E k is op Kuruman gebore en het ook daar grootgeword. Dis 'n klein plekkie in die hart van Suid-Afrika se grootste provinsie. Snaaks genoeg is die Noord-Kaap die yl bevolkste provinsie in die land.
Dit het oneindige leegtes; 'n mens ry soms vir honderd kilometer van een dorp na die volgende en sien niks behalwe veld nie.
Ek woon al sedert 2007 in Pretoria, maar ek bly 'n dorpsmeisie met wonder-like herinneringe aan my komvandaan op Kuruman. Die meeste mense weet van Kuruman danksy die Oog - 'n bekende fontein wat tot 30 miljoen liter water per dag lewer.
Dis waar die inwoners hulle water vandaan kry, en dit voed ook die Kurumanrivier en twee kanale waaruit boere hulle landerye besproei.
Die Moffat-sendingstasie is in 1824 hier gevestig en die historiese Mary Moffat-tuin is uit die einste Oog natgelei. Mary was getroud met die Skotse sendeling Robert Moffat en hulle dogter - ook Mary - sou later jare met die sendeling David Livingstone trou.
Vir skoolkinders was 'n besoek aan die Moffat-sendingstasie altyd dié beste uitstappie.
Ek onthou: Ek is in 1989 die heel eerste keer soontoe, en die welige tuin vol bome en blombeddings was soos 'n stukkie hemel vir iemand soos ek wat in 'n township grootgeword het. Die ou kerkie en huisie was van grys steen gebou.
Party van hulle was met 'n mengsel van beesmis en rooi Kalahari-sand gepleister. Terwyl ons klasgroepie rondgedwaal het, het dit altyd vir my gevoel asof ek tussen die bladsye van 'n reistydskrif loop.
Ek was skoon jaloers op die mense wat daar gewerk het, en ook vas oortuig dat hulle God se witbroodjies is.
Met 'n skoot geluk word ek toe aan die begin van my loopbaan (in die vroeë 2000's) die sendingstasie se bibliotekaresse en argivaris. Vir die Batswanas is dit 'n plek van groot belang, want die eerste volledige vertaling van die Bybel in Setswana is in 1857 hier gedoen.
Die drukpers waarmee dié Bybels gemaak is, staan vandag nog daar. Dit was ook daar op Moffat dat my skryfloopbaan begin het.
Daar was verskeie versteekte plekkies waar ek in stilte kon sit en skryf, soos onder die boom waar Mary en David Livingstone in 1845 in die eg verbind is. Die sen-dingstasie was Livingstone se basis waarvandaan hy op sy reise dieper in Afrika in vertrek het.
Die Robert Moffat-biblioteek - met sy indrukwekkende versameling boeke, baie daarvan eerste uitgawes wat uit die 1800's dateer - was ook een van my gunstelingplekke. Daar kon ek met groot genot die bokse uit die argief oopmaak en die reuk van die ou dokumente inadem - dit was soos om terug in tyd te reis.
Ek sal nooit vergeet van die keer toe die befaamde Skotse geskiedkundige Niall Ferguson ons biblioteek in 2002 kom besoek het nie. Teen daardie tyd het hy al menige biblioteek oral oor Suid-Afrika aangedoen op soek na inligting vir 'n dokumentêre reeks waarmee hy besig was, maar sonder sukses.
En daar vind hy toe jou wrintie dít wat hy nodig het in ons bibliotekie! Dit was sweerlik een van my trotsste oomblikke.
Die lewe op die sendingstasie was nie aldag rustig nie. In die hoofhuis het ses Jack Russell-terriërs gewoon, en daar het ook 'n paar donkies en perde op die omliggende grond losgeloop.
Die direkteur, Richard Aitken, bring toe boonop op 'n dag 'n wit bok daar aan met die langste horings wat ek al gesien het. En só word Mister Claude ook deel van die dierefamilie.
Mister Claude het glad nie daarin belang gestel om 'n plaasdier te wees nie. Hy' t hom soos 'n hond gedra en oral agter Richard aangedraf.
Wanneer Richard in 'n vergadering was, het die bok ewe buite die deur gesit en wag!
Omdat hy taamlik mak gelyk het, het ek aanvaar dat Mister Claude nie 'n gevaar vir mense sou wees nie.
Verkeerd!
Een oggend terwyl ek op pad biblioteek toe was, het die bok my genader. Ek het eers niks daarvan gedink nie en net verbygehou, maar toe kom ek agter hy volg my! En die oomblik toe ek omkyk, toe storm Mister Claude!
Ek het toe nog die jeugdigheid aan my kant gehad en begin weghardloop so vinnig as wat my bene my kon dra. Die bok se oë was rooi van woede, sy horings reeds omlaag om my te gaffel.
Ek het na die biblioteek gemik, maar op pad soontoe onthou dat die deur gesluit was en daar was beslis nie nou tyd om met 'n sleutel te staan en rondvroetel nie.
Gelukkig het 'n buitengewoon hoë tafel buite op die stoep gestaan - iets waaroor ons altyd gelag het. Dié dag was die tafel my redding. Ek kan glad nie onthou hoe ek my voorsprong op die bok behou het óf bo-op die tafel gekom het nie, maar toe ek weer sien, toe's ek bo-op!
As Mister Claude 'n régte plaasdier was, sou hy sekerlik in daardie oomblik onthou het dat hy óók bo-op die tafel kan spring en my bykom, maar sy luiheid en identiteitskrisis het hom die aftog laat blaas.
Hy't my nog een laaste teleurgestelde kyk gegee en toe weggedrentel.
Ná etlike soortgelyke voorvalle met besoekers en toeriste moes ons maar later vir Mister Claude teen wil en dank 'n ander tuiste vind.
Ek wonder wat van hom geword het… sedertdien kyk ek met ander oë na bokke!
Die Moffat-sendingstasie was vir heelwat swart Suid-Afrikaners in die moeilike apartheidsjare 'n baken van hoop.
Daar was 'n uitstekende skool wat uitsonderlike leiers opgelewer het. As 'n Motswana afkomstig van Kuruman met 'n loopbaan in tale en literatuur kan ek in retrospek sien dat die sendingstasie 'n groot invloed op my gehad het.
Ek het Katoliek grootgeword in 'n township sonder 'n biblioteek, daarom was my leesstof beperk tot tweedehandse fiksieboeke en die kerk se onderrig.
In die Moffat-biblioteek het ek egter te doen gekry met die vroeë literatuur van Islam en Judaïsme. Dit was die eerste keer dat ek godsdienstige tekste kon lees wat nie uit Katolisisme spruit nie, soos byvoorbeeld die oorspronklike Bhagavad Gita, een van Hinduïsme se heilige geskrifte.
Dié tekste het my oë vir die wêreld oopgemaak, en ek het myself belowe dat ek met mý lewe 'n verskil gaan maak.
Dís waarom ek stemme laat opklink wat andersins nie in die hoofstroomliteratuur bekend sou wees nie. En dis alles danksy die Moffat-sendingstasie wat my uit my gemaksone gedwing het.
Elke keer wanneer ek Kuruman besoek, loer ek daar in - om myself aan daardie vormingsjare te herinner. Die biblioteek en bome - en selfs die bok! - sal my ewig bybly.
Lorato Trok is die skrywer van The Forgotten Scientist - The Story of Saul Sithole (Jacana, 2020) en ander boeke.















