’n Stapper is Saterdag op Leeukop gered nadat sy gegly en geval het. Sy herstel in die hospitaal.
Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het in ’n kort verklaring op sy Facebookblad gesê sy reddingspan, asook veldwagters van die Tafelberg Nasionale Park, is Saterdagoggend na Leeukop ontbied nadat ’n 28-jarige stapper gegly en beseer is op ’n los, sanderige gedeelte van die roete bokant die eerste leer.
Die stapper is op die toneel deur ’n paramedikus van die Wes-Kaapse EMS-nooddiens ondersoek en behandel voordat sy op ’n draagbaar gehelp is.
Sy is toe met behulp van die Cascade Rescue Company Terra Tamer-draagbaarwiel (stretcher wheel) na ’n wagtende voertuig gedra.
Luidens die verklaring is die stapper in ’n ambulans oorgelaai en na die hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Die voorval was om 13:29 afgehandel.
WSAR het stappers en hardlopers verder gewaarsku dat die Leeukop-roete op plekke los en glad kan wees en dat hulle ekstra versigtig teen die afdraande moet wees. WSAR het ook mense gemaan om gepaste skoene te dra en versigtig te wees naby blootgestelde dele van die roete.


















