Reis

RUBRIEK: Jimny-drama en ’n vervloekte houtkameelperd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit is nie maklik om jou lê te kry agterin 'n Suzuki Jimny nie, veral nie as jy 1,8 m lank is nie. Dit is pikdonker buite en ek móét slaap, want oor drie uur is dit my beurt om te bestuur.

My vrou, Suzaan, hou die kar in die pad en ons 14-jarige dogter, Miri, hou haar wakker.

Ons is besig om in een skof dwarsdeur die nag van Graskop in Mpumalanga tot by ons huis in Kaapstad te ry.

Terwyl ek sit-lê met my kniekoppe tussen my elmboë, dink ek terug aan die rede waarom ons besluit het om onsself so te martel. Ek vermoed dit het alles begin met 'n gekerfde houtbeeldjie van 'n kameelperd...

Ons was in die pylvak van 'n twee weke lange langpadreis wat gestrek het van die Kaap tot by Musina en terug.

Noord van Graskop, op die Abel Erasmuspas, kort voor die J.G. Strijdom-tonnel, is daar tientalle kunsvlytstalletjies waar Swazivroue met houtbakke en kleipotte smous. Hulle verkwansel ook Afrikalappe (my vrou het 'n swakplek hiervoor), diere gekerf uit hout of klip, knopkieries en bont krale.

Ek trek nie graag by hierdie soort stalletjies af nie, want die pryse is gewoonlik buitensporig en heelparty smouse het die kuns vervolmaak om jou só skuldig te laat voel dat jy mettertyd ingee en iets koop - iets waarvoor jy geen nut het nie.

Toe Miri vra of ons kan aftrek om die bont snuisterye te bekyk, wou ek eers nee sê, maar Suzaan was kop in een mus met haar, en aangesien ek die enigste man in my gesin is, het ek lankal aanvaar dat ek altyd in die minderheid gaan wees.

"Ons gaan net kyk; ons sal niks koop nie," beloof Suzaan, maar ek weet wat kom. Die koeël is deur die kerk toe Miri 'n houtkameelperd by een van die stalletjies optel. Wat!? R500 vir dié kameelperd? Dis verregaande!

Ek weier om soveel te betaal, maar die vrou mopper oor haar ellende en die prys word eers verlaag tot R400 en uiteindelik R300 - 'n winskoop, volgens Miri, maar na my mening steeds té veel vir 'n houtkameelperd wat skaars 30 cm hoog staan.

Ek keer my gesin kar toe aan vóór die smouse ons verder met 'n slap riem vang.

In die Jimny se truspieëltjie kan ek sien hoe Tom, die kameelperd, stip na my kyk. Miri het hom so genoem, na een van haar gunsteling-YouTubers.

Die volgende dag ry ons uit Graskop in die rigting van Hoedspruit om die Klaserie-waterval te besoek. Die skouspel is ongelukkig agter 'n digte wolk verhul en ons kan dit glad nie sien nie.

Op pad terug Graskop toe begin al die liggies op my Jimny se instrumentepaneel flikker en die enjin stotter op die stamperige grondpad.

Gelukkig is daar veilige aftrekplek by 'n kuierplek - die Outback Pub & Grill - op die Hoedspruit-Bosbokrandpad.

Ek maak my voertuig se enjinkap oop, vee die batteryaansluiters skoon en draai die kabels weer vas, maar nou is die Jimny morsdood.

Onverklaarbaar.

Nico du Preez, die eienaar van die restaurant en raakvatter van formaat, sit hand by, maar ook hy kan nie die fout kry nie. Dit is vyfuur op 'n Vrydagmiddag en boonop Oujaarsaand!

Ek bel werktuigkundiges, maar niemand wil uitkom nie want hulle braaivure is reeds aangesteek, die gaste ook daar en die brandewynbottels se proppe klaar platgetrap.

Nico bied barmhartig aan om ons weg te neem na ons gastehuis op Graskop waar ons die naweek kan laaglê tot Maandag. Ek hou nie daarvan om sonder my eie ryding te wees nie, veral in die vreemde. Ek raak ook skaam as my rygoed probleme gee - so asof dit mý skuld is.

Ek sien dus nie kans om elke dag braaihout en kruideniersware deur Graskop se strate na ons gastehuis aan te dra nie, want ek is bang die mense praat: "Kyk, daai man het nie 'n kar nie..."

Daarom plunder ek eerder my beursie in restaurante - eers by die pannekoekplek, dan die Portugese taverne, gevolg deur die Garden Shed - sodat ons darem nie net een eetplek se drumpel deurtrap nie, want die mense gaan praat.

Graskop is 'n klein dorpie en dit vat nie lank om elke eetplek en kunsvlytwinkel te besoek nie, selfs te voet.

By een so 'n winkel loop ons Tom se broers raak. Tientalle houtkameelperde, wat duidelik deur dieselfde hande as Tom se skepper gekerf is, is hier te koop teen R150 stuk!

Die Abel Erasmuspas se smouse het ons omtrént met 'n slap riem gevang.

Die naweek is ons verder beproef met 'n nimmereindigende reënbui en weerlig wat die dorp se elektrisiteitstoevoer herhaaldelik uitgeslaan het, insluitende die gastehuis se wifi.

Ons het die grootste deel van Saterdag en Sondag in die donker gesit terwyl Miri die data op my foon uitput om Tom, die YouTuber, se video's te kyk - dít terwyl Tom, die kameelperd, my tartend uit die hoek van die kamer staan en aankyk.

Die Maandagoggend neem Brendan Traill, eienaar van die gastehuis waarin ons bly, my terug na die geknelde Jimny waar 'n werktuigkundige reeds op my wag.

Dié werk 'n halfuur lank aan die Jimny se bedrading, maar hy kan óók nie die fout opspoor nie. Eerder as om sy tyd verder te mors haak hy die Jimny en sleep hom na sy werkswinkel op Acornhoek waar 'n motorelektrisiën die probleem kan oplos.

Die motorelektrisiën is nie 'n haastige man nie. Hy slenter doodluiters oor die werkswinkel se vloer voor hy langsaam in sy gereedskapskis krap op soek na iets skynbaar belangriks. Uiteindelik, as hy dit nie kry nie, laat vaar hy maar sy soektog.

Die rustigste motorelektrisiën op aarde staan nou voor die Jimny en bekyk die enjin asof hy iets gewigtig oorweeg. Ek wil die man aan sy boortjie gryp, maar voor ek iets kan sê, is sy hand onder die enjin se rekenaarkassie.

Sy een wenkbrou lig en hy mompel: "Daar's hy nou." Dan skuif die onbekommerde tegnikus agter die stuur in en swaai die enjin.

Alles is in die haak - dit was net 'n draadjie wat losgekom het.

Dit was egter 'n duur uitstappie. Nie net het die werktuigkundige se rekening by die R3 000 beloop nie, maar dis ook nie goedkoop om oor Nuwejaar op Graskop te bly nie.

Nóg 3 000 bokke daarmee heen...

Ek en Suzaan het die vorige aand besluit ás die Jimny herstel kan word, val ons dadelik in die pad en ry reguit deur huis toe - 'n afstand van 1 800 km wat ons in ryskofte van drie uur elk sou aanpak - want Graskop is baie vinnig besig om my bankrot te maak.

Ons is skaars uit Graskop weg toe ek agterkom Tom, die houtkameelperd, kyk wraggies weer in die truspieëltjie vir my. Ek gluur hom terug aan en kyk die stopteken op die hoek van Hoofstraat en Louis Trichardtlaan heeltemal mis.

Daar spring 'n verkeersbeampte voor ons in en ek is nóg R2 000 armer!

Dit is nou 14 uur later. Ek kon sowaar 'n slapie inkry en ek voel vars agter die stuurwiel.

Nou is dit weer Suzaan se beurt om op die Jimny se agterbank op te krul.

Ná die voorval met Graskop se spietkop het Miri opdrag gekry om Tom, die kameelperd, diep onder in haar kleresak te bêre, want ek wil daai vervloekte beeldjie nooit weer sien nie.

Ná vele nagtelike stopbeurte vir koffie en petrol verrys die son oor die Karoo se koppies terwyl ons Beaufort-Wes binnery.

Dis nog net 440 km tot by die huis.

Ek is nie bygelowig nie, maar met Tom uit die pad het die rit tot dusver goed verloop.

Miri se kop vang vis, want sy't haar ouers heelnag wakker gehou - sy is 'n gawe kind - maar sy ruk orent wanneer sy 'n snuisterystalletjie teenaan die hoofstraat gewaar: "Kan ons stop om te sien wat hulle verkoop?"

"Nee!" roep ek en Suzaan gelyk.

CTA