"My hand maak van my wie ek is, en al is ek soms skaam daaroor, het ek al lankal besluit om vol selfvertroue te wees en dit as my motivering te gebruik om ander te inspireer."
Só vertel Uzaan du Toit wat verlede jaar met twee onderskeidings (in Afrikaans eerste addisionele taal en wiskundige geletterdheid) aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer het. Uzaan is gebore met radiale displasie in haar regterarm. Dit het veroorsaak dat haar arm baie korter is, haar hand is ingebuig en sy het net beperkte gebruik van haar vingers. Dit is 'n anomalie van die boonste ledemate wat slegs in een uit 100 000 geboortes voorkom.

Uzaan is egter propvol vasberadenheid, selfversekerdheid en toewyding om die beste van elke geleentheid te maak. Sy beskou haarself as "differently-abled" en nie "disabled" nie. Sy het in haar matriekjaar tweede span netbal gespeel, en het ook in haar skooljare aan hokkie, krieket, atletiek en tennis deelgeneem. "Netbal is my gunsteling-sport; ek geniet die spanwerk. Aanvanklik was my spanmaats maar skrikkerig om vir my die bal te gooi, maar hulle het gou agtergekom ek kan dit hanteer!" lag sy.
In Maart verlede jaar het sy twee "Speler van die Wedstryd"-pryse gekry tydens 'n toernooi by die Hoërskool Middelburg.
Uzaan blink nie net uit op die sportveld nie - in gr. 10 het sy deelgeneem aan die mej. Monnas-kompetisie en is as eerste prinses gekroon. Sy was ook verlede jaar deel van die matriekraad.
Boonop het sy nie 'n bang haar op haar kop nie en wou sy met alle mag gaan reksprong vir haar 18de verjaarsdag."Ek het dit terdeë geniet, en nou is valskermspring op my wenslys!"
Sy het ook as vrywilliger gewerk by Pathways, 'n tehuis in Roodepoort vir gestremde kinders. "Dit is vir my belangrik om aan ander kinders met gestremdhede te wys dit hoef hulle nie terug te hou nie. Daar is kinders vir wie die lewe soveel erger is as vir my, en dit is vir my fantasties om tyd saam met hulle deur te bring en vir hulle te wys hulle is nie alleen nie."
Uzaan beplan om vanjaar onderwys te studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. "Ek hoop dat ek met my kwalifikasie eendag oorsee kan gaan en in 'n interessante land soos Italië kan gaan Engels gee."
















