Reis

Kampbestemming: Plaasvars in die Vrystaat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die aanbod van kampplekke in die Vrystaat is nou maar eenmaal nie so groot as dié van ander provinsies nie. Daarom oorweeg die meeste mense nie eens dié provinsie wanneer hulle vakansie­planne maak nie.

Hier is egter twee kampplekke wat jou van plan kan laat verander: Die Oranje-gasteplaas, wat in die hartjie van die Oos-Vrystaatse landskap lê met gesiene bure soos die Golden Gate Hoogland- nasionale park, en die Waschbank-rivier­lodge teen die Oranjerivier waar drie provinsies - die Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap - bymekaarkom. Forever se Gariepdam-oord is net agter die bult.

Dit is twee agtermekaar kampplekke. Albei is op 'n plaas en jy word vergoed met die mooiste natuur en vars lug. Wanneer jy hier afsaal, bly jou sorge by die plaashek agter.

ORANJE-GASTEPLAAS

Kampverhoog

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Dis maklik om jou te verbeel hoe Pierneef langs jou op 'n kampstoel sit en die verte oor die vlaktes intuur.

Hier van die Oranje-gasteplaas se kampplek af kyk jy oor die Oos-Vrystaatse vlaktes met die mooiste sandsteenberge op die horison. Dit is 'n toneel wat op enige kunstenaar se skilderdoek hoort.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Oranje se blyplek is aan die voet van 'n sandsteenrif waarvan die een kant se spits lyk soos 'n neef van Golden Gate se bekende Brandwag. Soos die son se laaste strale oor die sandsteen val, besef jy dit is 'n mooi wat jy nêrens elders in die land teëkom nie.

Dieselfde geld vir die unieke koppie anderkant die pad wat lyk soos 'n moko­rotlo-strooihoed, 'n hooftooisel wat deel is van Lesotho se tradisionele drag en ook op hulle vlag pryk.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

As jy al van Clarens af op pad was met die R711 na Fouriesburg toe, sou jy heel waarskynlik afgetrek en 'n foto daarvan geneem het. Die koppie staan op die plaas Orangia en die oordmense noem dit Mamlebane.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Toe ons vier jaar gelede op pad was na die Uithoek-kampplek, het ons hier stilgehou om 'n foto te neem. Min het ons tóé geweet die hek links is die afdraai na die Oranje-gasteplaas. Dit was boonop in die tyd kort ná die Covid-19-pandemie, toe Oranje die eerste sooi gespit het vir sy nuwe kampplek.

Vandag kan 'n mens Oranje maklik as een van die beste kampplekke in die Vrystaat beskryf, veral as die natuur en ordentlike geriewe bo-aan jou lys van vereistes is.

Die naaste dorp aan Oranje is Fouriesburg (15km). Jy is nog skaars deur die ingang dan ry jy deur 'n vlak plas in 'n betontrog, byna soos by siektebeheerpunte in lande soos Botswana, maar gelukkig hoef niemand hulle skoensole te ontsmet nie.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

'n Bordjie langs die bad lui die eiendom het 'n "Biosecurity Management Plan", en "Voertuie, mense en toerusting kan draers wees van siektes, onkruidsaad en peste".

Jy is duidelik nou op 'n plaas.

'n Halwe kilometer van die R711 af staan jy by 'n vurk in die pad met die plaashuis voor jou. Hier is nog 'n kennisgewingbord wat kripties beduie vir "funksies" hou jy links en vir "ontvangs" regs.

Vir die kampterrein moet jy ook links hou. Skaars 150m verder maak die plaaspad 'n skerp draai na links, om 'n dammetjie met die mooiste klein sandsteenkerkgebou regs.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Wanneer jy Oranje se webtuiste die eerste keer besoek, voel jy soos die pa van 'n toekoms­tige bruid wat onthaalplek soek. Oranje is inderdaad 'n plek waar mense ewige trou kom sweer, maar niks keer jou om met jou kampgoed op te daag nie.

Tweede Vrede. Die Vrystaat het 'n dorp met die naam Vrede, maar op die Oranje-gasteplaas is dit ook 'n goeie opsomming van die plaasatmosfeer. Foto: Leon Botha
Tweede Vrede. Die Vrystaat het 'n dorp met die naam Vrede, maar op die Oranje-gasteplaas is dit ook 'n goeie opsomming van die plaasatmosfeer. Foto: Leon Botha

'n Bordjie voor die kerk, een wat soos 'n straatnaambordjie lyk, som Oranje in een woord op: "Vrede".

Ons sou dink 'n verkeersknoop hier is onmoontlik... tot ons ongeveer 80m anderkant die kerk kom.

Die pad loop verby 'n skuur links met hooibale wat tot teen die dak gestapel is, maar ons moet toegee vir die verkeer van voor af: 'n trop skape en 'n enkele donkie.

Swartskaap. Die plaaslewe om jou gaan aan soos gewoon, en jy gaan meer as een keer die trop skape teëkom. 'n Donkie is deel van die geselskap - dit lyk of hy heel moontlik die voorbok kan wees. Foto: Leon Botha
Swartskaap. Die plaaslewe om jou gaan aan soos gewoon, en jy gaan meer as een keer die trop skape teëkom. 'n Donkie is deel van die geselskap - dit lyk of hy heel moontlik die voorbok kan wees. Foto: Leon Botha

Dit is hier waar 'n bordjie die eerste keer aandui wat die verblyfkeuses is: Tente, woonwaens en huisies.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Nou lê 'n kort bultjie voor tot jy langs 'n enkellaning bome ry, verby 'n klompie chalets. Dan verskyn 'n groot gebou wat lyk soos 'n onthaalsaal. Dis egter allesbehalwe (later meer hieroor).

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die lappie gras wat weg van die gebou af strek, is die kampgedeelte.

Ons besoek was in Februarie, 'n tyd wanneer dié wêreld grasgroen is, en die kampgedeelte se grasperk lyk of dít is waar aspirant-tuiniers leer hoe 'n grasperk moet lyk.

Die staanplekke is in twee stroke uitgelê weg van die groot gebou af - hoe verder van die gebou af jy kamp opslaan, hoe verder is jy van die badkamers af. Jou vullisdrom staan in 'n vierkantige gemesselde sandsteenhokkie, en ook jou kraan en kragpunt is hier. Die braaiplekke staan los en jy kan een nader dra.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Al die staanplekke lyk dieselfde en dit maak nie regtig saak wie waar staan nie. Koelte gaan ook nie 'n verskil maak nie - wel, nog nie in hierdie stadium nie, want die boompies is nog jonk.

Afhangend van die spesifieke staanplek, is die badkamergebou tussen 40m en 130m van jou staanplek af. Die opwasplek is buite die gebou heel links en daar is ook plek waar jy jou kassettoilet kan dreineer.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die deur langs dit gee toegang tot 'n lang gang wat voor die badkamers verbyloop. Die eerste vertrek is 'n gesinsbadkamer, waarna die mans se geriewe en op die punt die vroue se geriewe volg.

Oranje se badkamers is heerlik ruim, ook die storthokkies, en dan is daar nog klein dingetjies soos die krane wat nie reg onder die stortkop sit nie, maar eenkant - wat dit baie makliker maak om die regte temperatuur vir jou te kry sonder om deur te loop onder 'n straal koue water.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die gesinsbadkamer se hoekbad is teen die oorkantste muur by die venster, en die wasbak staan op 'n blad links met 'n spieël bo dit. Die instapstort is regs van die deur soos jy inloop met 'n glas­afskorting, en soos 'n mens verwag, is hier genoeg ruimte om kinders op 'n streep skoon te kry.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die vroue en mans se geriewe is eenders met twee storte elk, maar die vrouekant het 'n ekstra wasbak. Jou stort­hokkie is afgeskort met 'n glaspaneel en daar is 'n bankie waarop jy jou besittings kan neersit.

Die badkamers is in 'n smal gedeelte van die groter gebou, en die res van die ruimte is nie 'n dansvloer nie, maar 'n enorme onderdakswembad van on­­geveer 15 x 9m.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Dit is die klas swembad wat 'n mens by 'n besige gesinsoord verwag. Die water word met sonkrag verhit tot "kamertemperatuur" maar dis nie 'n stoombad nie.

Die kleintjies se plonsplek (3 x 3m) vorm deel van die groter bad op die een punt, en daar's 'n muurtjie tussen die vlak en diep kant. Jy is dus by die kinders om 'n ogie te hou.

Buiten die badkamers se kant het die res van die gebou pleks van mure vensters wat van die vloer tot die dak strek - jy het dus 'n mooi uitsig oor die plaas.

'n Lig teen die badkamergebou sorg dat die kampplek nie saans in duisternis gehul is nie.

Kortliks | Oranje-gasteplaas

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Kampplek 17 staanplekke op die mooiste grasperk met 'n gedeelde kraan, vullis­drom en kragpunt naby. Die boompies is nog jonk en wifi is beskikbaar by die swembad.

Ablusiegeriewe Badkamers vir mans, vroue en 'n gesin. Dis baie ruim en jy kan alles deur 'n ring trek.

Prys R450 p.n. per staanplek vir tot 6 mense.

Aankoms- en vertrektyd Geen vas­gestelde tye nie.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Kontak 084 712 0427 | bookings@oranjegasteplaas.co.za | oranjegasteplaas.co.za

Naaste dorp Fouriesburg 15km.

Hoe lyk die pad? 1,2km netjiese plaaspad tot in die kampplek.

GPS S28.654027 E28.338426

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Ry & Sleep sê Met ons besoek was ons die enigste kampeerders en omtrent die helfte van die chalets was beset. Niemand het op trou gestaan nie, en 'n mens glo die plaasatmosfeer sal steeds die botoon voer met 'n menigte hier.

WASCHBANK-RIVIERLODGE

Beloning aan die ander kant

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Waschbank is 400km van die Oranje-gasteplaas af. Terwyl 'n mens in die omgewing is, maak dit sin om al teen die Lesotho-grens af verder suid te ry pleks van oor Bloemfontein (dis ook 35km verder).

Só kan jy die beste van die sandsteenberge sien tot jy weer koers kies binneland toe.

Pasop net vir die 50km op die R26-teerpad tussen Ladybrand en Hobhouse wat in 'n haglike toestand is. Daar ís slaggat-waarskuwings aangebring wat jou maan om 80km/h te ry, maar jy gaan nie naastenby 80km/h haal nie; jy sal dálk heel aan die ander kant uitkom as jy 40km/h ry.

Van voor sien 'n mens hoe die aan­komende verkeer soos 'n slangetjie heen en weer oor die pad ry om die slaggate te vermy - terwyl jy van diékant af dieselfde doen. Op sommige dele ry 'n mens eerder langs die teerpad op die grond.

Dis omtrent 'n beproewing, maar gelukkig wag 'n groot pot salf by Waschbank.

Padlangs is dié kampplek skaars 5km buite die dorp Gariepdam, wat glo die mees sentrale punt in Suid-Afrika is.

Dit bestaan uit 'n klompie huise teen die rantjie aan die westelike kant van die gelyknamige dam wat as huisvesting gedien het vir konstruksiewerkers wat in die jare sestig die dam gebou het.

Destyds was die naam Oranjekrag, maar dit is in 1996 verander.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die natuurskoon van dié wêreld is ewe mooi, en Pierneef sou hier by Waschbank ewe tuis voel. Die kampplek het 'n uitsig oor die breë rivier langsaan, en anderkant die waters staan koppies die horison vol met bo dit die blouste donderwolke wat saampak en kort-kort grom.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

'n Paar streepswaels kom kry selfs skuiling onder ons stoepdak in die vars bries, asof hulle heeltemal gewoond is aan kampeerders. Vir 'n beter verwelkoming kan 'n mens skaars vra.Van Gariepdam se kant af is die afdraai na Waschbank meters voor die Norvals­pontbrug. Hulle grond strek van hier af tot by die N1-brug 6km stroomaf - die brug oor die Oranjerivier tussen die Vrystaat en Noord-Kaap.

Die Norvalspontbrug was glo die eerste brug oor die Oranjerivier (1889) maar die Boere het dit in 1900 geduren­de die Anglo-Boereoorlog opgeblaas en dit is eers ná die oorlog herstel.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die toegangshek van Waschbank is onder dié brug. Jy pons die kode in en ry in 'n lang steeg aan die anderkant uit.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Daar's 'n hoë heiningdraad, en te oordeel na die ruigtes langs jou voel dit omtrent of jy die Bosveld binnery. Die pad swenk bykans dadelik regs, weg van die rivier af, en word 'n werklike puik grondpad wat enige voertuig sal kan baasraak.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die plaasbedrywighede begin hier; links van jou is pragtige mielies met twee spilpunte. Naderhand ry jy om die mielieland terug in die rigting van die rivier, en dan kry jy die kantoor omtrent 1,5km van die hek af.

Hier is 'n vurk in die pad: Die kantoor is links teen 'n kort bultjie af met parkering voor dit (die staanplekke is aan die ander kant) en die regterkantse pad is 'n kortpad kampplek toe.

Hou regs en trek net hier af as jy 'n lang sleepkombinasie het. Die parkeerplek is ruim genoeg, maar die draai aan die ander kant is té skerp om by die kampgedeelte in te kom.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die vriendelike ontvangsdame stap saam om jou staanplek vir jou te wys, en 'n mens kan nie wag om jou plakkies uit te skop en kaalvoet op die groen gras­tapyt te loop nie. Dis duidelik Waschbank se tuiniers verstaan, net soos by Oranje, hoe 'n grasperk behoort te lyk.

Jy is nog skaars op pad staanplek toe of 'n werker dra 'n braaiplek nader.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die kampplek loop met 'n skuinste af in die rigting van die rivier, maar is in terrasse parallel daarmee uitgelê.

Jy ry in die middel van die terrasse af met vyf staanplekke regs en vier links. Sorg dat jy jou vergewis van wat waar is vóór jy die kampplek binnery, want jy kan nie deurtrek nie en ook nie omdraai nie.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Jy gaan dus in alle waarskynlikheid jou wa op jou staanplek moet terugstoot sodat jy weer kan uitkom. Die staan­gedeeltes is darem mooi gelyk.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die staanpleknommers is aangebring op 'n vierkantige blokkie wat in die gras versink is, en jy het al die geriewe naby jou staanplek: 'n kraan, lig, vullisdrom en kragpunt (huis- en woonwasok).

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Soos jy inry, het elke kant 'n klossie koeltebome, maar op die meeste van die staanplekke moet jy regmaak vir volson.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die badkamergebou staan omtrent tussen die kantoor en die kampplek, en omdat al nege staanplekke bymekaar is, is die badkamers gerieflik naby vir almal.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die opwasplek is op die naaste punt onderdak, en die ingang na die bad­kamers links onder die stoepdak.

Hier is twee gesinsbadkamers met geriewe vir mans en vroue aan weerskante. En ook hier het die eienaars nie teruggehou met oop ruimte nie.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die mans se wasbakke staan byvoorbeeld op 'n lang betonblad met 'n aaneen spieël agter dit - vir beter kan 'n mens skaars vra. Net soos by Oranje is die stortkrane ook nie onder die stortkop nie, en die geriewe is hipernetjies en modern.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die gesinsbadkamer het 'n storthokkie met glaskante en die ander instapstorte het 'n glasafskorting. Een storthokkie is ruimer en sluit 'n toilet in. Vir jou eie gesinsbadkamer betaal jy R80 p.n. ekstra, andersins kan enigiemand dit gebruik.

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Die swembad is langs die badkamers tussen die rivier en die kampplek. Dit het 'n dek rondom, behalwe aan die verste kant waar die water oorloop.

Aktiwiteite soos bergfietsry en stap is gratis vir gaste, maar dagbesoekers betaal R50 p.p. Dieselfde vir hengel (R150 vir dagbesoekers) en wildritte (minimum 4 mense; R150 p.p. vir dagbesoekers; R100 p.p. as daar 5-8 mense is).

Kortliks | Waschbank-rivierlodge

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Kampplek 9 staanplekke op terrasse, op die mooiste grasperk langs die Oranjerivier. Hier is nie veel koeltebome nie. Wifi is beskikbaar by die restaurant.

Ablusiegeriewe Aparte geriewe vir mans en vroue plus 2 gesins­badkamers - alles ruim en vyfster. (Jy kan 'n gesinsbadkamer vir jouself bespreek teen R80 p.n.)

Prys Afhangend van die seisoen R400-R480 p.n. per staanplek vir 2 mense (daarna R80 p.p.). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd Tussen 14:00 en 20:00, en 10:00.

Kontak 072 474 7465 | info@waschbank.co.za | https://waschbank.co.za/waschbank.co.za

Naaste dorp Gariepdam 6,8km.

Hoe lyk die pad? 1,9km netjiese grondpad wat heel gangbaar is vir enige voertuig.

GPS S30.611000 E25.458039

Foto: Leon Botha
Foto: Leon Botha

Ry & Sleep sê Bespreek liefs vooruit, want dis 'n gewilde kampplek, veral as jy tussen die binneland en die Kaap reis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM