bob's, gebruik nie - dis direk ná die kantoor regs, nog voor die staanplekke.)
Jy moet ook by die aankoms- en vertrektyd hou, want as jy sonder toestemming ná 10:00 in die pad val, kry jy 'n ekstra rekening van R100 per uur.
Die een item wat uitstaan, is onder punt nr. 3. Dit sê wanneer jy by jou staanplek aankom, moet jy jou kragboks oopsluit en ag slaan op die kWh-lesing.
Saam met jou papiertjie kry jy ook 'n afstandbeheer vir die hek met twee sleutels. Die een sleutel is vir die kragboks. Die kragsok - die Fredlin-soort - sit buite die boks, maar die krag is nie aangeskakel nie. Nadat jy die kragboks oopgesluit en sy deksel uit die pad geskuif het, is daar 'n elektrisiteitsmeter en stroombreker. Jy moet dus die stroombreker se skakelaar boontoe druk sodat die sok lewendig kan word.
Deel van die geld wat jy vir jou staanplek betaal, is 'n ekstra R250-deposito vir die afstandbeheer en die krag wat jy gebruik.
Die oordmense kontak 'n mens ná jou besoek om die balans terug te betaal as jy minder krag gebruik het.
'n Oordkaart is ook by die kwotasie van jou aanvanklike bespreking aangeheg, en dit is net 'n voorsmaak van hoe agtermekaar River Valley is.
Nie net wys dit watter staanplek is waar nie; dit dui ook aan hoe groot die staanplekke is en waar presies jou staanplek se naaste kraan en die kragpunt is. Hiervolgens is die kleinste staanplek 7 x 5 m en die grootste 13 x 9 m.

Die beton-inrypad vorm naderhand 'n langwerpige reghoek om die staanplekke. Die staanplekke is dus die heeltyd regs van jou tot jy om die blok gery het en weer terug is waar jy ingery het.
Die uitsondering is 'n kort pad wat van die middel van die boonste kant na die middel van die reghoek loop. Dis uiteraard om by die middelste staanplekke uit te kom. Op die buiterand is netjiese voltydse wonings waar inwoners aangaan met hulle doen en late.
Al kamp jy dus stoksielalleen, is hier tog 'n mate van lewe en dit voel eerder of 'n mens tydelik deel word van 'n rustige gemeenskap sonder dat jy hoegenaamd gesteur word.
Die staanplekke is afgeskort met struikheinings wat lyk of dit met 'n maatband gemeet word voordat dit gesny word. Dit vorm kamphokke, en van die staanplekke is toegankliker as ander. Op van die staanplekke moet jy dus jou beste terugstoot uithaal om die wa haaks op die staanplek te kry.
Die eerste staanplekke tot by die oorstaande hoek het gras, maar die res - 'n goeie tien van hulle - het 'n gruisblok met 'n ewe netjiese betonrand rondom.
Dit werk só goed jy hoef nie eens jou geweefde grondseil uit te gooi nie. Nie net weet jy jou wa staan waterpas nie, maar hier gaan ook geen water opdam by jou voordeur nie.
Al wat jy nie op jou staanplek kry nie, is 'n braaiplek. Hiervoor moet jy by een van die middelste staanplekke kamp om naby aan die gemeenskaplike braaiplekke te wees. Daar staan ook 'n betonbankie en -tafel of twee.
Op jou staanplek loop jy 'n volgende stel reëls raak: Geen vure direk op die grasperk nie, en jou braaier moet minstens 300 mm bo die grond wees.
Terloops, teen die badkamerdeur is nóg 'n bord op met oordreëls. Hiervolgens mag jy ook nie vuurmaak op jou vierkant nie, en as jy jou eie braaier saamgebring het, moet dit minstens 700 mm hoog wees. (Terwyl die reëls weer ter sprake is: Onthou dat fietse, bromponies en skopfietse nie op die oord se paaie toegelaat word nie.)

Jy slaan kamp op tussen die lieflikste koeltebome, en dit voel amper of jy in een of ander eksotiese tuin staan. Oral blom blomme en jy sien plante wat jy nog nie voorheen gesien het nie. Kyk ook of jy blare sien rondlê; die tuinwerkers is heeldag aan die gang.
Vir 'n skoner kampplek gaan jy baie ver moet soek.
Hier is ook diere te sien... wel, min of meer. 'n Bloukopkoggelmander het laatmiddag die laaste son teen een van die bome geniet terwyl 'n mol besluit het om te kyk wat bo-op die gras aangaan.

Hy het heen en weer gesnuffel, asof hy nie weer die ingang na sy tonnel kan kry nie. Dit alles terwyl loeries sorg vir rustige agtergrondmusiek.Die badkamers is op die verste oorkantse hoek soos jy ingery kom en lê buite die reghoek.

As dit dus belangrik is om hier naby te staan moet jy dit voor die tyd onder die oordmense se aandag bring. Dit geld ook vir die waskamer en opwasplek (in dieselfde vertrek), want dit is tussen die mans- en vrouegeriewe van die badkamers.
Die wasbakke vir die skottelgoed is regs in die vertrek soos jy inkom, en die wasmasjiene en tuimeldroërs in die ander deel. Die tuimeldroër gebruik R45-ruilmunte en die wasmasjiene s'n kos R30.

By die badkamers voel 'n mens eers onseker of jy maar kan ingaan, want binne hoor jy 'n geselsery - dis in der waarheid 'n radio wat aan staan en jou deurentyd geselskap hou.
Die binnekant van die vertrek is 'n bevestiging van die oord se netheid. Soos jy die mansgeriewe binnestap, is daar drie versonke wasbakke in 'n blad voor jou met ronde spieëls daaragter - op verskillende hoogtes. Hier staan ook 'n bankie, en met die gestreepte gordyne voel dit eerder of 'n mens in iemand se huis staan.
Die storthokkies is regs in die gang af, en is eintlik 'n nat vertrek. Die eerste paar het nie hake nie, maar dié verder af in die gang wel. As jy regtig fout moet soek, was die waterdruk effens laag in die stort wat ons gebruik het.
'n Laaste kennisgewing teen die muur gee jou gemoedsrus: As jy enigiets soos seep, sjampoe, handdoeke of klere in die badkamers vergeet het en dit word deur personeel gevind, kan jy dit by die kantoor afhaal.Die ontspanningsgebied is agter Uncle Bob's soos 'n mens inry, oorkant die eerste staanplekke regs. Dis net so netjies afgewerk en die kinders kan kom swaai, die klouterraam baasraak en die glyplank probeer.

Die eendedam is tussen die speelplek en Uncle Bob's, en die swembad agter dit. Dit voel weer eens soos 'n private swembad by iemand se huis. Dit het plaveisel rondom plus beton- en houtstoele waarop jy langs die water kan ontspan.

Laastens is daar 'n afdak tussen die swembad en die parkie as jy onderdak saam jou vriende wil kuier. Hieronder is ook 'n paar tafels en bankies plus 'n gemeenskaplike braaiplek aan die kant van die afdak.
As jy wil bene rek, oorweeg die bospaadjie na die strand toe. Die toesluithekkie (dis die tweede sleutel wat jy ontvang het) is agter die badkamers. Van hier af stap jy deur 'n klein oerwoud op 'n oopgekapte paadjie tot by 'n treinspoor 275 m verder.
Die Mzintorivier is anderkant die spoor en tussen jou en die strand. Hier is nie regtig 'n oorgang nie, en die oordmense het aanbeveel ons hou links op die spoor oor die treinbrug tot op die strand. Met die pad só om staan jy 380 m verder teen die branders.

Om jou energie terug te kry maak vir oulaas 'n draai by Uncle Bob's. Hulle het 'n basiese spyskaart waar jy enigiets van verskeie voorgeregte, burgers, geroosterde toebroodjies - ook braaibroodjies - tot nacho's en boereworsrolle kan kies. Niks kos meer as R145 nie.
Kortliks | River Valley

Kampplek 20 staanplekke in die lieflikste tuin. Party is op gras en ander op gruisblokke met 'n betonrand en 'n struikheining rondom jou. Hier is gemeenskaplike braaiplekke, maar jy't nie een op jou staanplek nie. Jy betaal vir die krag wat jy gebruik.
Ablusiegeriewe Dis nader aan die verste staanplekke en sluit 'n waskamer vir klere en skottelgoed in.
Aankoms- en vertrektyd 14:00 tot 18:00 en 10:00-12:00.
Kontak 039 975 1805 | info@rivervalley.co.za | rivervalley.co.za
Naaste dorp Op Pennington.
Hoe lyk die pad? Teer tot hier.
"Ry & Sleep" sê Dis een van die netjiesste oorde in die land en hoort op enige kampeerder se emmerskoplys.
Hiermee het ons gesleep
'n Groot dankie aan CMH Ford Ballito vir die gebruik van 'n Ford Ranger XL 4x4-dubbelkajuitbakkie.
Ons het 'n Stealth Cub Overlander gehaak (tarra 840 kg, BVM 1 500 kg) en 326,2 km teen die KwaZulu-Natalse Suidkus afgelê. Ons het die grootste deel van die afstand gesleep, hoewel ons ook hier en daar sonder die wa rondgery het.

Die Ranger het 'n skaflike 11,36 ℓ/100 km (8,8 km/ℓ) as gekombineerde syfer gegee.
Die haak is opsioneel by die standaardvoertuig, en die bakkie self het 'n sleepvragvermoë van 3 500 kg.Die XL is meer basies vergeleke met die ander dubbelkajuitmodelle*, maar jy word steeds wat sleep betref, bederf met 'n hele paar ekstras.
Die trukamera se skerm het dinamiese indekslyne wat kromtrek in die rigting waarheen jy terugstoot. Dit sluit 'n middellyn in om presies op die koppelstuk te korrel.

Wanneer jy naby die koppelstuk is, kan jy selfs 'n bo-aansig kies wat jou 'n beter blik gee op die afstand tussen die haak se bol en die koppelstuk.
Wanneer jy die ligteprop van die wa aan die Ranger se harnas koppel, verskyn 'n nota op die middelste konsole van die bakkie wat sê hy sien 'n wa is gehaak. Dan kry jy die opsie om 'n nuwe wa se gegewens in te voer of 'n standaardwa te kies.
As jy die gegewens reeds ingevoer het, kan jy dit as die "aktiewe" wa registreer.
Die rekenaar gee jou ook keuses om die sleepwaswaaibeheer aan of aan te skakel, en die rekenaar het selfs 'n lys wat jy kan nagaan om seker te maak alles is in orde voor jy met die wa in die pad val.

Jy kan in die ry vinnig kyk of die wa se ligte werk, en omdat die rekenaar weet 'n wa is gehaak, bereken hy die brandstofverbruik spesifiek terwyl jy sleep. Ingesluit is die sleepafstand, en al hierdie gegewens word op die middelste paneel vertoon.
* Sien die Sleeptoets van die XLT4x4 van Ry & Sleep se Desember 2023-Januarie 2024.
Spesifikasies
Model XL 2.0 SiT 4x4 6AT (dubbelkajuit)
Enjin 2l-turbodiesel
Krag 125 kW @ 3 500 r.p.m.
Wringkrag 405 Nm @ 1750-2 500r.p.m.
Ratkas 6spoed-outomaties
Aandrywing Vierwiel of agterwiele
Tenk 80 ℓ
Gekombineerde brandstofverbruik (met en sonder wa) 11,36 ℓ/100 km
Gekombineerde reikafstand 704 km
Tarragewig 2 243 kg
BVM 3 190 kg
BKM 6 300 kg
Sleepvermoë 3 500 kg
Prys R704 000






