Is jy ’n opgaarder?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons almal ken iemand met 'n oorvol huis. Is dit dalk 'n geval van opgaar en wan­neer is dit tyd om hulp te soek?

Een van die groot aanduidings dat iemand 'n ongesonde gewoonte het om op te gaar, is wanneer vertrekke, soos motorhuise of kombuise, so vol goed staan dat die ruimte nie vir die oorspronklike doel van die ruimte gebruik kan word nie. Foto:?ISTOCK
Een van die groot aanduidings dat iemand 'n ongesonde gewoonte het om op te gaar, is wanneer vertrekke, soos motorhuise of kombuise, so vol goed staan dat die ruimte nie vir die oorspronklike doel van die ruimte gebruik kan word nie. Foto:?ISTOCK

Vir sommige van ons is die versameling van goed 'n onskadelike tydverdryf en 'n gesonde afleiding van ons daaglikse lewe. Vir ander kan dit 'n tragiese wending neem.

Dink aan die Amerikaanse TV-reekse wat 'n blik op die lewe van eksentrieke opgaarders en hul smerige huise gee. Is die versa­meling van materiële besittings anders as opgaar of klink die woord "versamelaar" dalk net beter­?

Volgens Shai Friedland, kliniese sielkundige van Johannesburg en 'n kenner van kompulsiewe opgaarstoornis, is daar 'n duidelike onderskeid te tref tussen 'n versamelaar en 'n opgaarder.

"Die grootste verskil tussen 'n opgaarder en 'n versamelaar is die vlakke van organisasie. Versamelaars vind die voorwerpe wat hulle versamel, esteties aangenaam. Hulle put vreugde uit die besit en versorging van hierdie pragtige voorwerpe en hulle hou daarvan om dit te vertoon sodat sowel hulle as ander hul skoonheid kan waardeer.

" 'n Opgaarder het gewoonlik probleme om items weg te gooi of te laat gaan, ongeag hul werklike waarde. Jy sal ook 'n toenemende aantal besittings deurmekaar in aktiewe leefruimtes kry tot die punt waar die beoogde gebruik van die ruimte nie meer moontlik is nie, wat lei tot aansienlik funksionele inkorting," sê Friedland­.

Kompulsiewe opgaarstoornis is een van die mees gestigmatiseerde en misverstaande sielkundige toestande. Omdat dit fisiek waargeneem kan word, anders as ander psigologiese steurnisse, word dit dikwels afgemaak as luiheid of sommer net algemene verwaarlosing.

Friedland sê hoewel daar in Suid-Afrika nie statistieke bestaan ten opsigte van hoeveel mense werklik aan dié steurnis ly nie, word daar algemeen aanvaar dat dit met die res van die wêreld ooreenstem. Dit is nie ras- of geslag-spesifiek nie.

Traumaties

Die opgaar van goed begin reeds vroeg in so 'n mens se lewe en word dan aansienlik erger namate die persoon ouer word.

'n Geraamde 2% tot 5% van Amerikaners ly aan kompulsiewe opgaarstoornis, maar Friedland meen die persentasie is waarskynlik hoër omdat 'n mens nie werklik daarvan bewus is dat dit 'n probleem is nie en opgaarders baie keer te skaam is om self te erken dat hulle 'n probleem het.

Kompulsiewe opgaarstoornis word as deel van die obsessief-kompulsiewe versteuring-spektrum geklassifiseer, wat 'n angsversteuring is, maar kompulsiewe opgaarstoornis is wel 'n bepaalde toestand.

Friedland sê kompulsiewe opgaarstoornis is in die algemeen 'n kombinasie van genetiese of oorerflike faktore en moontlik trauma of angs.

"Jy sal vind dat iemand met kompulsiewe opgaarstoornis dikwels 'n genetiese of biologiese kwesbaarheid vir opgaar het. So 'n persoon het heel moontlik 'n nabye familielid wat ook opgaar."

Daar is ook oorvleueling met ander psigiese gesondheidstoestande: Sowat 50% van opgaarders het ook ernstige depressie, terwyl sowat 20% ook aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom het. In die geval van ouer mense kan demensie die gedrag veroorsaak of vererger.

"Die toestand kan dormant lê en 'n traumatiese voorval of voortgesette stres kan 'n snellerreaksie tot gevolg hê. Amper soos 'n vulkaan wat uitbars. 'n Persoon ontwikkel dan 'n hanteringstrategie, wat is om aan goed vas te hou," sê Friedland.

Hoe help ek?

Ingryping staar baie mense met neigings om goed op te gaar nooit in die gesig nie en wanneer hulp ingeroep word, kom dit gewoonlik van familie of vriende wat bekommerd is oor die persoon se welstand.

Volgens Heidi Meyer, organiseer-ghoeroe en eienaar van Cloud 9 Organised, is 'n blitsskoonmaak 'n tydelike oplossing wat die simptome van opgaar eerder as die oorsaak hanteer.

Sy meen dit is wel nodig wanneer daar 'n dringende veiligheidsrisiko is. Vir die opgaarder kan die ervaring wreed en opdringerig wees.

Meyer sê dit is moeilik om 'n opgaarder te help opruim as die proses nie met psigoterapie gepaardgaan nie.

"Opgaarders neem nie sommer afskeid van hul items nie. Sielkundige hulp is noodsaaklik; dit help nie net om die huis op te ruim nie. By die volgende besoek is die huis weer net so deurmekaar.

"Die probleem is groter as die hope goed wat die persoon se lewensgehalte inkort," sê sy.

Sy sê dit is jammer dat die welstand van so 'n persoon nie onder maatskaplike dienste in Suid-Afrika getel word nie. "Dit is soms moeilik om die regte tera-pie vir 'n persoon te kry. In 'n land soos Amerika sal 'n profes­sionele organiseerder met 'n sielkundige saamwerk om iemand met kompulsiewe opgaarsteurnis te help."

Te veel rommel kompliseer nie net die opgaarder se lewe nie, maar beïnvloed ook verhoudings met vriende en familie wat deur die gemors en onhigiëniese toestande geraak word.

Kompulsiewe opgaarstoornis kan behandel word en 'n individu kan dit in bedwang kry, maar dit vereis ernstige motivering van die individu, sê Friedland.

"Die behandeling vir kompulsiewe opgaarstoornis sal dikwels 'n kombinasie van medikasie wees, wat gewoonlik selektiewe serotonienheropname-inhibeerders (SSRI's) en psigoterapie in die vorm van kognitiewe gedragsterapie of aanvaarding- en toewydingsterapie is.

Friedland moedig ook mense aan om die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) te nader om inligting oor kundige sielkundiges of psigiaters op die gebied van kompulsiewe opgaarstoornis in hul area. Hulle fasiliteer ook ondersteuningsgroepe vir mense met opgaarstoornis.

Friedland lig die volgende kenmerke uit van iemand wat moontlik aan opgaarstoornis ly:

Kompulsiewe of oormatige verkryging van goedere (dit kan enigiets wees, ongeag die werklike waarde daarvan);'n Individu wat nie enige van hul besittings weggooi nie;'n Individu wat ernstige tekens van ongemak toon wanneer hy gevra word om op te hou om items te bekom of om van sekere items ontslae te raak;'n Individu wat antwoorde soos die volgende gee: "Daardie item het beduidende persoonlike betekenis vir my", of: "Ek sal die item dalk eendag nodig hê."; en'n Individu wie se aktiewe leefareas (byvoorbeeld in 'n sitkamer, TV-kamer, slaapkamer of kombuis) so deurmekaar is dat daardie ruimte nie vir sy beoogde doel gebruik kan word nie.Nuwe navorsing

Onlangse navorsing het bewys dat virtuele werklikheid mense met opgaarstoornis kan help om te oefen om suksesvol van hul besittings ontslae te raak.

Navorsing eerste in sy soort deur Stanford Medicine-navorsers het pasiënte laat oefen om kosbare voorwerpe te laat gaan in simulasies van hul eie huise.

Die simulasies het pasiënte gehelp om organisatoriese en besluitnemingsvaardighede wat in kognitiewe gedragsterapie aangeleer is - tans die standaardbehandeling - te oefen en hulle te desensitiseer vir die ongemak wat hulle voel wanneer hulle items moet weggooi.

Die studie is gepubliseer in die Oktober-uitgawe van die Journal of Psychiatric Research.

  • Botha is 'n redaksielid van Beeld.

Wenke aan versamelaars

Heidi Meyer se wenke aan versamelaars:

  • Merk houers waarin versamelstukke gebêre word. Pak die houers so dat jy altyd toegang tot dit het.
  • Maak nou reeds voetwerk daarvan om 'n geskikte tuiste vir jou geliefde versameling te kry die dag wanneer jy afsterf. "Ek sien so baie in gevalle van bestorwe boedels dat erfgename en veral kinders glad nie dieselfde sentiment of belangstelling het as die versamelaar nie. Vra jouself af "Wat gaan van my goed word wanneer ek die dag sterf?"

SPELETJIES VANDAG

CTA