Reis

Seekoeie, krokodille en jeugmoed: Kamp op Komatirivier loop skeef!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vroeg in die laaste dekade van die vorige millennium bevind ek my in Mbombela. Dit het toe nog Nelspruit geheet en was die tuiste van onder meer 'n sokkerspan genaamd Dangerous Darkies, wat toe nog in die nasionale liga gespeel het.

Dit was ook die hoofkwartier van die Kommandement Oos-Transvaal waar ek in daardie stadium diensplig gedoen het. Geografies gesproke was daar net enkele weermagbasisse binne die landsgrense wat verder weg was van my grootwordhuis in die Boland - ook as dit by fauna en flora kom.

Waar ek grootgeword het, was die enigste "wild" wat jy in jou daaglikse handel en wandel sou teëkom, moontlik 'n eekhoring in die hoofstraat of 'n dassie op die berg se voetpaadjies.

Om op die Krugerwildtuin se drumpel te wees was dus 'n ongekende avontuur vir my. As ekstra bonus was ons nie beperk tot 'n vaal kamp met wagtorings en slegte kos nie.

Ons het dikwels met die omgewing se vrugteboere te doen gekry en hulle het ons oorlaai met vars piesangs, lietsjies, lemoene, neute en dies meer.

Hulle het ook sonder skroom aangebied dat ons op hulle plase kan oorbly wanneer ons in die veld moes werk. Só gebeur dit dat ek en drie kollegas per geleentheid in 'n seiltentjie oornag neffens 'n piesangplantasie op 'n plaas langs die Komatirivier.

Toe ek teen ligdag die tent ooprits met my handhoek oor my skouer, kom die wyser en gryser een van die drie so half regop op sy elmboog en vra: "En waar gaan jy nou?" "Rivier toe, om te was," antwoord ek.

"Jy weet daar's krokodille in die rivier, nè? Kyk net waar jy trap," brom hy voor hy sy slaapsak regtrek en verder snork. Ek was toe maar my gesig met water uit 'n kan en steek die koffievuurtjie aan.

'n Paar maande daarna besluit ek en 'n paar vriende om een van die ander boere se uitnodiging te aanvaar en vir die naweek saam met ons meisies te gaan uitspan op die private kamplekkie op sy plaas - reg langs die einste rivier.

Ons het nie juis kamptoerusting nie en oortuig 'n stoorman om vir ons 'n groot ou weermagtent te leen in ruil vir 'n paar pakkies sigarette en 'n belofte om hom aan iemand se suster voor te stel. Dit is een van daai groot groen gedoentes met meer pale en toue as op 'n Voortrekker-saamtrek - en 'n enkele middelpaal wat die nok in die lug moet hou.

By die kampplek verduidelik Nico, die boer, mooi waar ons kan opslaan en noem so half terloops dat ons ons oë moet oophou vir krokodille. Nico, 'n kranige tiervishengelaar, het 'n week of wat tevore die voorblad van die plaaslike koerant gehaal ná 'n onderonsie met een so 'n kalant.

Hy en 'n vriend het op 'n keerwal gestaan en lyn natmaak toe Ta sy vriend aan die onderbeen beetkry en die water in sleep. Elke keer as die krokodil gedraai het om sy prooi te versuip, het Nico sy sagte pensevelle met klippe bestook tot hy laat los. Die vriend het oorleef, maar wel sy been verloor.

Daarna het Nico 'n paar vanghokke aangebring. Hy gaan wys vir ons die naaste een, minder as 100 m stroomaf.

Maar dit is die seekoeie wat ons volle aandag geniet: 'n Groep van vyf, ses van hulle het in die middel van die rivier stelling ingeneem. Vier grotes het die kleintjies omsingel en elkeen met sy neus in 'n ander windrigting gaan lê om ons te bespied.

Daar is geen heining of versperring tussen ons en hulle nie, maar dis asof daar 'n instinktiewe ooreenkoms is: As almal mekaar uitlos, sal die naweek vlot verloop.

Met 'n bietjie moeite maak ons die tent staan op die oop kol wat Nico tussen die ruigtes op die rivierwal skoongemaak het, en teen skemertyd lag en gesels ons om die vuur wat in die braaidrom knetter.

Dis al stikdonker toe ons gaan inkruip. Maar dit is toe ook die tyd wat die seekoeie besluit ons het nou lank genoeg hulle weiplek beset. Ons is skaars in die tent toe hoor ons die sagte "grrrrts... grrrts" van lippe op die kampplek se sagte groen gras.

Ons slaap aanvanklik maar lig, veral my vriend Hannes se meisie, Thalita. Rondom middernag pla haar senuwees te veel. "Liefie," fluister sy vir Hannes. "Liefie, skuif 'n bietjie op. Ek wil nie so naby aan die deur lê nie. Netnou kom die seekoei hier in en trap op ons."

Hannes se logiese maar ondeurdagte antwoord is dat seekoeie nie bekend is daarvoor dat hulle die konsep van 'n deur begryp nie. As hulle sou besluit om hulleself tot binne in die tent te nooi, gaan hulle nie eers soek vir die laaste tentflap wat ons vasgemaak het nie.

Met sonop is die seekoeie terug in die water en ons kuier lustig voort. Ons speel selfs 'n bietjie "touchies", tot ek die bal per ongeluk in die water skop. Aanvanklik dobber hy net buite ons bereik op die water en ons probeer die ding met 'n lang tak nader hark, maar sonder welslae.

Trouens, dit het die teenoorgestelde uitwerking en die bal dryf nog 'n meter of twee weg. Ek skat die water is seker kniediep daar waar die bal dryf; of dalk halflyf op die diepste. Lank gelede het ek iewers gelees seekoeie kan 'n spoed van ongeveer 8 km/h bereik in die water, maar tot 30 km/h op land.

Met ons "kuiergaste" ongeveer 200 m stroomop in die water gee dit my dus rofweg 'n minuut om in die water te spring en Pottie se rugbybal te red. "Hou vas my plakkies; ek gaan gou die bal haal," verklaar ek, asof ek op die punt is om iemand se chihuahua uit die puin van 'n brandende woonstelgebou te red.

"Is jy van jou kop af?" is Hannes se enigste kommentaar. Ek verduidelik my berekeninge oor die seekoeie, maar oortuig niemand nie, nie eens vir Pottie nie.

"En wat van die krokodille?" vra hy. "Man, watter krokodille? Sien jy dalk krokodille?! Ek sien nie 'n enkele krokodil nie," hap ek terug. Vir 'n oomblik is almal stil, asof ek 'n groot waarheid gespreek het - tot Pottie die gesprek en my hele plan met 'n onverwagse literêre verwysing tot 'n einde bring.

"Ja-nee, Mabalel het ook nie die krokodil gesien nie..."

Daar staan ons toe op die oewer van die Komatirivier en kyk hoe Pottie se Super Springbok-rugbybal al verder wegdryf, Maputo toe.

Dit was asof almal se geesdrif vir kamp saam met daardie bal weggedryf het, en die aand is dit nie heeltemal se jolig soos voorheen om die kampvuur nie. Met die oppakslag die volgende dag gaan dinge maar traag onder die bloedige son, tot 'n skril gilletjie almal se aandag gryp.

Thalita kom van 'n entjie stroomaf aangestap met oë so groot soos pierings. Ons probeer vergeefs uitvis wat gebeur het. "Het jy nou weer 'n koggelmander gesien?" spot Hannes. "Kom kyk, kom kyk," is al wat sy uitkry.

Daar waar Nico sy vanghok vir die krokodil gestel het, lê hy toe. Ons eie Lalele - al 390 kg van hom, 3,5 m van sy snoet tot by sy stert (volgens die man van Natuurbewaring wat hom later kom haal het).

Die vanghok is flenters, maar tog kon hy hom nie daaruit loswikkel nie.

Thalita, een van die sagmoedigste en ordentlikste mense wat ek al teëgekom het, draai stil om en kyk Hannes stip in die oë terwyl sy na die krokodil beduie. "Liefie," sê sy. "Daai... daai, né... daai is nie 'n verdomde koggelmander nie!"

Ek het niks gesê nie. Ek het net Maandag vir Pottie 'n nuwe rugbybal gaan koop.

CTA