Die Wildernis-soek-en-reddingspan (WSAR) moes Saterdag bontstaan om beseerde stappers op Leeukop en die Platteklip Gorge-staproete op Tafelberg te red.
Luidens ’n WSAR-verklaring is die span eerste na Leeukop ontbied nadat ’n 36-jarige stapper gegly en haar enkel beseer het. Sy was op pad teen die berg af.
’n Paramedikus verbonde aan die provinsiale departement van gesondheid en welstand het haar behandel. Sy is daarna teen die berg af gehelp en na ’n wagtende voertuig vergesel. Die voorval is om 14:22 afgehandel.
Later die middag moes die span hulle na die Platteklip Gorge op Tafelberg haas nadat ’n 25-jarige stapper geval het.
Reddingswerkers is met die kabelkar na die bopunt van die berg geneem en is van daar na die pasiënt. ’n Klein span is ook met ’n reddingshelikopter na die toneel geneem.
Nadat die stapper deur ’n paramedikus behandel is, is die jong vrou in ’n harnas vasgemaak en van die berg af gebring. Sy is toe per ambulans hospitaal toe. Die redding is kort ná 18:00 afgehandel.
Die WSAR sê hy ondervind ’n toename in oproepe namate die weer beter raak.
“Dit is bemoedigend om te sien dat soveel mense na die roetes terugkeer, maar ons doen ’n beroep op alle buitelug-entoesiaste om versigtig te wees,” sê David Nel, woordvoerder.

“Onlangse reën het sommige dele van die berg nat en glad gelaat, wat die risiko van gly en val verhoog.”
Nel vra dat stappers versigtig moet wees wanneer hulle staproetes aanpak en die WSAR-noodnommer, 021 937 0300, naby moet hou.

















