Die George-munisipaliteit moes Saterdagmiddag drie strande in dié streek gesluit weens gevaarlike seetoestande. Die munisipaliteit het teen 11:00 Sondag bevestig al die strande is weer oopgestel vir die publiek.
Heroldsbaai is die derde strand wat teen die middag gesluit was nadat Leentjiesklip en Victoriabaai omstreeks 12:00 vir die publiek gesluit is.
Luidens ’n verklaring het dié drie strande gevaarlike, onstuimige seetoestande ervaar en sterk seestrome wat gevaarlik vir lede van die publiek kon wees. Dit is veroorsaak deur ongunstige weersomstandighede.
“As ’n voorsorgmaatreël is die strande in die belang van openbare veiligheid tydelik gesluit,” lui die verklaring.
Inwoners en besoekers was gevra om nie by dié strande te swem totdat hulle weer as veilig geklassifiseer is nie.
“Die strand is gesluit weens gevaarlike strome en swemtoestande wat deur groot deinings veroorsaak is weens die sterk winde en slegte weer,” sê die munisipaliteit..
Luidens die weervoorspelling van die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal die wind Sondag sterk oos tot suidoos waai met die kwik wat tot ’n maksimum van 23 °C sal styg.




















