Die brul van 'n leeu, die roep van die visarend of 'n olifant se trompetter word beskou as die ware klanke van Afrika. Maar kom ons wees eerlik: Dié klanke hoor 'n mens meestal net in natuurreservate. Daar is min van ons wat die diere gereeld hoor.
Vir my is die gegons van sonbesies die ware agtergrondmusiek van ons vasteland. Somer is mos immers sinoniem met daai aanhoudende getjir-tjir! Die mannetjie maak die klank. Hy het 'n orgaan aan die kant van sy agterlyf wat 'n timbaal genoem word.
Die timbaal word ingetrek en skiet dan terug en maak 'n klikgeluid. Wanneer dié oefening op groot skaal deur 'n klompie individue herhaal word, kry jy die bekende gonskoor.
Een mannetjie begin en dan volg die res. Die rede vir die gegonsery is om wyfies te lok. Albei geslagte het ore (op hulle agterlyf), maar die wyfie s'n is beter ontwikkel.
Hulle lê hulle eiers in splete op plante. Sodra die nimf uitbroei, val hy grond toe en grawe met hoogs ontwikkelde voorbene 'n gaatjie. Hier - buite sig - teug hy aan wortelsappe en wag, soms dekades lank. En dan, op 'n dag ná 'n reënbui, kom die nimf boontoe, ondergaan 'n metamorfose en verander in 'n volwassene - en só begin nog 'n sonbesie se lewensiklus.
Dis nie duidelik hoekom die sonbesie so lank oorwinter of hoe die gogga so lank lewe nie.
As jy weer vir jou kinders of kleinkinders die interessante besie wys, vertel vir hulle dié musiekmaker is heelwat ouer as hulle!
Hierdie artikel het oorspronklik in Januarie 2017 verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.





















