Howard het al weke aaneen in sy klein seiljag op die oopsee rondom Madagaskar en die omliggende eilande deurgebring. Die slim gebruik van beperkte ruimte het hom gefassineer - en dit het hom nader aan sy "landskippies" gebring.
Tot dusver het Howard al meer as 20 van dié unieke woonwaens gebou, en elkeen kan jy as 'n unieke kunswerk beskryf.

Die binneuitleg van die waens is beïnvloed deur sy ervaring op seiljagte, maar vir die eintlike ontwerp het hy die horlosie 'n eeu of twee teruggedraai: Hy het sy twee modelle op 'n sigeunerwa en 'n herdershut gegrond.
Die sigeunerwa word van hout en seil gemaak en die herdershut word met plaat afgerond.
Hy het sy eerste sigeunerwa vir homself gebou. Dit het 'n dubbelbed gehad met twee bankies wat na mekaar toe kyk, maar hy en sy eerste wa het mekaar gegroet.
Howard het hom verkoop, maar dit was die begin van vele meer: Vandag staan daar vyf van sy waens by die Glen Eden-plaas se kampterrein waar gaste glanskamp kan kom ervaar.

Howard gebruik nie 'n tradisionele produksielyn nie, maar span eerder die fynste aandag en vakmanskap in vir elke wa voor hy die volgende een begin. Die modelle verskil wat toerusting betref: Daar is van die mees basiese weergawe tot eenhede met 'n badkamer en selfs 'n eie kragstelsel wat 'n omskakelaar en sonpanele kan insluit.
'n Kliënt se voorstel is Howard se vertrekpunt om dit te omskep in die uiteindelike produk. Hy sê dis soos om 'n pasgemaakte pak klere te maak vir iemand sodat dit perfek pas.
Die bouproses neem omtrent drie maande, en Howard gebruik plaaslike hout soos sipres en dennehout, maar meer gereeld sparhout uit Skandinawië - dis toevallig dieselfde soort hout as wat die Wright-broers destyds gebruik het om hulle eerste vliegtuig, die Flyer, te bou.

Howard se filosofie is eenvoudig: "Ek geniet dit om kreatief te wees en elkeen van my waens verskil. Op meer as een manier beskou ek myself as 'n kunstenaar en vind geluk deur hierdie kreatiewe proses. My doel is om gelukkig te lewe."
Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.















