Wêreldwyd word geglo dat 1,6 miljard mense 'n risiko vir skildklierafwykings het.
Een uit agt vroue sal 'n skildklierafwyking in hul leeftyd ontwikkel.
Dr. Darshni Naicker, die mediese direkteur van gesondheidsorg by Merck, sê hulle is daartoe verbind om bewustheid van skildklierafwykings te verhoog, wat dikwels oor die hoof gesien word omdat die simptome vir ander algemene toestande aangesien kan word.
"Ons wêreldwye bewustheidswebwerf, Thyroid Aware, wat die vroeë opsporing van 'n moontlike skildklierafwyking ondersteun, is in 25 lande beskikbaar en is meer as 10 miljoen keer in drie jaar besoek," sê Naicker.
"Om te wys hoe maklik hierdie tekens ongemerk kan bly, sluit vanjaar se bewustheidsveldtog die gebruik van KI-gegenereerde beelde in wat van die mees algemene simptome visualiseer, byvoorbeeld onverklaarbare gewigstoename, spysverteringsprobleme en oormatige moegheid, om maar 'n paar te noem. Kennis is die sleutel om mense te help om skildklierafwykings vroeg en effektief te identifiseer, te diagnoseer en te bestuur."
Daar is twee tipes funksionele skildklierafwykings: hipotireose, wat 'n onderaktiewe skildkliertoestand is; en hipertireose, wat 'n ooraktiewe skildkliertoestand is.
In Suid-Afrika sal 10% van mans en 16% van vroue tussen die ouderdom van 65 tot 74 jaar hipotireose ervaar, met daardie persentasie wat na die ouderdom van 74 toeneem.
"Jou skildklier mag dalk klein wees, maar dit speel 'n groot rol in jou gesondheid," sê dr. Ankia Coetzee, endokrinoloog in Kaapstad en voormalige president van die nasionale vereniging van endokrinologie, metabolisme en diabetes in Suid-Afrika (Semdsa).
"Hierdie vlindervormige klier in jou nek beheer jou metabolisme, energievlakke, liggaamstemperatuur en selfs jou bui.
"Wanneer dit nie behoorlik werk nie, kan die simptome stilweg insluip, en daarom verwys ons daarna as ‘die ontbrekende stukkie van die legkaart'."
Wat is hipotireose?
Hipotireose verwys na 'n onderaktiewe skildklier. Dit is 'n toestand waar die skildklier te min skildklierhormoon produseer, wat lei tot 'n verlangsaming in die liggaam se metabolisme.
Simptome sluit in moegheid, gewigstoename, sensitiwiteit vir koue, droë hare en vel, hardlywigheid, depressie, geheueprobleme, onreëlmatige menstruasieperiodes en lae libido.
'n Algemene oorsaak van hipotireose is Hasjimoto se tiroïditis, 'n outo-immuun-toestand waar die immuunstelsel die skildklier aanval, wat lei tot inflammasie en verminderde funksie.
Ander oorsake kan insluit:
- Omgewingsgifstowwe (chloor, kwik, lood);
- Stresvolle lewensgebeure;
- Genetiese faktore en toestande soos downsindroom;
- Sekere medikasie (bv. litium wat dikwels vir gemoedsversteurings gebruik word);
- Virale infeksies (soos klierkoors);
- Chirurgie aan die nek/skildklier; en
- Bestralingsterapie aan die kop of nek.
"Hipotireose word gewoonlik behandel met medikasie wat die hormoon vervang waarvan jou skildklier nie genoeg maak nie," sê Coetzee. "Dit is 'n effektiewe behandeling wat help om jou energie, bui en algemene gesondheid te herstel. Met die regte behandeling kan die meeste mense met hipotireose gesonde, aktiewe lewens lei."
Wat is hipertireose?
"Nog 'n skildklierversteuring is hipertireose, waar die skildklier te veel hormoon produseer, wat jou metabolisme versnel," sê Coetzee.
"Dit is algemeen by jonger vroue en loop dikwels in families, hoewel die presiese oorsaak nie altyd duidelik is nie."
Simptome sluit in 'n vinnige hartklop (dikwels meer as 100 slae per minuut), senuweeagtigheid, angs of prikkelbaarheid, gewigsverlies ten spyte van 'n normale of verhoogde eetlus, bewerige hande of spierswakheid in arms en dye, verhoogde sweet, spysverterings-, menstruasie-, vel- of haarprobleme en uitpeuloë (gekoppel aan Graves se siekte).
Hierdie simptome kan stadig opduik en as stres, veroudering of lewenstylverwant afgemaak word. Maar as hulle voortduur, moet hulle nie geïgnoreer word nie.
Hoe hierdie versteurings gediagnoseer word
Die diagnose van hipo- en hipertireose is eenvoudig. Gebaseer op jou simptome, kan jou dokter 'n bloedtoets aanvra om jou tiroïedstimulerende hormoon (TSH) na te gaan. As jou TSH buite die verwysingsreeks is, sal jou dokter 'n verdere bloedtoets aanvra om die behandeling vir jou te bevestig.
"Behandeling hang af van jou ouderdom, algemene gesondheid en hoe ernstig die toestand is," sê Coetzee.
As jy enige van hierdie simptome ervaar, is dit dalk tyd om jou skildklier na te gaan.
- Vir meer inligting besoek Thyroidaware.com.
GEBORG
Vacuhealth

Vacuhealth vier al vir 25 jaar die doeltreffendheid en gehalte van die Vacurect, hul vakuum-ereksieapparaat, as 'n behandeling vir erektiele disfunksie. Erektiele disfunksie is baie meer algemeen as wat die meeste mense dink, en deur nie hulp daarvoor te soek nie, rig baie mans skade aan hul belangrikste verhouding. Ereksieprobleme het dikwels 'n fisieke oorsaak, soos 'n besering, hoë bloeddruk, kanker, 'n radikale prostatektomie, diabetes, die newe-effekte van medikasie, of ouderdom. Vakuum-ereksieterapie of penisrehabilitasie is 'n natuurlike, veilige behandeling vir ereksieprobleme en kan deur alle mans gebruik word, ongeag die oorsaak van swak bloedsirkulasie na die penis. Die Vacurect is sonder 'n voorskrif beskikbaar en kan met vetroue gebruik word, aangesien dit min newe-effekte het en dit die mins ingrypende behandeling vir erektiele disfunksie is.
Vir meer inligting, skakel 072 688 0795.


















