Aktueel

George-bouramp: Hand tussen bourommel gevind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Hand is Vrydag deur veiligheidspersoneel op die perseel gevind waar die bourommel van die ineengestorte woonstelblok in George gehou word.

Die polisie sê die hand is omstreeks 11:00 tussen die puin van die woonstelblok gevind.

Die woonstelblok in Victoriastraat het op 6 Mei ineengestort. 62 mense was ten tyde van die bouramp op die perseel en 34 is dood.

LEES OOK | Dodetal in George-bouramp nou 34 ná beseerde in hospitaal sterf

Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê ná navraag aan Netwerk24 daar is geen verdere lyke in George gevind nie.

Die polisie is wel Vrydag ontplooi na waar die bourommel van die ineengestorte gebou gehou word nadat 'n hand tussen die puin ontdek is.

"Die menslike oorskot is herwin en na die polisie se laboratorium gestuur vir forensiese ontleding in 'n poging om die oorsprong te bepaal en of dit verbind kan word met 'n slagoffer wat tydens die soek-en-reddingsoperasie gered is," sê Spies.

'n Foto geneem deur 'n hommeltuig van die terrein in Victoriastraat, George, 48 uur nadat die gebou ineengestort het. Foto: George-munisipaliteit
'n Foto geneem deur 'n hommeltuig van die terrein in Victoriastraat, George, 48 uur nadat die gebou ineengestort het. Foto: George-munisipaliteit

Spies beklemtoon die bourommel-perseel is nie op dieselfde plek waar die voorval gebeur het nie. Hy het egter nie gesê waar die bourommel gehou word nie.

Nadat alle reddings- en herwinningswerk voltooi en die bourommel verwyder is, het die Wes-Kaapse regering die perseel in Victoriastraat waar die onvoltooide woonstelgebou inmekaargetuimel het, op 17 Mei amptelik aan die polisie oorhandig.

Daar is ook bekend gemaak dat 62 mense op die perseel was tydens die voorval en nie 81 soos voorheen geraam is nie.

Die bouperseel is intussen afgesper met 'n heining en groen skadunet om lede van die publiek uit te hou. Victoriastraat is ook weer van die hoek van Yorkstraat af vir verkeer oopgestel.

Die oorledenes sluit in Suid-Afrikaners, Malawiërs, Mosambiekers, Zimbabwiërs en mense van Lesotho. Avbob se tak in George staan die families by.

'n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en volgens die Wes-Kaapse polisiebestuur hanteer 'n ervare speurspan die ondersoek.

Die perseel sal ná die polisieondersoek aan die departement van arbeid oorhandig word vir hul ondersoek.

Volgens die Wes-Kaapse regering het meer as 1 000 reddings-, ondersteunings- en vrywillige werkers sedert die ramp op die terrein gewerk. Meer as 6 000 ton rommel is verwyder terwyl reddingswerkers na oorlewendes gesoek het. Die operasie het 260 uur geduur.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM