Die naam is Bond ... Albertus Gerhardus Bond

Albertus Gerhardus Janse van Rensburg, die vermeende Britse spioen wat in Rusland vasgetrek en uit die land geskop is. Foto: Verskaf
Albertus Gerhardus Janse van Rensburg, die vermeende Britse spioen wat in Rusland vasgetrek en uit die land geskop is. Foto: Verskaf (/Rapport Images)

Hierdie berig is aangepas nadat dit gepubliseer is.

Noem hom maar sommer Bond ... Boere-Bond.

’n Aantreklike Britse spioen met ’n eg Afrikaanse naam het die Russiese media die afgelope week op hol gehad, nadat Rusland se FSB hom afgeneem het terwyl hy soos ’n wafferse James Bond naby ’n hoëveiligheidsheid-installasie gaan ski het ... en nou aangesê is om die land binne twee weke te verlaat.

Albertus Gerhardus Janse van Rensburg is weke lank fyn dopgehou deur Russiese intelligensiedienste, wat hom onder meer met hul lang lense gekiek het terwyl hy bronne vir drankies ontmoet het. Dis onbekend of hy sy skemerkelkies shaken of stirred verkies het, en hoogs onwaarskynlik dat hy homself ooit met ’n “Janse van Rensburg ... Albertus Gerhardus Janse van Rensburg” aan mense voorgestel het. Maar nes Ian Fleming se superspioen het hy dit goed reggekry om mense se verbeelding aan te gryp.

Die 29-jarige Janse van Rensburg het gewerk as ’n amptenaar by die Britse ambassade in Moskou, maar volgens die FSB was hy eintlik ’n hoogs opgeleide spioen wat klandestiene operasies uitgevoer het onder die dekmantel van diplomatieke werk.

Niemand in die Britse regering, asook by die hoë kommissariaat in Suid-Afrika, wou hulle uitlaat oor Janse van Rensburg se herkoms nie. Dit lyk of dit net so ’n groot geheim is soos die vraag hoe hy in een van Brittanje se mees strategiese ambassades beland het. Hulle ontken ook dat hy ’n spioen is.

In Rapport se pogings om meer van die geheimsinnige Janse van Rensburg te wete te kom, is ’n enkele Suid-Afrikaner met presies dieselfde name op die maatskappyregister (CIPC) opgespoor.

Dié man van Brakpan was uit die veld geslaan en het aan Rapport gesê daar is geen verwantskap nie en nog minder James Bonds of Britte in sy familie.

Janse van Rensburg is die 16de Britse gesant wat in die laaste paar jaar uit Rusland geskop is, in wat deur kenners beskryf word as ’n oor-en-weer-vergeldingspeletjie tussen die twee lande. Moskou het ook vir Danae Dholakia, die Britse charge d’affairs, ontbied vir ’n uittrapsessie.

Van intelligensiebronne is verneem die kabaal wat die Russe oor die voorval opgeskop het, is eintlik meer ’n simboliese waarskuwing aan Londen as ’n werklike insident.

Pro-regeringskoerante soos Pravda het die “spioenasie” met groot fanfare uitgebasuin, saam met greinerige beeldmateriaal wat sy bewegings wys. Ook die FSB het mense gewaarsku om Britse diplomate tot elke prys te vermy om te keer dat hulle onder verdenking beland.

Die Britse departement van buitelandse sake het dit egter as “volslae onsin” bestempel en beskuldig die Russe daarvan dat hulle toenemend aggressiewe en gekoördineerde veldtogte gebruik om druk op Britse diplomate te plaas.

Paul Knott, wat 20 jaar gelede as tweede sekretaris in Moskou gedien het, het gewaarsku agtervolging en meeluistering is deel van ’n Britse diplomaat se lewe in Rusland.

Janse van Rensburg het intussen glo stilweg na Brittanje teruggekeer. Geen spoor of teken van die geheimsinnige operateur, sy lewe of sy agtergrond kon opgespoor word nie.

nuus@rapport.co.za

5094

SPELETJIES VANDAG

CTA