Reis

Rover... Land Rover

Die eg Britse handelsmerk Land Rover bring hulde aan die eg Britse spioen, James Bond, met 'n spesiale V8-model wat die Land Rover Defender Bond Edition genoem word.

Dié voertuig - of 'n Hollywood-weergawe daarvan - is te sien in die 25ste amptelike James Bond-fliek met die titel No Time To Die. (Eintlik is daar 27 Bond-flieks, maar Peter Sellers se 1967-komedie Casino Royale en Sean Connery se Never Say Never Again van 1983 word nie as kanonies beskou nie.)

Die Bond Edition is beskikbaar in die 110-langbak- en 90-kortbakmodel en albei spog met pikswart bakverf, glansswart 22"-wielvellings, blou remknypers en die "Defender 007"-kenteken op die agterdeur.

Daar is ook Defender 007-kentekens op die deurdrumpels en die raakskerm het 'n 007-animasie. O, en projektors in die syspieëltjies skyn groot "007" op die grond wanneer jy in- en uitklim.

Dis net so subtiel as die ‘ware' James Bond.

Slegs 300 Bond Editions gaan gebou word, en teen die tyd dat jy hierdie stuk lees, gaan die meeste van hulle al opgeraap wees - jy gaan dus gou moet spring om jou naam op die lys te kry, want slegs vyf Bond Editions word vir Suid-Afrika opsy gesit.

No Time To Die, waarin Daniel Craig na verwagting die laaste keer as James Bond gaan optree, draai reeds vanaf 1 Oktober in Suid-Afrikaanse bioskope.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM