Reis

Dapper veldwagters lei die stryd teen stropers in Hoedspruit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto’s Magda Eloff

Haar wye glimlag en helder oë is in teenstelling met die handwapen op die jong rooikopvrou se heup.

En ná 'n oomblik of wat in haar teenwoordigheid besef jy sy het jou reeds getakseer: Lengte, haar- en oogkleur, kleredrag, die soolpatroon van jou stapskoene ... en wat sy moontlik nie waarneem nie, sal die snuffelende en alte vriendelike woef rondom jou voete se lyftaal wel aan haar oordra.

Anke Kruger de Rosner loop koes-koes onderdeur die akasiatakke. Dit was 'n geil somer wat alles laat oorgroei. Hier in die verre noorde is dit ook altyd warm.

Maar vergeet vir eers die klimaat: Hoedspruit en omgewing se wildstropertemperatuur is in die rooi. Dis egter presies waar Anke wil wees: In die hitte van die stryd. "Miskien het ek te veel na my pa se oorlogstories geluister..." sê sy ietwat lakonies.

Jock is uit 'n onbepaalbare genepoel. Anke kan egter die dag en datum onthou toe sy en twee reismaats gesien het hoe 'n motor 'n hond op die N4 naby Witbank tref. Dood.

Die babahond in sy ma se spore het egter die ongeluk oorleef, maar onmiddellik in 'n stormwaterpyp langs die pad gaan skuil. Ná heelwat paai en lok het die hondjie uiteindelik na Anke toe gekom.

Conraad en Anke met Nsimbi, Roo en Kalander.
Conraad en Anke met Nsimbi, Roo en Kalander.

En daarmee was die geskil tussen die drie vriende - oor wie die hond toekom ná die reddingspoging - afgesluit. Min het sy daardie dag in Julie 2017 geweet hoe die ses weke oue hondjie haar in 'n nuwe rigting sou stuur.

Sy is in Pretoria gebore en getoë, maar het naweke en vakansies koers gevat na vriende se plaas, versot geraak op die bosveld, en kort ná matriek sak en pak na Hoedspruit getrek.

"Waarom juis Hoedspruit, kan ek net aan instink toeskryf. Ek was nog nie 'n dag lank spyt nie." Voor die dag van die reddingspoging het sy pas haar eerste joppie as veldwagter gekry ná opleiding by die Eco Ranger Academy op Hoedspruit. én haar eerste stel afgetrap in 'n bedryf waarin nuweling-veldwagters en -gidse telkemale vir lief moet neem met karige betaling en omstandighede wat in sommige gevalle aan uitbuiting grens.

"Maar dit was die enigste werk wat ek wou doen." Met die vondeling Jock onder haar arm het Anke die besluit geneem waar-oor sy reeds maande lank gepieker het: Sy moet 'n manier kry om haar te onderskei in 'n werkomgewing wat in die algemeen redelik testosteroongedrewe is en terselfdertyd ruimte bied om haar intuïtiewe aanvoeling en aard te laat geld.

Sy het toe reeds kennis gemaak met Conraad de Rosner, wat K9 Conservation in 2011 tot stand gebring het. Dié onderneming verrig 'n veelvoud take in die wildomgewing, waaronder opsporing van renosterhoring, ammunisie en vuurwapens, strikke, spoorsny van gekweste diere, hulpverlening met wildvangste tot die opspoor van onder meer dieremis vir wetenskaplike navorsing.

Con en sy eerste werkhond, Zingela, het die verloopte tier Panjo in 2010 in Mpumalanga opgespoor.

Hierdie storie lei toe jare later met 'n ompad daartoe dat 'n bewaringsorganisasie in Indië op K9 Conservation se spoor kom waarna Anke twee weimaraners en twee Belgiese herdershonde soontoe geneem het om daar te ontplooi in teenstropery van onder meer tiere en luiperds.

Anke het in 2017 as teenstropings-veldwagter by K9 Conservation begin, en gevorder tot die opleier van honde sowel as van die hondehanteerders. Sy en Conraad is verlede jaar Desember getroud onder 'n oeroue kremetart teen die hange van die Drakensberg en haar trougeskenk aan hom was, vanselfsprekend, 'n hond.

K9 Conservation plaas talle veldwagters en hulle opgeleide honde by verskeie kliënte wat wissel van private wildplase tot groot reservate, altesaam sowat 200 000 ha. "By een van ons kliënte is daar in sewe jaar geen renoster gestroop nie. Maar 'n mens sjuus maar daaroor, want dis nie goed om slapende stropers wakker te maak nie."

Anke oefen saam met Jock.
Anke oefen saam met Jock.

Deurentyd is Jock haar skaduwee, besig om stap vir stap sy ritme as werkhond te vind. "Elke hond het vanselfsprekend sy sterkpunte. 'n Mens moet die hond leer ken, kyk wat sy voorkeure is en daarmee werk."

Die spelerige honde tussen die groep voornemende spoorsnyers van Ecotraining wat die dag deur Anke touwys gemaak word, se houding verander summier wanneer die harnasse aangetrek word.

Dan is dit wérk, en word daar slegs geluister na die bevele van die hanteerder. Anke verduidelik daar is losweg drie kategorieë waarin die honde werk en wat soms oorvleuel. Bewaringshonde, meestal weimaraners en Duitse korthaarhonde (German shorthair pointer), is goed met die spoorsny van diere en opspoor van onder meer ivoor en renosterhoring.

Patrolliehonde, meestal die Duitse en Belgiese herdershonde, word ingespan om mense, vuurwapens en dies meer op te spoor, uit te wys en aan te keer terwyl bloedhonde meestal gebruik word in die kategorie beskryf as "koue spoorsny" waar die spoor agt ure en ouer is.

Jock, afkoms dalk Staffie-met-iets, het netnou nog heel liefderik onder Conraad se blad ingekruip. Nou het die baas van die plaas die byt-arm aangetrek en is dit 'n ander storie.

Conraad is die teiken, en dis al wat Jock in die oog het. Anke moet behoorlik terugleun met 'n stewige houvas om die hond te beheer terwyl Conraad doer aan die ander kant van die oop stuk veld stelling inneem. "Klik" is die leiband los en die hond streep soos 'n geelrooi blits, gooi sy volle gewig agter die byt in en los not de hel totdat Anke die bevel gee.

Jock oefen sy aanvaltegniek op Conraad se byt-arm.
Jock oefen sy aanvaltegniek op Conraad se byt-arm.

Dis eers wanneer Conraad die opgestopte arm eenkant neersit dat die hond ietwat kalmeer; steeds ingestel op die geringste subtiele bevel van Anke om dalk 'n vol-gende aanval te loods.

Hulle honde, soms soveel as 12, word nie in hokke aangehou nie (tensy spesifieke omstandighede dit vir kort periodes ver-eis), en is dag en nag om hulle voete op die plaas net buite Hoedspruit.

"Ons boer ook op klein skaal met die mikpunt om selfonderhoudend te wees. In ons vrye tyd, wat min is, pak ons kuns-projekte aan. Buiten die honde deel ons ons stukkie Laeveld-hemel met twee perde, en 'n donkie.

As Conraad vir 'n sekonde wegkyk, is daar gewoonlik nog 'n dier of 'n projek wat ek stilletjies by die hek probeer insmokkel. Maar eintlik is hy ewe erg," sê sy laggend.

Op die oog af is dit luilekker, maar 'n oproep om reaksie kan enige oomblik gebeur. Soms moet wildstropers in die nag agternagesit word.

"Kyk, as jy ooit regtig lewendig wil voel, dan moet jy in die stikdonker in beboste leeuwêreld spoorsny... gelukkig is daar nie altyd tyd om bang te wees nie, dis net pure adrenalien."

Deel van haar werk as 'n teenstropingsveldwagter is om honde en hulle hanteerders op te lei.
Deel van haar werk as 'n teenstropingsveldwagter is om honde en hulle hanteerders op te lei.

Teenstropery is 'n daaglikse lae-intensiteitoorlog wat gevoer word. Die gang is meedoënloos. Oorwinnings is daar wel: Sindikate word geïnfiltreer; renosterstropers word gestop voordat hulle op wildreservate kan kom en ietermagogs word uit smokkelaars se hande gered. Honde is ook 'n wapen wat deur stroperbendes gebruik word.

"Stropershonde, meestal Africanisse, het wragtig 'n rowwe lewe," sê Anke. Dié honde se "opleiding" is onder meer verhongering, en omdat hulle in 'n trop jag, kan hulle groot skade aanrig op wild- en ander plase. T

wee keer het stropershonde na K9 Conservation "oorgeloop". Yule, 'n jong windhond, was in 'n trop stropershonde wie se eienaar deur K9 Conservation se span verjaag is.

Tydens die spervuur het Yule besluit sy soek asiel. "In die klassieke krygskuns moet jy 'n asielsoeker die voordeel van die twyfel gee." Yule het ongelukkig 'n onder-liggende siektetoestand gehad, en lê in ewigheidsrus in die hondebegraafplaas onder die combretumbome.

Nsimbi, 'n uitgeteerde Africanis, was die tweede en meer onlangse oorloper en begin reeds sy merk maak as bewaringshond. Sy sterkpunt is die opspoor van strikke en wildsvleisstropers.

"Dit maak sin, nè? Hy is ons klein spioen." Dit raak laat en eenkant wag twee veldwagters en hulle honde om terugvoer te gee. Anke groet, haar hand op Jock se kop. Daar is afwagting in die lug.

Ankie in 'n neutedop

Ander stokperdjies?

Huisskoonmaak en koekbak. Grappie! Boogskiet, visvang en met perde werk, is beslis van my groot liefdes. Ek is ook 'n gekwalifiseerde slanghanteerder - ek en Jock werk daar ook saam as 'n span. Hy wys die slange uit, ek vang en hervestig hulle.

Gunsteling- plaaslike uithangplek?

Sleepers Restaurant is 'n gunsteling onder die Hoedspruiters - dis altyd lekker om ander natuurbewaarders raak te loop en te kuier. Gunsteling-vakansieplek? Die Karoo. Daar is iets aan daardie stilte en sterrehemel wat my weer soos 'n mens laat voel en opnuut laat kans sien om die stroperstryd aan te pak.

Wat is altyd in jou reistas?

Ek's 'n regte doomsday prepper en 'n reistas is te klein vir alles wat ek altyd byderhand het, daarom is my Landie uitge-kit. Maar die kort antwoord is: biltong.

Jou droombestemming?

Beslis Namibië. Daardie landskappe lok my.

'n Renoster van strikke

Hierdie lewensgroot renoster is in sy geheel gebou van strikke wat die afgelope sowat ses jaar deur K9 Conservation uit die veld gehaal is. Hier en daar is byle en ysterknopkieries in die skepping gebruik; dis stroper-wapens wat afgeneem is.

Die beeld wag op 'n koper sodat die geld gebruik kan word om nog honde op te lei. 'n Bakkievrag vol strikke is reeds geskenk aan Down to the wire (down2thewire.org) wat die strikdraad gebruik om eiesoortige armbande en dies meer te maak as simbool van die stryd teen stropers.

Neffens die renoster is reeds genoeg strikke vir 'n volgende "kunswerk". Meer inligting beskikbaar by k9conservation.com.