Die dae dat die Suid-Koreaanse velsorgroetine - wat tot twaalf stappe bevat! - as goudstandaard gesien is, is vir eers verby.
Die laaste paar jaar is daar 'n groot beweging na eenvoudiger velsorg, met vroue wat verkies om net 'n handjievol min-moeite-produkte te gebruik. Dié tendens is skinimalism gedoop - 'n kombinasie van die woorde skin en minimalism - en behels ook dat 'n meer natuurlike voorkoms, imperfeksies en al, die botoon voer.
Dit gaan daaroor om jou vel met selfvertroue te omarm, sê Shannon Dougall, stigter van die plaaslike velsorgreeks SKIN functional.
"Dis 'n wegbeweeg van skoonheidstrends wat foute wil wegsteek en onrealistiese idees van wat mooi en perfek is."
Nicole Sherwin, stigter van nog 'n plaaslike reeks, Eco Diva Natural, stem saam.
"Nie net stel hierdie tendens 'n stralende, gesonde vel voorop nie, maar dit weerspieël ook 'n groeiende verbintenis tot volhoubaarheid en 'n ekobewuste leefstyl."

Met ons lewens wat so besig is, voel ons oorweldig deur die aanbod van produkte en aanbevelings oor watter produkte om te gebruik.
Dit kan vinnig lei tot 'n lang en ingewikkelde velsorgroetine, 'n skoonheidskas vol duur produkte en selfs oorafskilfering en 'n oorgestimuleerde vel.
Te veel aktiewe bestanddele in jou velsorgroetine en produkte wat verkeerdelik gemeng word, kan jou velwand irriteer en beskadig. Dít kan weer 'n magdom velprobleme, soos aknee, dehidrasie, fyn lyntjies en sensitiwiteit en rooiheid, veroorsaak.

Aanhangers van skinimalism stel voor jy gebruik minder, maar goeie produkte wat meer as een doel dien.
Dink bevogtigende reinigers wat ook grimering verwyder en die vel afskilfer, kragtige alles-in-een-serums en onderlaag wat ook velsorgvoordele bied.
'n Minimalistiese, vereenvoudigde roetine met gehalteprodukte is goedkoper, vinniger en meer volhoubaar sonder om doeltreffendheid en resultate in te boet. Is jy gereed om jou velsorgroetine te herbedink? Doen dit só!
Minimalistiese velsorg

Volgens Shannon Dougall is die basiese formule vir 'n goeie velsorgroetine eenvoudig: Reinig, behandel, bevog en beskerm.
Reinig

Stap een van jou velsorgroetine is altyd goeie reiniging, veral saans. Wanneer jou vel mooi skoon is, absorbeer dit die produkte wat volg beter en die kans is minder om knoppies en aknee te ontwikkel.
Kies 'n veeldoelige reiniger wat ook jou grimering verwyder en/of 'n afskilferingseffek het. Die meeste reinigers is geskik vir alle veltipes.
Behandel

Die doel van 'n behandelingsproduk (gewoonlik 'n serum of room) is om enige velprobleme waarmee jy sukkel, soos pigmentasie, 'n onegalige veltekstuur, aknee of tekens van veroudering, te takel.
Dié produkte bevat 'n hoër konsentrasie aktiewe bestanddele en werk in die dieper lae van jou vel - wat dit die moeite werd maak om in te belê. Danksy die skinimalism-tendens word deesdae se serums ontwikkel om meer as een probleem te behandel.
"Kennis van velsorg-bestanddele en hul funksies help om die regte produk te kies vir jóú vel se behoeftes. Fokus op hoogstens drie bestanddele vir kragtige resultate sonder om die vel te oorstimuleer," sê Shannon.
Bevog

Vogroom is die afronding van jou roetine. Buiten dat dit voedend en bevogtigend is, help dit om die produkte wat jy reeds aangewend het binne-in jou vel te seël en die velwand te versterk.
Wees op die uitkyk vir 'n vogroom wat nie net droogheid en dehidrasie takel nie, maar ook ekstra voordele bied vir die maksimum effek.
'n Ligte room met 'n waterige of jeltekstuur werk gewoonlik goed vir 'n olierige of kombinasievel. Vir 'n droë of sensitiewe vel moet jy 'n dikker, ryker vogroom kies.
Beskerm

Tot 90 persent van eksterne velveroudering word deur die son se UV-strale veroorsaak. Vir 'n jeugdige, gesonde vel is die belangrikste stap in jou velsorgroetine dus om elke dag, winter én somer, 'n goeie sonskerm aan te wend.
Maak seker jy gebruik 'n SBF 50-produk wat jou vel ook teen UVA-strale beskerm.
'n Vloeibare formule met 'n mat-afwerking is geskik vir 'n olierige of kombinasievel. As jou vel geneig is om sensitief te wees, kies 'n mineraalsonskerm. Gebruik 'n sonskerm al bied jou vogroom reeds dié beskerming. Wend bo-oor jou vogroom aan.
Bestanddele-slim

'n Produk met antioksidante is 'n goeie beginpunt omdat dit die vel teen eksterne aggressors beskerm en jou vel laat straal. Soek vir 'n produk met vitamien C, niasienamied, bakuchiol en/of feruliensuur.
Shannon se gunsteling- veelsydige bestanddeel is vitamien A (of retinol) omdat dit 'n rits velsorgprobleme takel - van veroudering tot knoppies, 'n onegalige velkleur en 'n growwe tekstuur. "Wanneer dit reg gebruik word, transformeer dit die vel."
As jy steeds onseker is oor die regte serum vir jou, kies een met hialuroonsuur wat jou vel hidreer en opplomp - alle veltipes en -toestande kan daarby baat.
Probeer dié produkte
1. 'n Fluweelsagte breëspektrum-sonskerm wat ook jou vel liggies bedek, olierigheid absorbeer en geskik is vir sensitiewe velle - Eau Thermale Avène Ultra Fluid Perfector SPF 50+ (R360)

2. Dié topverkoper-vogroom is geskik vir alle veltipes en bevat onder meer vitamiene, hialuroonsuur en voedende galambotter - Eco Diva Natural The Ultimate Face Cream (R415).

3. Belê in 'n reiniger wat grimering verwyder, jou vel skoonmaak én liggies afskilfer, soos Clarins se One-Step Gentle Exfoliating Cleanser (R615)

4. Die Elizabeth Arden Retinol + HPR Ceramide Capsules (R870 vir 30 kapsules) bevat twee tipes retinol, peptiede, seramiede en strelende bestanddele vir 'n kragtige teenverouderingsbehandeling wat ook geskik is vir diegene wat retinol vir die eerste keer gebruik.

5. Die SKIN functional Anti-Oxidant Blend (R270 vir 30 ml) bevat bakuchiol en vitamiene A, C en E om tegelyk fyn lyntjies, 'n onegalige gelaat en ligte knoppies te behandel.

* Produkpryse is voorgestelde pryse en kan verskil van winkel tot winkel




















